
SAVUTI:
Amptelik is SAVUTI deel van die CHOBE NASIONALE PARK in die
noorde van Botswana, maar dit is so uniek, dat dit net so wel 'n plek
op sy eie kon gewees het.
Die Savuti vlei maak deel uit van die Mababe Depressie, wat baie
lank terug 'n binnelandse meer was, maar deur dieselfde kanteling in die
aardkors wat die Okavango Delta laat ontstaan het, van sy voedingsbron
gestroop is. Om vanuit die suidweste by Savuti uit te kom, moet jy oor
die Magwikhwe sandrif gaan, as jy dit maak! Die rif is die oorblyfsel
van wat eens die sandstrand van die meer was.
Savuti is uniek in vele opsigte. Die vlei word gevoed deur die Savuti
kanaal, wat oor 'n afstand van 100 km van die Chobe af vloei. 'Vloei' is
in dié sin 'n verwarrende begrip, want as gevolg van voortdurende
tektoniese aktiwiteit, het dit oor die afgelope 100 jaar periodes van
vloei, afgewissel met opdroging vir lang tydperke gehad. Die gebied het
'n buitengewone konsentrasie van wild, met 'n ewe groot variasie in spesie
tipe. Roofdiere is volop.
Die kampplek by Savuti, wat nie omhein is nie, is bekend vir besoeke
deur 'vriendelike' olifantbulle. Ek het menige staaltjies gehoor van
ondervindings met olifante hier. Hulle kom stap letterlik tussen die tente
deur, en dit is duidelik dat hulle versigtig is om nie skade te berokken
nie! Oor die jare het hulle geleer dat 'n kraan 'n plek is waar 'n dorstige
olifant water kan kry. Die enigste probleem was dat hulle geen poging
aangewend het om toe te draai nie. Die krane se handvatsels is nou so
toegebou, dat 'n mens jou hand in 'n tonneltjie moet insteek om te kan
oopdraai, iets wat olifante nie kan doen nie!
Enkele olifante het oor die jare toeriste begin terroriseer, deur
motors oop te breek om groente en vrugte by te kom. Eenkeer is 'n
sleepwaentjie oopgebreek, en nadat alles wat eetbaar was verorber is,
het die olifant 'n sak meel oopgeskeur, en 'n 'stofbad' daarmee geneem!
Ongelukkig moes hierdie molesmakers van kant gemaak word.
Ander gereelde besoekers aan Savuti is hiënas. 'n Mens sit in die
aand om die vuur, dan staan hulle so 20-30 treë van jou af uit 'n
asblik en aas. Hulle is uiters gevaarlike diere, en 'n mens sluit alles
wat moontlik vir 'n hiëna vreetbaar is (tandepasta, seep, bierblikke,
ens.) verkieslik snags in 'n voertuig toe, want hulle sal hul bes
probeer om dit uit jou tent uit te kry. Nodeloos om te sê, in Savuti
slaap jy nie buite 'n tent of voertuig nie, en as jy toegemaak en gaan
lê het, bly jy daar tot die volgende môre!
My gunsteling storie oor Savuti, is van die keer toe ons 'n trop
van 33 leeus(!) gekry het wat 'n kameelperd gevang het. Ons was 'n groep
van 15, met 'n spesiaal toegeruste vragmotor. 'n Mens kon deur 'n luik
tot op 'n platform op die dak klim vir wildbesigtiging, en ons het
laatmiddag so 20 treë van die karkas af stil gehou. Die leeus was al 'n
paar dae besig met die kameelperd, en baie dik gevreet. Twee wyfies het
so 10 treë tussen ons en die karkas gelê.
Teen sterk skemer het ons gids gesê die ouens moet afklim, ons gaan
ry. Toe hy dink almal is in, ry hy vorentoe, met die linker voorwiel in
'n baie diep gat in, wat deur gras bedek was. Een ou wat nog besig was
om in te klim, het vorentoe geval, en halfpad tussen ons en die twee
leeuwyfies op die grond te lande gekom. Die een wyfie het minstens 5
meter in die lug ingespring en 'n ent weggeharloop. Die ander een het
net gelê en staar.
Die valler het sy rug beseer, maar ons gids het sonder om eers aan
aan 'n moontlike verlamming te dink, hom aan sy kraag opgetel, en in
die voertuig geboender. Toe ons uiteindelik uit die gat is, lê die
valler se bril nog daar waar hy geval het. Dit was my voorreg om dit
vir hom te gaan optel. Ek sal nooit vergeet hoe geel 'n leeu se oë is
nie!
My persoonlike opinie is dat jy nog nie gelewe het as jy nie in
Savuti was nie!