***********************************
LYS 2 - DIE STAMOUERS
EN HUL 13 KINDERS
(6 SEUNS, 7 DOGTERS)

***********************************

a. DIE STAMVADER DETLEF CHRISTIAN OL(DE)WAGE van Barver naby Diepholz in Nedersakse Noordwes-Duitsland. X DIE STAMMOEDER ANNA MARGARETHA HENN.
KYK LYS NOMMER 1 VIR BESONDERHEDE.

b1. JAN DANIEL (doopnaam),
maar in amptelike geskrifte meer dikwels aangedui as JOHANNES DANIEL
(die deelteken op die e in Daniel ontbreek deurgaans in die ou registers).
Geboortedatum onbekend, in gemeente Kaapstad gedoop op 3 April 1796. Sekere van sy eie nasate en ander familielede erf sowel die name Johannes Daniël as Jan Daniël, maar eersgenoemde is die volopste. Ons kan egter met sekerheid sê dat sy eie roepnaam Jan was.
Sy pa word in die doopregister aangedui as Christiaan Olwage (sonder die voornaam Detlef; Christiaan was immers dié se roepnaam) en sy ma as Anna Margaretha Hen (met een n). Sy doopgetuies was ene Johan George Siems en Daniel Rummer -- mense met vreemde vanne wat dalk vriende of weldoeners van Jan se ouers kon gewees het.
Aangesien sy grootouers aan vaderskant nie aan ons bekend is nie, is dit ook (nog) nie moontlik om te sê of Jan (Johannes) as oudste kind volgens die tradisionele Afrikaanse naamgewingspatroon na sy oupa in Duitsland genoem is of nie. Waarskynlik nie.
Dit lyk immers nie of sy immigrant-vader die naamgewingspatroon konsekwent by sy ander kinders toepas nie (waar die oudste seun bv. genoem is na die oupa aan vaderskant, die naasoudste seun die oupa aan moederskant se name gekry het en die derde seun na die pa genoem is). Meer navorsing is egter hier nodig.
Jan Daniel se ouers se woonplek tydens sy geboorte is eweneens onseker, maar dit was bes moontlik iewers in die Westelike Overberg, wat ons vandag as die omstreke van Caledon ken. Miskien was dit nog by sy ma Anna se pa-hulle op Baardskeerdersbos. Daarna is sy ouers waarskynlik met die suigeling oor die berge vir die doop in Kaapstad.
Jan word gou groot en werk in 1813 reeds as landbouer onafhanklik van sy pa in die Overberg -- hy in die wyk van die veldkornet van die Karsrivier en pa Detlef Christian in die wyk Uilenkraal, albei in die Caledon-omgewing, oos van die huidige Stanford.
Jan trou op 2 Des. 1820 in die gemeente Paarl met CATHARINA JOHANNA NIEMAND. Vyf seuns (geen dogters nie) is in die doopregisters van Caledon en Worcester gevind. Ons tref die egpaar aan by Villiersdorp en iewers in Worcester se uitgebreide distrik.
Dit lyk of minstens vier van hul vyf seuns mettertyd verhuis -- na die distrikte Willowmore, Aberdeen en Victoria-Wes, en na die Kimberleyse diamantveld. Veral twee van die seuns word met 'n heel groterige nageslag geseën. So was daar die vierde seun en Victoria-Wester, Hendrik Johannes, wat agttien kinders gehad het by twee vroue (drie kinders jonk dood).
In skerp teenstelling daarmee, lyk dit, is die lot van die derde seun, Daniel Johannes. Net een kind, 'n dogtertjie, van hom kon te Villiersdorp opgespoor word (gedoop in die gemeente Franschhoek). Wat van Daniel Johannes geword het, weet ons nie, maar sy weduwee is in die Tweede Vryheidsoorlog in die Norvalspontse konsentrasiekamp oorlede.
Twee seuns van Jan en Catherina trou met hul niggies -- dogters van Jan se suster Anna Juliana. Afstammelinge in hierdie vertakkings het dus 'n dubbele dosis Ollie-bloed.
Die Afrikaaanse naamgewingspatroon is uiters nuttig om stamlyne te volg, maar dit het ook sy nadele. So is daar in Jan se vertakking soveel Jan (Johannes) Daniels gegenereer dat dit baie kophou kos om hulle nie met mekaar te verwar nie. Selfs Jan en sy eie seun Daniel Johannes (doopnaam), meer dikwels egter ook aangedui as Johannes Daniel, is partykeer nie van mekaar te onderskei in die nagelate geskrifte nie.
In 1849 skryf ene Jan Daniel Olwage byvoorbeeld 'n brief aan die Kaapse Goewerneur waarin hy versoek dat 'n sekere stuk grond in Villiersdorp te koop aangebied word en nie toegewys moet word aan die bewoner van die betrokke plek nie. Presies waaroor dit gegaan het, weet ons nie, maar so 'n brief getuig tog van iemand wat bereid was om sy saak onomwonde te stel -- selfs aan die hoogste gesag as dit dan nou moes. Maar ons kan nie sê of die skrywer Jan senior of Jan junior was nie.
Jan en Catharina se sterfdatums is nie opgespoor nie. Ons kon vasstel dat albei in Mei 1860 nog gelewe het, want hulle was toe in die gemeente Worcester doopgetuies vir klein Christiaan Daniel, oudste kind van Jan se boetie Jan Frederik. Hulle kon egter selfs jare daarna steeds gelewe het, ons weet nie. Wat ons ook nie weet nie, is waarom daar ná  1933 en 'n huwelik van dertien jaar geen (ten minste gedoopte) kinders meer vir Jan en Catharina gebore is nie.
Volgens 'n familiebron (wyle oom Chris Olwage van Groblersdal, gebore 1910) lê die egpaar langs mekaar begrawe op die plaas Dovefontein tussen Victoria-Wes en Richmond. Daar bestaan selfs 'n baie dowwe foto van die twee -- sover bekend die enigste behoue foto van 'n kind van die stamvader.
/ DR.: OLWAGE. / TR.: OLWAGEN (sic).
[D/T/J/AA/F]


