
AI-AIS:
Die Canyon is 550 meter diep, en 161 km lank, en geleë in 'n dorre,
barre landskap. 'n Roete wat die lengte van die Canyon volg, bied
fantastiese uitsigte daarop, soos die meegaande foto illustreer.
AI-AIS, of vuurwater, is 'n warmbron geleë aan die
suidelike einde van Namibië se Visrivier Canyon. Dit is ook die
hoofkwartier van die park waarin die Canyon geleë is.
Aan die einde van 'n stowwerige roete wat tussen wonderlike
rotsformasies loop, bereik 'n mens die oase wat Ai-Ais is. Met sy
bron wat water van 60 grade Celsius lewer, 'n reuse buitenshuise
swembad, en heerlike binnenshuise spa-baddens, is dit by uitstek 'n
plek om as gesin te gaan uitspan.
En as jy régtig aktief wil wees, pak jy die staproete, wat oor
86 km, of 5 dae strek, en by Ai-Ais eindig. Dan sal jy Ai-Ais éérs
waardeer!