HERMIAS en die POFADDER
No.1 (20/6/1998)
Die ander aand sit ons so om die hardekoolvuur langs die Olifants, al
luisterend na die snorkroep van die seekoeie hier neffens ons, terwyl ons
rustig teug aan die Chateau Libertas uit die blikbekers. Krismis se
Roodeberg het laas keer al sy bodem gesien, en die Rubicon hou ek vir my
en vroulief vir wanneer die kinders weer een aan by maatjies gaan slaap,
sien. Shakespeare het hoeka mos gesê 'Alcohol provokes the desire...'
maar voor ek dié wysheid kan voltooi, tjip haar vriendin altyd in met,
'man hy het bokkerôl van wyn geweet nie!' En sy het 'n bybie om dit te
bewys - 'Boplaas', na aanleiding van die port wat sy by Carel Nel gekoop
het toe ons laasjaar by die Kunstefees was.
Maar nou het ek heeltemal afgedwaal. Laataand toe die leeus oorkant
die rivier begin brul, en 'n hiëna sy uitgerekte kinkhoes roep hier naby
los, skuif ons almal nader aan die vuur, en begin vertel van noue
ontkomings met wilde diere. So half eenkant het 'n ou met rooi hare en
sproete rustig aan 'n Klip&Coke gesit en suig. Hermias Bester, maar ek
het hom nie eintlik geken nie. Toe ons nou al almal net kort duskant die
dood omgedraai het, praat hy vir die eerste keer, met 'n sterk Noordweste
aksent.
"Daai's alles fierôl," sê Hermias. Hy vertel ons toe hoe hy
een oggend in die koöperasie op Noenieput in 'n Landbouweekblad lees van
'n opkomende Dorper veiling op Hotazel. Dit was 'n besonderse reënjaar in
wat die Weerburo destyds 'Gordonia' genoem het, en die skaap was vet. Net
daar oortuig hy sy pa dat hulle so 20 skaap op die veiling moet loop sit.
Hulle leen toe sy oom Andries se Land Cruiser, die een met die relings,
waarvan die bande se seil so plek-plek deurkom. Vroeg die betrokke môre
vertrek hulle toe met die skaap oor Askam Hotazel toe. Anderkant Kings
Rest begin die son sulke rooi strale oor die pienk Kalahari duine langs
die Kurumanrivier gooi. In die skemerte sien hy iets voor in die grondpad
lê, maar voor hy kan waarsku, is sy pa bo-oor.
Die Cruiser gee net so 'n paar rukke, en kom dwars in die pad tot stil
stand. Met die uitklimslag sien hulle hier onder die mudguard bo die regter
voorwiel is 'n ding opgerol, met ogies wat heen en weer spring soos 'n krap
s'n.
"Julle weet mos 'n pofadder se tande is hol," sê Hermias. Ja,
ons weet. Nou, volgens Hermias, het die pofadder deur daai flentergat band
gepik, en nodeloos om te sê, as die bande só lyk, is daar van 'n spaarwiel
nie sprake nie.
Sy pa sit toe die Cruiser in reverse, en stoot versigtig agteruit. Met
dié rol die pofadder af, maar al die wind blaas deur daai hol tande in die
pofadder se lyf in. Nou is die band pap, en die pofadder opgeblaas - al 6
voet van hom. Hermias gryp die slang agter sy kop en probeer hom afpluk,
maar sy pa keer hom.
"Ek het 'n plan," sê sy pa.
Sy pa klim toe op die pofadder se stert, en begin voetjie vir voetjie
die wind terugwerk in die band in. Maar hy's te haastig, dan glip die wind
verby, dan moet hy weer voor begin. Uiteindelik is al die wind terug in die
band. Toe gryp sy pa die pofadder agter sy kop, knoop sy nek, en toe ry
hulle deur Hotazel toe.
Die beste pryse ooit vir Dorpers gekry!
[ENGLISH SUMMARY: After the blokes have told tales of close
encounters with wild animals, one Hermias Bester told them about the time
him and his father were on their way to a sheep auction in Hotazel. A
puffadder that was lying in the road struck his fangs through the worn tyre
of their truck, which brought it to an abrupt halt. The air in the tyre blew
through the hollow teeth of the snake, deflating the tyre, and
inflating the puffadder. By stepping onto the snake, Hermias's
father managed to work the air back into the tyre. He then tied the snake's
neck into a knot, and they drove on to Hotazel!]