b2. JOHANNES HENDRIK CLOETE, veel meer dikwels aangedui as HENDRIK JOHANNES, geboortedatum en geboorteplek onbekend, maar bes moontlik gebore iewers in die Westelike Overberg -- die geboorteplek word immers as die omgewing van Caledon aangedui in sy en sy eerste vrou se gesamentlike testament.
Gedoop te Kaapstad op 7 Jan. 1798 (geboortedatum nie in doopregister verstrek nie). Sy een doopgetuie was ene Hendrik Cloete Napier (of so iets, die laaste naam is onduidelik). Was dié dalk 'n Cloete-vriend of -weldoener van sy pa wat by Napier gewoon het, het ons aanvanklik gewonder. Nee, dit kon ook nie wees nie: die dorp Napier is eers in 1838 gestig!
Johannes Hendrik Cloete is duidelik bewus van sy een doopnaam Cloete (sy voorletters word selfs 'n slag in 'n belastingopgawe as J.H.C. aangegee), maar hy ignoreer of negeer die ''Cloete'' feitlik deurentyd en ruil sy ander voorname Johannes en Hendrik om.
Sy roepnaam was dan ook ongetwyfeld Hendrik.
Hy boer eers in die Caledon-omgewing op die plaas Springerskuil in die Rûens anderkant die Strandveld in rigting van Riviersonderend. Springerskuil was die leningsplaas van sy skoonpa, Jacobus Nicolaas Swart, wat die plaas blykbaar by sy dood nalaat aan sy seuns, Jacobus Nicolaas en Johannes Wilhelmus Swart, en sy skoonseun Hendrik.
Uit karige inligting word die afleiding gemaak dat dit veral Hendrik is wat sy eie pa en ma en jonger sussies en boeties bystaan in sy pa Detlef Christian se laaste dae, want hulle woon toe almal in die veldkornetswyk Uilenkraal (of Uylencraal).
Hendrik se spore lei naderhand, met sy tweede huwelik, na die plase Zeekoekraal en Radyn, Villiersdorp, vermoedelik nie meer as 'n grondbesitter nie, maar as 'n deelboer.
Hendrik en die ander ouer kinders van sy ouers kon nie veel formele skoling gehad het daar in die ruwe pioniersdae nie. (Dink daaraan dat 'n tydgenoot soos Paul Kruger glo maar self net drie maande skool gehad het.) Maar Hendrik was duidelik een van die kleurrykste persoonlikhede van die Olies se b-geslag.
Dat hy ook die Christelike waardes hoog geag het, blyk uit die gesamentlike testament wat voor sy eerste vrou se dood opgestel is, waarin die langslewende ouer verbind word tot 'n Christelike opvoeding van hul kinders.
Hy trou op 14 Okt. 1821 te Caledon met CORNELIA ISABELLA SWART, dogter van Jacobus Nicolaas Swart en Susanna (nooiensvan nie vasgestel nie).
Cornelia is gebore in die distrik Swellendam, en sterf op die plaas Springerskuil op 12 Des. 1847. Haar sterfkennis dui haar ouderdom by haar dood aan as 35, maar dis stellig foutief, want sy kon tog nie tien gewees het toe haar oudste kind gebore is nie! Sy het vir Hendrik die lewe aan nege gedoopte kinders geskenk, maar twee van hulle is volgens alle aanduidings klein oorlede.
Hendrik trou op 17 April 1848 weer te Caledon met die ''jonge dochter'' JOHANNA ADRIANA MATTHEE, moontlik Hanna genoem, net omtrent vier maande ná Cornelia se dood. Hy het nog agt gedoopte kinders by Johanna. Hendrik was bepaald die teelkragtigste van die Ollie-seuns van die tweede geslag.
Die datum van Hendrik se dood is nog vir hierdie navorsers onbekend, maar dit was beslis tussen 1865 en 1873.
Johanna Matthee hertrou in 1873 as 38-jarige weduwee te Villiersdorp met die wewenaar Christiaan Frederik Niemand (58 jaar). As haar ouderdom hier korrek is, moet sy dus met ''ou man'' Hendrik getrou het toe sy net omtrent 14 was.
Van Hendrik se seuns bly agter in die Boland en Overberg (in die Caledon-omgewing en die distrik Worcester); ander verhuis na Dutoitspan (vandag Beaconsfield, Kimberley), sentrum van die vroeë diamantdelwerye, asook na die distrik Hay (Griekwastad se wêreld), na Cathcart-Wes (later hernoem tot Klein Boetsap nog later tot Reivilo) en selfs na Boshof in die Vrystaat.
/ DR.: OLWAGEN. / TR.(1): OLWA (sic). / TR.(2): OLDERWAGEN (sic).
[D/Tx2/J/AA]

