HERMIAS en die VUUR
No. 12 (4/9/1998)
"Dok, jy sal elkeen van ons vanaand 'n Voltaren moet spuit, anders gaan
ons lywe dit nie hou tot môre nie," sê Jongeling Dunn, waar ons so half op
'n afstand van die Hardekoolvuur langs die Olifants sit.
"My tas staan daar bo. Jy kan jouself loop spuit, of vir Solomon vra
- hy spuit genoeg beeste wat hartwater het," gee Dok Sarel hom 'n koue skouer,
terwyl hy sukkel om sy blikbeker met sy gebrande hand vas te hou.
Kort nadat die trein vanmiddag hier verby is, kom Sollie aangehardloop,
en beduie na anderkant die treinspoor. Net rook waar jy kyk. Ons haas ons
toe soontoe, en slaan vuur dat dit bars. Maar toe draai die wind, en keer
amper vir Dok vas, sodat hy sy hande in die proses brand. Die hele deel
anderkant die treinspoor het in die proses afgebrand, ondanks ons poging.
"Vanmiddag se vuur was fiekerôl," sê Hermias Bester na sy derde
Klip&Coke. "Julle ouens weet niks van vuurslaan nie. As die Boesmangras in
die Kalahari die slag vuur kry, dán leer jy van vuurslaan. Gewoonlik roep
die ouens vir Hermias Bester." Hy laat 'n gerieflike pouse vir kommentaar
op sy arrogansie, maar ons maak gesamentlik van ons grondwetlike swygreg
gebruik.
"Julle ouens weet seker van daai brande wat hulle in Koeweit op die
olievelde gehad het na die oorlog," gaan Hermias voort, toe ons nie reageer
op sy aanmatigende houding nie. "CNN het darem seker in julle voorhuise ook
kom oorlog maak, of hoe?"
"Een oggend in die koöperasie op Noenieput lees ek toe in die Noordwester
dat hulle iemand soek om daai vure te kom slaan. Hulle is bereid om die ou wat
suksesvol is enige iets te gee. Ek dink toe by myself, as daar een ou is wat
weet van vuurslaan, dan is dit Hermias Bester, en net daar sit ek 'n aansoek
in. Skaars 'n week later laat weet hulle hulle kom my oor 2 dae oplaai op
Upington, ek moet regmaak."
"Ek leen toe my oom Andries se Land Cruiser, en ek en Samuel sit af
Upington toe. Daar langs die Gariep sny ek en Samuel 'n klompie ghwarrie
takke, want ek hoor daar is nog minder bome in Koeweit as op Noenieput. Ons
laai twee 44-gelling dromme water ook op, want daar is glo net so min water ook.
Die hele lot, saam met 'n klompie ou streepsakke agter op die Cruiser."
"Toe gaan wag ons by Upington se vliegveld. Hulle kom laai ons op met
een van daai gróót Russiese vliegtuie - daai goed wat die hele neus voor
so oplig dat jy kan inry. Seker gedink ek gaan 'n moerse vrag bagasie hê."
"Toe ons by daai olievelde kom, maak ons die sakke nat, en ek ry tot op
die hoogste duin om die spulletjie te beskou. Maar toe skrik ek so 'n
bietjie, want voor my is daar vúúr. Dit lyk kompleet of hulle ou trekker
bande daar brand. Hier bo in die lug draai CNN se helikopters rond, wat
maak dat daai vuur nog beter brand."
"Toe ek my weer kom kry, toe jaag ek teen daai duin af, reguit na die
vuur toe. Ek skree vir Samuel hy sal vandag moet slaan dat dit bars, want
dis nie Boesmangras wat daar voor brand nie. Ons jaag in daai vuur in, en
in die tru-spieëltjie sien ek hoe werk Samuel met die nat sakke en die ghwarrie
takke. Ek dog daai vuur hou nooit op nie. Toe ons anderkant uitkom, is die
ghwarrie takke net sulke kort stokkies, en die streepsakke sulke
flentertjies. Maar toe is die vuur dood."
"Terug op daai duin is daar toe amper so baie mense soos destyds met
die opening van die Gemsbokpark, net baie meer helikopters. Toe klim daar
'n man uit een van daai helikopters, en stap na my toe. Hy't 'n laken om
sy lyf gedraai, en 'n wit handdoek met 'n tou om sy kop vasgemaak. Toe vra
hy my wat ek wil hê."
"Toe kyk ek so na die Land Cruiser, en sê:
' 'n Nuwe Handrem!' "
[ENGLISH SUMMARY: The chaps are discussing the effects of a
veld fire which they tried to extinguish. Hermias Bester tells them how he
succesfully applied to extinguish the fires on the oilfields in Kuwait after
the Gulf War. He borrowed his uncle Andries's Land Cruiser, took some
branches and wet sacks, and together with his labourer, Samuel, were fetched
from the airfield in Upington.
In Kuwait he drove unto the highest dune, but when he saw the extend of
the fire, he realised he had bitten off more than he could chew. The next
minute he was racing down the dune, straight towards the fire. As he entered
the fire, he noticed in his rearview mirror that Samuel was working like mad
with the branches and wet sacks. They managed to extinguish the fire, and
back on the dune Hermias was approached by the sultan, who asked him what
he wanted for his efforts. 'A new handbrake for the Cruiser!' replied
Hermias.]