
MAASAI MARA:
As jy nie gelukkig genoeg is om te vlieg nie, kom jy waarskynlik per
pad oor Narok. Die eerste gedeelte is geteer, maar dit is maklik die
swakste teerpad wat ek ooit gesien het - daar is soveel slaggate, en so
groot dat die voertuie letterlik lángs die pad in die veld ry. Maar dis
alles die moeite werd.
Die MAASAI MARA in westelike Kenia, is 'n noordwaartse
voortsetting van die beroemde Serengeti ekosisteem.
Lank voor jy by die Mara kom, is jy in Maasai wêreld, en kry jy die
rooigeklede voormalige krygers te sien. Hulle is indrukwekkend lank, met
ewe lang en indrukwekkende assegaaie. Langs die pad wei hulle troppe beeste,
met Thompson gaselle, blouwildebeeste en sebras tussen hulle.
Die Mara self is golwende grasvlaktes, met enkele verspreide bome, en
onophoudelike troppe wild. Ons het die voorpunt van die jaarlikse migrasie
getref, en hoewel ons verseker was dat dit nie vergelykbaar was met die
migrasie in volle swang nie, was dit steeds baie indrukwekkend. En die
roofdiere lê tussen-in rond, amper met hul bekke oop vir wild om in te
stap! Agter hulle volg swerms aasvoëls wat wag om op te ruim.
Selfs in die Mararivier het verdrinkte diere gelê, en dit het
nie gelyk asof die krokodille enigsins lus was om te vreet nie.
Ons het in Governor's Camp in luukse tente op die Mararivier gebly.
Dit is nie omhein nie, en 'n mens moes te voet deur 'n beboste area
na die eetkompleks gaan. Vir beskerm, is daar by elke tent 'n kreiger,
gewapen met sy assegaai, wat jou vergesel!
Die gesig van soveel wild in een gebied was waarlik iets om te onthou.