samburu.jpg: Samburu

SAMBURU:

SAMBURU is die wildtuin in Kenia wat ek die meeste geniet het van die 7 wat ons besoek het tydens ons 2 weke besoek in 1991.

Vandat ek kan onthou, het Kenia se wildlewe my geïnteresseer, en was dit 'n lewensideaal om eendag dié land te besoek. Toe die land in 1991 vir Suid-Afrikaners toeganklik word, was ons van die eerstes wat besoek afgelê het, nieteenstaande Engela se 5 maande swangerskap met Jacques.

Samburu is geleë in noordelike Kenia, verby Berg Kenia. Dit is 'n droë savanna gebied, maar wat dit so uniek maak, is die verskydenheid wild- en voëlsoorte wat onbekend is aan Suid-Afrikaners. Dit sluit spesies in soos Grant gaselle, Grevy sebras, Aasvoël tarentale, en my persoonlike gunsteling, Gerenuk. Laasgenoemde lyk soos 'n rooibok, maar met 'n baie lang nek. Hulle staan penorent op hulle agterpote om die blare van doringbome by te kom. En dan het die ramme nog 'n parmantige stywebeen stappie ook, amper soos 'n marsjerende soldaat. Selfs spesies bekend aan ons lyk anders hier. Die Rooibokramme het horinggroottes waarvan 'n trofee jagter in Suid-Afrika net droom. Die Waterbokke het nie wit kringe op hul boude nie, maar 'n soliede sirkel. En dan is daar die 'Reticulated' Kameelperd, met hul soliede roesbruin blokke, wat lyk asof die wit tussen die blokke ingeverf is, soos die meegaande foto illustreer.

Iets wat ons Suid-Afrikaners hier gepla het, is die uiterstes wat toegelaat word om toeriste naby die wild te kry - die gidse ry baie maklik van die paaie af, en plek-plek is die veld erg geërodeer as gevolg van dié praktyk. Alles moontlik word ook gedoen om skaars roofdiere aan toeriste te wys. Laat een middag het ons gids hom gehaas na 'n plek aan die oorkant van die Uaso Nyiro rivier (wat gevoed word deur smeltende sneeu op berg Kenia). Hier het ons 2 luiperds in 'n boom aangetref, maar by nadere ondersoek was dit duidelik dat hulle bo-op 'n platvorm was waarop 'n rooibok vir hulle vasgemaak was. Ons gids kon glad nie verstaan dat ons nie juis opgewonde was nie.

('n Soortgelyke episode het hom by Amboseli, aan die voet van Kilimanjaro afgespeel. Ons het by 'n verligte watergat gesit, toe ons 'n onaardse geluid vanuit die bosse hoor. Die volgende oomblik het 'n gestreepte hiëna te voorskyn gekom, en reguit na 'n stuk karkas wat daar gelê het, gestap. Toe hy die karkas begin wegsleep, het die ketting waarmee dit vasgemaak was, skielik sigbaar geword!)

As jy net een wildtuin in Kenia kan besoek, beveel ek Samburu aan, vanweë die andersheid van die wild wat daar voorkom.


* * *

[Terug na GUNSTELINGE]