DIE SUPER 12 DROOM
No. 11 (28/8/1998)
Na afloop van die Super 12 kompetisie, verval ek so in 'n depressie oor
die swak vertonings van Suid-Afrikaanse rugbyspanne, dat ek alleen vir 'n
naweek Olifants toe gaan. Die keer vat ek sommer Klip&Coke saam, want Dok
Sarel reken dit werk beter vir depressie as Prozac.
Met die aankoms kom groet Solomon met 'n groot glimlag op sy gesig -
altyd bly om my te sien, en ek vir hom. Sollie is 'n wonderlike mens met
baie veldkennis - 35 jaar gelede uit Mosambiek hier aangekom, en boer
sedertdien vir oom Andrč hier met Brahmane, so tussen die leeus en
krokodille deur.
"Ons moet gaan hout haal," sę Sollie opgewek.
"Hier lę genoeg vir vanaand," antwoord ek kortaf.
"Jy moet vir my gaan kyk watse boom groei daar teen die klipkopppie."
"Ons sal môre gaan kyk."
Sollie besef dis 'n hopelose besigheid om met my te probeer gesprek voer,
en na hy die hardekoolvuur aan die gang gekry het, groet hy vir die aand.
Die vęraf geroep van 'n naguiltjie vererger my depressie. Ek staar vir die
vlamme, en suig ernstig aan die Klip&Coke. Later kan ek sweer die wysers van
die horlosie op die Klipdrift-etiket draai in die rondte. Nog later raak ek
sommer so langs die vuur aan die slaap, met my kop op 'n klip, soos Jakob
van ouds. En soos Jakob begin ek droom.
Ek droom ek is dood, maar ek is heel opgeruimd daaroor, want ek is op pad
hemel toe. Om daar uit te kom, moet ek een van daai spreilig maste uitklim
wat 'n mens by groot sport stadions kry. So begin ek op 'n Saterdagmôre een
van daai maste op Loftus klim. Dis dęm harde werk, want julle besef nie hoe
hoog daai maste is nie. Boonop het ek nog my rekenaar onder die arm ook -
hoekom weet ek nie, miskien om e-pos te stuur, of iets.
Toe ek omtrent halfpad is, merk ek die stadion is vol mense, en Natal en
Auckland draf op vir die Super 12 finaal. Hoekom hulle op Loftus speel, weet
ek nie eintlik nie. Soos wat ek klim, hou ek nou maar die wedstryd hier van
bo-af dop. Toe ek eindelik bo kom, sien ek hier op die 'playing field in the
sky' moet 'n wedstryd enige oomblik begin - hulle wag net vir my.
Onder op die veld is die wedstryd baie naby sy einde, met die telling
30 elk. Ek besluit, te hel (by wyse van spreke), ek gaan eers die wedstryd
klaar kyk. Nou sit ek lekker in die briesie, en kyk hoe hardloop die miertjies
daar onder rond.
Op daai oomblik kry Jonah Lomu die bal, en sit af vir die hoekvlag. Wat
gebeur het, weet ek nie, maar ek verloor my balans, en tuimel na benede -
rekenaar nog onder die arm. Ek tref Lomu net voor hy oorduik - uit op die
hoekvlag! Toe breek daar groter pandemonium op Loftus uit as destyds toe
Mornč vir Naas laat afdra het.
Toe die polisie en beamptes almal tot bedaring gebring het, draf die
manne van St John's Ambulans nader, en laai my stukke op 'n draagbaar, en
my rekenaar s'n ook. Terwyl hulle my afdra, sien my een oog wat oor die kant
van die draagbaar swaai, wat hulle op Engels 'the final insult' noem:
Die Australiese skeidsregter, Wayne Ericson, wys vir my 'n rooikaart!
[ENGLISH SUMMARY:The author tells how he dreamt one night
that he was dead, and on his way to heaven. To get there, he had to climb
a lighting mast at Loftus Versfeld. He began this on a Saturday morning,
computer under his arm. Halfway up, he noticed that the Super 12 rugby
final between Natal and Auckland was about to begin. While climbing, he
kept an eye on the match below. When he reached the top, the match
was about to end, with the scores level at 30 all. At that moment Jonah
Lomu set off for the corner. The author lost his balance, and fell
towards the ground. He hit Lomu just before he was about to score, out
on the corner flag! The people of St John's Ambulance came one, and
loaded the different pieces of the author and his computer unto a stretcher.
As they were carrying him off, his one eye, which was dangling over the side,
saw the final insult - the Australian referee, Wayne Ericson showed him a
red card!]