b3. ALIDA JACOBA,
geboortedatum en -plek onbekend, bes moontlik iewers in die Westelike Overberg, gedoop te Kaapstad op 14 Okt. 1798.
As jong meisie alte danig met die jong man Carel Gewelaar daar in Caledon se geweste, maar hulle kom nie tot trou nie. Sy trou wel op 15 Okt. 1820 in die jong gemeente Caledon met CAREL WILLEM PETRUS (of Pieter) MOLLER. Sy oorleef hom.
Op 26 April 1848 trou die weduwee Alida weer, dié slag in die gemeente Worcester met EDWARD BRUNSE CARR, 'n ``bachelor'' van Britse herkoms. Albei se ''residence at the time of marriage'' was die ''Bosjesveld, district of Worcester''.
'n Goeie voorbeeld van die Babelse verwarring in die spelling van die familienaam: sy is gedoop as OLWAGEN, maar sy trou met Moller as OLLEWAGEN en met Carr as OLDEWAGE. Wanneer sy tydens die leraar se ''huisbezoeking in de Bosjesveld'', Worcester-gemeente, op 6 Feb. 1842 'n dogterjie laat doop, word haar (nooiens)van ook as OLDEWAGE aangegee. Maar op 25 Des. 1842 is sy as Alida Jacoba OLDERWAGEN weer 'n getuie by 'n Niemand-dogter se doop!
Omdat slegs die stamlyne van die seuns vir ons geslagsregister gevolg word (almal wat die familienaam OL***WAGE* voortdra), het ons nie Alida Jacoba se getal kinders en verdere nageslag nagevors nie.
DR.: OLWAGEN. / TR. (1): OLLEWAGEN. / TR. (2): OLDEWAGE.
[D/Tx2/AA]

