augrabies.jpg: Augrabies

AUGRABIES WATERVAL:

Aukoerebis, 'die plek van groot geraas', volgens die oorspronklike Koranna naam. Inderdaad, want in die nabyheid van die waterval, is 'n mens die hele tyd bewus van sy gedonder.

Dit behoort vir die besoeker aan hierdie webblad duidelik te wees dat ons 'n besondere voorliefde het vir droë plekke - woestyn en half- woestyn. Die rede is eenvoudig - dit verg nie veel om 'n maroelaboom langs die Sabierivier te wees nie. Dis iets heel anders om 'n kameel- doring langs die Nossob te wees, of 'n kokerboom in die droë Noordweste.

Augrabies is 'n plek wat hierdie dinge vir jou uitwys. 'n Droë, klipperige, amperse maanlandskap. Tot jy begin kyk - pragtige graniet rotsformasies, die mooiste kleurvolle plat akkedisse wat oral rondskarrel. Springbokke wat tussen die klipkoppies wei, en dassies en klipspringers op die koppies. Selfs swart renosters in dié barre wêreld.

En dan die waterval self. Die magtige Oranjerivier, of Gariep, kom doodluiters aangerol, salig onbewus van wat vir hom voorlê. Dan tref hy 'n afgrond van 60 meter, en val homself te pletter in 'n bulderende, siedende massa, kry homself bymekaar, en vloei ongestoord voort deur 'n diep ravyn.

'n Fassinerende gesig om te aanskou, veral as die rivier in vloed is, soos die foto bo illustreer. Let op die 2 persone regs bo, om 'n beter perspektief van die hoofval te kry.


* * *

[Terug na GUNSTELINGE]