***********************************
LYS 1 - DIE STAMOUERS
***********************************
Uit die familieboek DIE OLLIES. Inligting ingewin 1994-1996

STAMVADER


a. DETLEF CHRISTIAN OL(DE)WAGE, gebore c. 1748,
van die dorpie Barver, voorheen in die graafskap Diepholz, tans in die "kring'' of distrik Diepholz, Duitsland.
Barver (tans sowat 1300 inwoners) lê sowat 70 km suid van Bremen en ongeveer 15 km oos van Diepholz in die huidige Duitse deelstaat Nedersakse in Noordwes-Duitsland. Daar is vandag nog 'n voordorp met die naam Oldewage sowat 3 km wes van Barver, waar steeds mense met die van Oldewage woon.
DCO kom as matroos Kaap toe in diens van die Nederlandse Vereenigde Oost-Indische Compagnie (en gee sy plek van herkoms vir die VOC aan as "Diffout'' -- 'n ou naam vir Diepholz).
Hy trou op 3 April 1796 in Kaapstad met Anna Margaretha Henn. By die troue gee hy sy plek van herkoms aan as "Barber'' (lees Barver).
Die egpaar vestig hulle in die Westelike Overberg (Caledon-omgewing), volgens alle aanduidings metterwoon in of by die "Olewagenskloof'' te Papiesvlei. Daar bevind hulle hulle in die wyk van veldkornet van Uilenkraal -- die Uilenskraalrivier vloei in daardie geweste.
Detlef Christian, wat volgens alle aanduidings Christiaan of dan wel "Krisjan" genoem is, sterf c. 1825.

STAMMOEDER

ANNA MARGARETHA HENN, geboortedatum onbekend, maar gedoop te Kaapstad op 19 April 1778. Sy was die dogter van Michael Henn (of Hern) en ene Christina. Haar pa was ook 'n matroos in diens van die Kompanjie (VOC), maar hy word 'n burger en 'n wamaker en woon in 1784 te Baardskeerdersbos.
Anna, veel jonger as DCO, skenk vir hom tot in haar veertigerjare die lewe aan dertien kinders - ses seuns en sewe dogters.
Sterfdatum onbekend, maar ons weet dat sy minstens tagtig jaar oud geword het.

Hier, met jaartalle daarby, is die stamouers se verhaal in 'n neutedop:

1762
In 1762 verskyn die volgende registrasie van konfirmasie (aanneming) in n kerkboek van die Evangelies Lutherse Kerk te Barver: ``Detlef Ohlwage'' (geeneen van die gekonfirmeerdes se tweede voorname word genoem nie). Volgens die kerkgebruik moet hy toe omtrent veertien gewees het. Doopinskrywing nog nie gevind nie.

1773-1790
DCO vaar in 1773 met die Borselen na SA. Werk aan Kaap in diens van die VOC. Naam verskyn jaar ná  jaar in die ''Generale Monster Rollen'' van Kompanjiesdienare aan die Kaap tot 1783. Daarna nie weer nie. Dit het genealoë soos De Villiers en Pama waarskynlik tot die gevolgtrekking laat kom dat hy in 1783 uit die diens getree het. Volgens die skeepsoldyboek in die Rijksargief in Den Haag, Nederland, ontvang hy egter nog soldy in die Kompanjie se diens tot 1790. Was hy dus 'n tyd lank uit die Kaap uit weg om, sê maar, in die Ooste te werk? Ons kan maar net gis.

1796
Sy bewegings in die ses jaar tot sy troue in 1796, asook in die vier jaar daarna is eweneens grotendeels onbekend. Die jaarlikse lyste van belastingpligtiges het nie oral behoue gebly nie, en dit maak die taak van die navorser des te moeiliker.
Maar dit lyk heel waarskynlik dat DCO en Anna Margaretha in die beginjare van hul huwelik wel reeds in die Westelike Overberg (latere Caledon-omgewing) gewoon het.

1798
'n Brokkie getuienis dat DCO hom in 1798 al permanent in die Overberg bevind het, vind ons immers in die latere testament van sy destyds gebore seun, Hendrik (Johannes Hendrik Cloete O.). Daarin word verklaar dat Hendrik se geboorteplek in die omgewing van Caledon was (al weet ons hy is in Kaapstad gedoop).

1800
In 1800 vind ons besliste getuienis in behoue geblewe opgaafrolle dat DCO en Anna Margaretha inderdaad (nie meer) permanente, belastingpligte inwoners van Kaapstad is nie, al laat doop hulle in die beginjare van hul huwelik nog hul eerste kinders in die Moederstad.

1801-1802
Die behoue geblewe opgaafrolle van al die ''onder afgeschreevene gagie gestelde Compagnies Dienaaren'' (uitgetrede Kompanjiesdienare) wat hulle in 1801, 1802 in die distrik Stellenbosch bevind, bevat ook die inskrywing van ``Ditloff Christiaan Olwagen'' (een van die vele spellings).
Maar die distrik Stellenbosch is nog baie groot, en die benaming ``burger van Stellenbosch'' natuurlik misleidend. DCO en Anna woon na alle waarskynlikheid nou by, of ten minste naby aan, haar familie van Baardskeerdersbos se wêreld.
Wat die kerkopset aanbetref, moet hulle eintlik lidmate van die gemeente Swellendam wees (wat in 1798 van Stellenbosch afgestig het). Daar word egter vertel dat die pad na Swellendam se kerk so onbegaanbaar was dat van die boere van die Westelike Overberg net een keer per jaar by die kerk uitgekom het.
DCO en Anna laat doop wel van twee hul dogtertjies in die gemeente Swellendam . . . dalk ook net omdat dié moontlik sieklik was en die ouers hulle gou gedoop wou kry voor hulle sterf.