b4. CHRISTINA CATHARINA MARGRITHA, * onbekend, = Swellendam 28 Jan. 1801. Nie voorheen in genealogiese lyste aangedui nie. Duidelik genoem na haar ouma aan moederskant.
Dit is 'n ope vraag waarom Christinatjie en sussie b5 Rachel in Swellendam laat doop is en nie in Kaapstad soos hul broers en suster voor en ná hulle nie.
Die enigste waarskynlike latere vermelding van haar wat gevind kon word: ``Christina Catherina Olwagen'' is op 30 Jan. 1820 'n doopgetuie van kleinboet Pieter Johannes.
Omdat slegs die stamlyne van die seuns vir ons geslagsregister gevolg word (almal wat die familienaam OL***WAGE* voortdra), het ons nie op Christina se lewensloop ingegaan nie. As sy egter wel tot volwassenheid bly lewe het, kan ons feitlik vir seker sê dat sy nooit getrou het nie.
/ DR.: OLWAGE.[D/AA]

b5. RACHEL DOROTHEA, geboortedatum onbekend, gedoop te Swellendam op 12 Sept. 1802. Nog nie voorheen in genealogiese lyste aangedui nie. Waarskynlik klein oorlede. Geen verdere vermeldings gevind nie.
/ DR.: OLDERWAL (sic). [D]

b6. ANNA MARGARETHA, gebore te Papiesvlei op 23 Junie 1804, gedoop te Kaapstad op 16 Maart 1806, met 'n ekstra inskrywing in doopregister ``sorteert onder Stellenbosch'' (die distrik Stellenbosch le toe nog baie uitgestrek oor die Boland en die Overberg).
Anna Margaretha trou op 9 Maart 1823 in die gemeente Swellendam met die jong man JAN FREDERIK BREDENKAMP. Hy was blykbaar self 'n gebore Overberger, gedoop te Swellendam op 23 Jan. 1801.
Anna Margaretha sterf egter in haar fleur op 27 Junie 1842. Jan Frederik Bredenkamp trou weer en wel op 27 Mei 1844 te Caledon met Elizabeth Johanna Fabritius (wat op 24 Nov. 1895 oorlede is).
Jan Frederik sterf op 8 Oktober 1871 of 1872 te Caledon. Hy het 13 kinders gehad, maar ons het nie nagevors hoeveel elk by sy twee vroue nie. Omdat slegs die stamlyne van die seuns vir ons geslagsregister gevolg word (almal wat die familienaam OL***WAGE* voortdra), het ons immers nie verder op Anna Margaretha se lewensloop ingegaan nie.
/ DR.: OLWAGEN. / TR.: OLWAGEN.
[D/T/AA]

