DIE KANDIDAAT!
No.10(21/8/1998)
"Dis 'n bleddie gemors, sê ek julle!" murmereer vriend Hay. "Selfs
Solomon loop hier rond met 'n Cosatu T-shirt!" Dit help nou nie dat Sollie
al tot vervelens toe probeer verduidelik het dat hy die T-hemp pasella
gekry het, toe hy hom dood onskuldig in 'n Cosatu optog vasgeloop het, toe
hy mieliemeel gaan koop het op Phalaborwa nie.
Die manne sit hier langs die hardekoolvuur by die Olifants, en bespreek
die moontlikhede vir die opkomende verkiesing. Vriend Hay se probleem is dat
die wernemers by sy drankwinkel by 'n vakbond aangesluit het. Laas toe hy in
die Paarl gaan wyn koop het, het hy van die uitgediende dopstelsel te hore
gekom. Vindingryke man wat hy is, het hy besluit dit is net die manier om sy
werkers te paai. Toe dring die shop steward aan op Chivas Regal, en toe
vriend Hay weier, word hy by die unie verkla. Toe moet hy die dopstelsel los.
Nou is die unie kwaad vir hom, én die werkers is kwaad - vir hom en vir die
unie!
"Die eintlike probleem is dat nie een party meer die saak van die
Afrikaner stel nie. Hulle baklei net onder mekaar." beleef Jongeling Dunn vir
'n slag 'n helder oomblik.
"Miskien moet ons die ou Sappe weer laat herleef. Dalk is dit ons enigste
hoop," laat Ouboet Dunn hoor. Ouboet is ernstig oor politiek en Afrikaner
kultuur, maar hy is nie verkramp nie - na die Madelein van Biljon debakel
het hy 'n brief aan die ATKV geskryf en aanbeveel dat hulle 'n toekenning
aan Loslyf moet maak, vir dié sekstydskrif se bydrae tot Afrikaans!"
Nou is ons almal stomgeslaan. Die Sappe was 'n bietjie voor ons tyd.
"Die meeste van hulle wat nog leef, is nou regs van die AWB," verbreek Dok
Sarel die stilte, duidelik die enigste onder ons wat daai era meegemaak
het.
"Op Vanrhynsdorp het ek eenkeer in 'n verkiesing gestaan," verras Dok
ons, maar hy sê nie vir watter party nie. "Een aand hou ons vergadering op
Calvinia, en die Partyleier, 'n man van statuur in daai geweste, is daar om
ten gunste van my kandidatuur te praat. Ek maak 'n so-so neutrale toesprakie.
Toe staan Partyleier op, en praat roerend oor hoe die Party en Suid-Afrika
op daardie donker moment in ons geskiedenis die steun van elke kieser nodig
het. Die tyd vir verandering is ryp, en Suid-Afrika moet in 'n nuwe rigting
gestuur word. 'n Wegblystem is 'n stem vir die vyand. Daar gaan so 'n
roering deur die saal, en toe hy klaar gepraat het, toe weet ek ek kan maar
pak vir die parlement."
"In vraetyd staan daar 'n kollos van 'n man in die voorste ry op, en hy
vra die allerverskriklikste stekelrige vraag oor hoe die Party die
'Kleurling Probleem' gaan oplos. Ek kyk vir Partyleier, en hy kyk vir my.
Voor een van ons iets kan sê, spring die Voorsitter ons voor. Hy verklaar
bondig, 'Meneer, daar bestaan nie so 'n vraag nie!' Toe verdaag hy die
vergadering."
"Ek het dit nie gemaak nie."
Toe weet ons!
[ENGLISH SUMMARY: The discussion around the fire deals with
politics, and the perceived problems with the upcoming elections. Doc Sarel
surprises them by telling them how he once was a candidate in parliamentary
elections. At one meeting, the party leader spoke in favour of his
candidature. It went extremely well, and he felt sure that he was bound for
parliament. Then someone in the audience asked a very difficult and tricky
question. Before either of him or the party leader could respond, the
chairman declared that the specific question did not exist, and promptly
closed the meeting!]