1804-1806
In die winter van 1804 word 'n dogter vir ons stamouers in die ''Papiesvalij'' (waar die nedersetting Papiesvlei vandag is) gebore -- besliste getuienis van hul aanwesigheid in die Strandveld-streek van die Overberg.
Maar die gedagte aan ontberings om met klein kindertjies by die kerk uit te kom, moet die rede wees waarom die egpaar eers in Maart 1806 vir die doopplegtigheid arriveer by hul ou bekende kerk: Kaapstad.
Dit sou egter hul laaste Kaapstadse kinderdoop wees. Onderaan die inskrywing in die doopregister het die predikant, skriba of wie ook al bygevoeg: "Sorteerd onder Stellenbosch".
Anna was terloops al weer 'n tydjie swanger toe hul die vermoeiende tog Kaap toe aangepak vir die vorige kind se doop. 'n Seun is in Augustus 1806 vir hulle gebore.
Van toe af, al moet hulle tegnies lidmate van Swellendam gewees het, laat doop DCO en Anna 'n tweetal kinders in Stellenbosch, wat na alle waarskynlikheid vir hulle makliker bereikbaar was as Swellendam, al moes hulle ook nog die hoë berge oor.

1807-1810
Hulle woon steeds in die Strandveld van die Caledon-distrik woon: in 1807 op die plaas ''Modderrivier'' en in 1810 nog altyd iewers in dié streek. Dié inligting kom uit die Stellenbosse doopregisters. Dit was nie altyd gebruiklik dat die ouers se woonplekke in die registers aangeteken is nie, maar met 'n paar van ons stamouers se kinders is dit tog gedoen, en die gegewens is vir ons baie nuttig.

1811
In 1811 stig die gemeente Caledon af van Swellendam -- en oplaas het DCO en Anna dit veel makliker met die kinderdopery. In die kerk aan die ''Kleine Zwarte Berg'' verbind hulle hulle tot 'n Christelike opvoeding van hul laaste vyf kinders.

1812
Die eerste dogter wat vir die egpaar in hul nuwe gemeente gedoop word, ontvang -- as ons berekenninge korrek is -- die sakrament nie in 'n kerk nie, maar in 'n wynkelder (Maart 1812). In die eerste jaar of twee het die nuwe gemeente Caledon nog geen kerkgebou of pastorie nie, en ds. M.C. de Vos neem sy intrek in 'n boerehuis en verander die wynkelder in 'n voorlopige kerkgebou.

1813
Geen plaasname kon meer by sy kinders se doopinskrywings of by die veldkornette se opgawes van sy inkomste gevind word nie, maar dit lyk of DCO gevestig bly daar in die Strandveld -- in die veldkornetskapswyk Uylencraal of Uilenkraal, en wel in of by die klofie te Papiesvlei wat vandag nog in daardie wêrelddeel die ''Olewagenskloof'' genoem word (vandag op die plaas van mnr. Piet van Dyk).
DCO se oudste seun, Jan of Johannes Daniel (''Jan''), boer in 1813 as sowat sewentienjarige reeds onafhanklik van sy pa in die naburige wyk Karsrivier.

1816
DCO verklaar vir belastingdoeleindes 'n wa- en ryperd, twee aanteelperde, ses trekosse, sestien aanteelskape en tien bokke aan Uilenkraal se veldkornet Daniel Louw. Aan vandag se standaarde gemeet, is dit geen aansienlike rykdom nie, maar in die pioniersomstandighede was dit geen onaansienlike kuddetjie nie. Hy het beslis nie stilgesit nie, maar vooruitgeboer.
As ons trouens later na die suksesverhale van DCO se nasate kyk, weet ons dat dit in groot mate aan deelboere soos hulle te danke was dat die Overberg so 'n welvarende streek geword het.

1817
DCO se seun Hendrik (Joh. Hendrik Cloete O.) is nou ook belastingpligtig en verklaar een aanteelperd aan die veldkornet. Om as jong kêrel destyds 'n eie perd te kon hê, kan vergelyk word met vandag se jong man wat sy eerste motor ontvang.

1824
DCO word 'n ''rustende boer'', soos ons vandag sou sê. Die veldkornet van die wyk Uilenkraal laat weet aan die owerheid dat hy 'n gevorderde leeftyd bereik het en nie meer belastingpligtig is nie.

1825
Die jaar 1825 was moontlik DCO se sterfjaar. Doderegisters van die kerk is ongelukkig vernietig, maar uit verskillende gegewens lei ons af dat hy omstreeks dié tyd moet gesterf het.

1885
In 1858 verskyn Anna Margaretha se naam waarskynlik vir die laaste keer in 'n behoue geblewe kerklike geskrif. Sy was toe al tagtig. Dit is nie bekend wanneer en waar sy oorlede is nie, maar haar sterfplek was bes moontlik Villiersdorp of die distrik. Die familiekern het ná DCO se dood mettertyd vanuit die wyk Uilenkraal na Villiersdorp se wêreld verskuif, steeds in die Westelike Overberg. Uit hierdie streek vertak die familie dan oor Suid-Afrika, ofskoon sekeres ook daar agterbly.


Om terug te keer na INHOUDSOPGAWE klik hier


© 2000 G Olwagen Posbus 4144 Old Oak 7537
dugeot@iafrica.com