b7. DETLEF CHRISTIAAN ook aangedui as CHRISTIAAN DETLEF,
werklike spelling van sy name en van in doopregister: DITLIJF CHRISTIAAN OLWAG (sic).
Hy word te ``Modderrivier'' in die Strandveld van die Caledon-distrik gebore en wel op 15 Aug. 1906. As 'n mens vandag van Stanford af ry en die grondpad na Papiesvlei neem, kry jy  so 'n aantal kilometer op die grondpad die plaas aan jou regterkant. Sy doop vind op 6 Des. 1807 in die Stellenbosse gemeente plaas.
Hy trou op 10 Mei 1835 te Caledon met RACHEL DOROTHEA RAATS. Hulle vestig hulle te ``Noordekloof'' in die Caledon-omgewing, waarna hul spore na Robertson en die gemeentes Franschhoek en Villiersdorp lei.
Uiteindelik word Detlef Christiaan die jongere die enigste van die Ollie-seuns van die tweede geslag wat inderdaad ``over de grenzen'' van die Kaapkolonie uitwyk -- nie as Voortrekker nie, maar as landsverhuiser 'n aantal jare na  die Groot Trek.
Hy gaan vestig hom in die Vrystaat in die distrik Ladybrand, waar hy sy vrou, Rachel, oorleef en in Aug. 1898 as hoogbejaarde 'n dag of tien voor sy 92ste verjaardag sterf. Die egpaar het elf gedoopte kinders gehad -- sewe seuns en vier dogters -- van wie twee seuns en 'n dogter stellig klein oorlede is.
Een van sy seuns erf blykbaar sy pa se treklus, want hy word lid van die Martin-trek wat na Rhodesie (Zimbabwe) uitwyk en hulle by Melsetter vestig. Hierdie seun word die stamvader van 'n hele geslag van Rhodesiese Ollies.
Ander nasate van Detlef Christiaan die jongere skiet wortel by Wolmaransstad/Leeudoringstad, Bethlehem, Kimberley en ook Robertson/Swellendam.
/ DR.: OLWAG (sic). / TR.: OLWAGE. / SK.: OLWAGE.
[D/T/S.e/J/AA/F]

b8. JOHANNES MICHIEL,
werklike spelling van sy name en van in doopregister: JOHANNIS MICHIEL OLTWAA (sic).
Hy word gebore in die Strandveld by Stanford in die Caledon-omgewing op 16 Maart 1810, en word op 7 Okt. 1810 in die gemeente Stellenbosch gedoop.
Johannes Michiel trou te Worcester en wel op 4 Junie 1837 met MARIA CHRISTINA OPPERMAN. Sy is omstreeks 1814 in die Tarka gebore as die dogter van Christiaan Opperman en Anna le Roux.
Slegs twee gedoopte kinders van die egpaar is opgespoor: 'n seun wat later by Beaufort-Wes geboer het en 'n dogter wat waarskynlik klein oorlede is.
Johannes Michiel oorleef sy vrou, wat volgens haar sterfkennis op 4 Sept. 1890 as ``farmer's wife'' in hul huis te Prins Albert in ouderdom van 76 jaar oorlede is.
Hy onderteken haar sterfkennis in 'n netjiese, stabiele handskrif, al was hy toe natuurlik al bejaard. Sy eie sterfplek en -datum is nog aan ons onbekend.
/ DR.: OLTWAA (sic) / Haar SK.: OLWAGE.
[D/T/AA/S.v]

b9. ANNA JULIANA, gebore op 14 Jan. 1812, gedoop te Caledon op 14 Maart 1812. Nog nie voorheen in genealogiese lyste aangedui nie, stellig aangesien die gevierde familienavorser De Villiers se navorsing net tot omstreeks 1810 gestrek het en Anna Juliana daarna gebore is.
Werklike spelling van name en van in die Caledonse doopregister: ANNA JULIYANA OLWAA (sic). Een van haar doopgetuies is ene Anna Juliyana Schrijber, maar dit is nie aan ons bekend wie di‚ persoon was nie.
Anna Juliana trou op 9 Sept. 1832 te Caledon met DANIEL FRANCOIS BARNARD, gebore omstreeks 1780 te Brabant (aanvanklik 'n Nederlands/Belgiese hertogdom), as die seun van Pieter Barnard en Maria Boyard.
D.F. Barnard het nog in 1815 in die Slag by Waterloo onder die kleure van Napoleon teen die Engelse geveg voordat hy die pad na Suid-Afrika aangepak het. Hy sterf op 10 Jan. 1865 te Villiersdorp en word deur Anna Juliana oorleef. Wanneer sy self oorlede is, is nie bekend nie, maar ons het wel die graf van 'n geliefde ``ou moeder'' Anna Juliana Barnard op Villiersdorp gevind wat heel vroeg in die twintigste eeu oorlede is. Haar geboortejaar op die grafsteen (iewers in die 1820's) strook nou wel nie met ons Anna s'n nie, maar 'n mens kan wel vra of daar dan destyds twee tydgenote met presies dieselfde name by Villiersdorp sou gewees het.
Anna Juliana was haar Barnard-man se tweede vrou. Met die eerste, Sara Johanna Pieterse, het hy op 4 Mei 1817 te Caledon getrou en hulle het vyf kinders gehad.
Anna Juliana en D.F. Barnard het daarna tien kinders gehad, van wie die eerste en derde dogters met seuns van b1 Jan Daniel getrou het. Afstammelinge in hierdie vertakking is dus as 't ware dubbele Ollies!

