
SATARA: SATARA in die Kruger Wildtuin is nie geleë op 'n plek met 'n
besondere uitsig oor enige iets nie. Hy lê op die plat sentrale deel van
die Wildtuin, omring deur oop grasveld met verspreide knoppiesdoring,
maroela en hardekool. Sy kampplek het die minste skadubome, en die
hardste grond van enige Wildtuin kamp. Selfs die oorsprong van sy naam
is vreemd - toe plase in dié geweste uitgemeet is, het 'n Indiër landmeter
satra, '17' in Hindi, in sy notaboek neergeskryf.
Wat Satara uniek maak, is juis die veldtipe waarin hy geleë is - dit
lok groot troppe kameelperde, blouwildebeeste en sebras. En waar daar
hoefdiere is, is daar roofdiere. As jy wil wild sien, gaan Satara toe,
en ry die S100-roete, wat ooswaarts loop. Per geleentheid het ek eerste
besoekers aan die wildtuin Satara toe geneem, en nadat ons kamp opgeslaan
het, het ek 'n sirkelroete, wat die S100 ingesluit het, met hulle gery.
Op een middag het hulle die Groot 5 gesien!
Die Kruger Wildtuin is bekend daarvoor dat daar groot samedrommings
van voertuie plaasvind wanneer daar roofdiere, veral leeus, te sien is. By
een so 'n samedromming, waar jy baie moeilik die leeu agter die bos kon sien,
het ons besluit om aan te ry. Skaars 50 meter verder het 'n luiperd rustig
langs die pad gestap, en in 'n klofie reg langs ons kom neerplons. Ons
was die enigstes wat hom gesien het.
Satara is ook die plek waar ek Nick Smith en sy vrou Sarie ontmoet het.
Nick was die onderhoudsvoorman vir die sentrale deel van die wildtuin,
voordat hy teësinnig verplaas is Mopanie toe. Nick is 'n pretensielose,
reguit, sout-van-die-aarde tipe mens, saam met wie ons heerlik kon kuier.
Soos die dag toe ons op 'n leeuvangs 'n klein entjie van sy huis afgekom
het, en Sarie bitter kwaad was oor ons so laat by die huis gekom het!