danabaai.jpg: Danabaai

DANABAAI:

"Oupa se See!" soos ons kinders sê. Vir 2 weke in Desember sal jy ons hier kry. In die vroeë 80's het oupa Reg Joubert hier, 10km wes van Mosselbaai 2 erwe gekoop, een nogal seefront. Op 'n plek waar net dom Transvalers en enkele Vrystaters op daai stadium gekoop het, want Durban was mos baie nader.

In 1985 betaal die Pretoria stadsraad aan hom geld uit vir 'n pad wat hulle deur die middel van sy kleinhoewe gemaak het. Hy verkoop die een erf en begin 'n huis in fases bou, maar net die buitenste dop. Die binne afwerking het ons self so met verdrag gedoen, en in die proses baie geld gespaar.

Nou het ons 'n kuierplek by die see, met 'n 180 grade panoramiese uitsig oor die baai, en die strand 45 meter benede ons voete. Hier kan jy jou verkyk aan die ewige gekom en gaan van die getye, skole dolfyne wat daagliks kom baljaar, en die Noordkaper walvisse wat gereeld kom kuier. Of die swart tobies met hul rooi snawels en pote wat met laagwater mossels van die rotse kom vreet.

As ons nie op die stoep sit nie, baljaar ons op die strand, of soek seekatte in die rotspoele, of ons vang kolsterte en steenbras van die rotse af. As die weer sleg is, gaan maak ons 'n draai in die Klein Karoo, of op Knysna, of in die skulpiesmuseum op Mosselbaai.

Daar is net een nadeel - 'n mens kan nie by die see langs 'n hardekoolvuur sit nie!


* * *

[Terug na GUNSTELINGE]