BELANGRIK VIR NAVORSERS WAT VERDER IN DIE FAMILIEGESKIEDENIS WIL SNUFFEL: Daar is twee kardinale vergissings in SA Geslagsregisters van Heese & Lombard by D.F. Barnard se inskrywings: (1) Anna Juliana word foutiewelik aangedui as Anna Johanna, (2) dogter Anna Margaretha Barnard trou met verkeerde Olwagen. Het gekontroleer en gevind dat die twee huwelike op dieselfde dag plaasgevind het, vandaar die verwarring.
/ DR.: OLWAA (sic). / LR.: OLWA.
[D/T/AA/L/F/Villiersdorp-begraafplaas]

b10. CATHARINA JACOBA, gebore op 4 Nov. 1815, gedoop te Caledon op 9 Junie 1816. Nog nie voorheen in genealogiese lyste aangedui nie, stellig aangesien die gevierde familienavorser De Villiers se navorsing net tot omstreeks 1810 gestrek het en Catharina Jacoba daarna gebore is.
Pa se naam en van in doopregister: CHRISTIAAN OLWA (sic), sonder die Detlef. Haar ouer broer Johannes Hendrik (roepnaam Hendrik) en oudste suster Alida Jacoba is haar doopgetuies.
Catharina Jacoba trou op 11 Okt. 1835 te Caledon met PIETER JACOBUS RAATS. Sy is op 5 April 1834 aangeneem in gemeente Caledon en verhuis later na die gemeente Tulbagh. Sy en haar broer b7 Detlef Christiaan trou albei met Raatse en in dieselfde jaar (1835).
Omdat slegs die stamlyne van die seuns vir ons geslagsregister gevolg word (almal wat die familienaam OL***WAGE* voortdra), het ons Catherina Jacoba se lewensloop nie verder nagevors nie.
/ DR.: OLWA. / LR.: OLWAGE. / TR.: OLWAGE.
[D/T/L]

b11. JAN FREDERIK (doopnaam), meer dikwels aangedui as FREDERICK JOHANNES, gebore op 5 Okt. 1817, gedoop te Caledon op 5 Apr. 1818. Nog nie voorheen in genealogiese lyste aangedui nie, stellig aangesien die gevierde familienavorser De Villiers se navorsing net tot omstreeks 1810 gestrek het en Jan Frederik daarna gebore is.
Jan Frederik trou betreklik laat in sy lewe: te Victoria-Wes op 4 Okt. 1858 met RENSCHE VAN DER WESTHUYSEN, gebore omstreeks Okt. 1833, die weduwee van Johannes Petrus Louw, by wie sy een dogter gehad het.
Hy is vanaf die gemeente Caledon ``vertrokken na Worcester'' in 1853, woon te ``Radyn'', Villiersdorp, trek in die een of ander stadium na die gemeente Victoria-Wes en word lidmaat van die gemeente Carnarvon toe di‚ in 1874 van Victoria-Wes afstig.
Hy sterf as boer en wewenaar (78 jaar en agt maande oud) te ``Schietkolk'', distrik Carnarvon, op 23 Junie 1896. Sy vrou, Rensche, sterf 'n paar jaar vroeër te ``Schietkolk'' op 4 Sept. 1892 in die ouderdom van 58 jaar en elf maande.
Die egpaar het agt kinders gehad -- vyf seuns en drie dogters.
Soos met sy oudste broer, b1 Jan Daniel, lyk dit byna of Jan Frederik in die waan verkeer het dat sy pa se een naam eintlik Daniel was en nie Detlef nie. Sy oudste seun dra ook die name Christiaan Daniel, terwyl sy pa se voorname selfs in Jan Frederik se sterfkennis aangedui word as Christiaan Daniel (in daardie volgorde) en nie Detlef/Deitlief/Dydelief Christia(a)n nie.
Dis voorts interessant dat Jan Frederik nasate het met die naam Jan Daniel, terwyl sy ouboet Jan Daniel se eie nasate in die reël dieselfde naam voortdra in die vorm van Johannes Daniel.
/ DR.: OLWA (sic). / TR.: OLWAGE. / SK.: OLWAGEN.
[D/T/AA/S.e/S.v/AA]

