RUGBYSPROKIE!
No.13 (4/9/1998)
Onlangs sit die diere van Afrika langs 'n Hardekoolvuur by die Olifants
en stry oor wie is nou eintlik die beste in dit en dat. Na 'n ruk is Koning
Leeu goed dik vir die spulletjie, en nadat hy 'n goeie sluk uit sy blikbeker
gevat het, roep hy hulle tot orde.
"Kyk," sê hy vanuit die hoogte, "ek het nou genoeg gehad. Volgende
Saterdag pak julle mekaar op die rugbyveld. Die groot diere speel teen die
insekte en ander goggas. Sekretarisvoël sal skeidsregter wees."
Die hele week was dit 'n groot geskarrel om alles reg te kry. Spanne is
gekies, en die diere wat nie betrokke was nie, het die veld reg gekry. Teen
Saterdag was daar 'n feestelike stemming.
Toe Sekretarisvoël sy fluitjie blaas, was die pawiljoene gepak. Die
spanne draf op onder luide toejuiging. Eers die groot diere: Heelagter -
Koedoe, Vleuels - Rooibok en Hartebees, Senters - Njala en Duiker, Losskakel
- Springbok, Skrumskakel - Klipspringer, Agtsteman - Eland, Flanke - Buffel
en Blouwildebees, Slotte - Kameelperd en Sebra, Stutte - Olifant en Seekoei,
Haker - Renoster(kaptein). 'n Formidabele span in enige ou se boek.
Toe die insekte opdraf, raak die skare histeries: Perdeby, Vlieg en
Naaldekoker, Muggie en Muskiet, Skoenlapper, Vlooi(kaptein), Kakkerlak en
Rysmier, Stokinsek en Hottentotsgod, Miskruier en Toktokkie, met Bosluis op
haker.
Net voor die afskop is daar 'n verbyvlug van verskillende voëls, in 'n
verskeidenheid van formasies. Nadat 'n klomp tortelduiwe seremoniëel
vrygelaat is, kom 'n gompou gevaarlik laag oorgevlieg, met 'GO BUGS' onder
sy vlerke geverf. Natuurlik, alles tot groot vermaak van die skare.
Van die afskop af sukkel die insekte hul vrek. Dinge wil nie vlot in
die skrums nie. Kameelperd oorheers die lynstane. Buffel is genadeloos in
in die losspel. Die groot diere wen elke bal. As hulle met die voorspelers
dryf, is Olifant en Seekoei onstuitbaar. As hulle wyd speel, is daar geen
keer aan Haretebees, Rooibok en Koedoe nie. Hulle druk drieë asof dit uit
die mode raak. Springbok skop net nie mis nie. Rustyd is die telling
50-0.
Na rustyd lyk dit of Vlooi se hardpratery gehelp het. Daar is nuwe lewe
onder die insekte, en hulle druk die ou groottes meters terug in die skrums.
Duisendpoot wen balle agter in die lynstaan. In die losskrums gaan dit
verwoed, en hulle begin daar oorheers. Die bal gaan seepglad met die agterlyn
af, en Muggie, Perdeby en Naaldekoker begin die drieë inryg. Muskiet se
skopskoen is dodelik. Skoenlapper dartel deur die verdediging. Duisendpoot
duik die groottes disnis - selfs Kakkerlak, wat 'n stillerige eerste helfte
gehad het, lak die dinges uit hul uit.
Twee minute voor die einde klits Skoenlapper 'n skepskop oor, en die
telling is 51-50! Van die inskop af dryf die groot diere verwoed. Renoster
kry die bal 5 treë van die doellyn af, en gáán vir die hoekvlag. Met 'n
bomenslike poging duik Duisendpoot hom op die hoekvlag uit. Die eindfluitjie
blaas. Die skare se vreugde ken geen perke nie.
"Waar was jy in die eerste helfte, toe ons so gesukkel het?" vra Vlooi
vir Duisendpoot toe hulle afstap.
"In die kleedkamer, besig om my stewels vas te maak!"
[ENGLISH SUMMARY: In this tale the African animals are playing
a rugby match. The bigger animals play the insects and other bugs. In the
first half the insects struggle enormously, and trail by 50-0 at half time.
In the second half they show up much better, and start dominating, with
Millipede playing a stormer. Two minutes before the end they take the lead,
to win by 51-50.
As they walk off, Flea enquire from Millipede what he was doing in the
first half, when they really struggled. "Tying my boot laces in the dressing
room!"]