b12. PIETER JOHANNES beter bekend as PIET, gebore op 16 Des. 1819, gedoop te Caledon op 30 Jan. 1820. Nog nie voorheen in genealogiese lyste aangedui nie, stellig aangesien die gevierde familienavorser De Villiers se navorsing net tot omstreeks 1810 gestrek het en Piet daarna gebore is.
Hy word in die gemeente Caledon aangeneem in April 1840. Woon te ``Rivier zonder Einde'' en in die ``Bosjesveld'', Villiersdorp, as lidmaat van gemeente Franschhoek. Met die afstigting van Villiersdorp van Caledon in 1858 word hy lidmaat van die gemeente Villiersdorp.
Piet trou op 14 Feb. 1848 te Villiersdorp in die gemeente Franschhoek met ELIZABETH FRANCINA MALAN van die gemeente Franschhoek.
Die egpaar het sewe gedoopte kinders -- vier seuns en drie dogters. Die oudste seun, Christiaan Deitlief Pieter, en sy vrou (gebore Kruger) woon by Carnavon en verhuis toe na Beaufort-Wes. Later woon hy klaarblyklik as wewenaar te Observatory in die Kaap. Hierdie egpaar onderskei hulle met drie stelle tweelinge in een gesin, maar die tragiese is weer dat soveel van hul kinders moontlik klein of jonk dood is.
Trouens, langdurige navorsing laat ons met die gevolgtrekking dat die hele Piet-stam feitlik verseker uitgesterf het en wel in 1965 met die dood van die laaste manlike van-draer -- 'n vrygesel in 'n tehuis vir senior burgers in Observatory in die Kaap.
Die uiteinde van hierdie stam is 'n hartseer storie, maar daar is darem vasgestel dat Piet en sy Elizabeth se gene deur die dogters nog voortleef in families soos sekere Whites, Irelands en moontlik Derbyshires.
Geen sterfkennis van Piet of Elizabeth is gevind nie en hulle sterfdatums en -plek(ke) is dus onbekend.
/ DR.: OLWAGEN. / LR.: OLDERWAGEN. / TR.: OLWAGE.
[D/T/L/AA/F]

b13. CORNELIA MARGARETHA JACOBA, gebore op 28 Jan. 1822, gedoop te Caledon op 21 April 1822. Nog nie voorheen in genealogiese lyste aangedui nie, stellig aangesien die gevierde familienavorser De Villiers se navorsing net tot omstreeks 1810 gestrek het en sy daarna gebore is.
Sy is blykbaar nie jonk oorlede nie, want haar naam verskyn as doopgetuie vir 'n seun van b7 Detlef Christiaan, asook 'n seun van b10 Catherina Jacoba (laasgenoemde in die gemeente Tulbagh op 22 Mei 1853).
Omdat slegs die stamlyne van die seuns vir ons geslagsregister gevolg word (almal wat die familienaam OL***WAGE* voortdra), het ons nie verder op Cornelia se lewensloop ingegaan nie. Dit lyk egter vir ons taamlik seker dat sy nooit getrou het nie.
/ DR.: OLWAGE. [D]


Om terug te keer na INHOUDSOPGAWE klik hier


© 2000 G Olwagen Posbus 4144 Old Oak 7537
dugeot@iafrica.com