KOEDOEJAG in SUIDWES
No.14 (18/9/1998)
"Ai, maar dis mooi!" sê vriend Billy, waar ons by die Hardekoolvuur sit
en kyk vir die visarend in die wildevy langs die Olifants. "Dis hoekom ek
so graag in die Republiek kom vakansie hou - julle het sulke mooi plekke."
Vriend Billy is 'n studentevriend wat op Swakopmund in Namibië bly, maar hy
praat nog van Suidwes.
"Nee, magtig, man, Suidwes het mos darem net sulke mooi plekke," sê ek,
"vat nou maar Swakop, Sossusvlei en Poppa, om maar net 'n paar te noem! En
toe ek laas daar was, het ek die indruk gekry die toeriste stroom soontoe."
"Ja, ons kry baie toeriste," sê vriend Billy, "behalwe julle ouens
van die Republiek, kom daar geweldig baie Duitsers ook. Hulle huur gewoonlik
'n 4x4 voertuig, en dan ry hulle op ons grondpaaie asof hulle op die
Autobahn is. Gooi die goed op strepe om."
"Maar verlede winter het ons 'n lekker eskapade gehad," gaan vriend
Billy voort, "vier van hulle het kom jag op Okahandja. By die lughawe in
Windhoek sê hulle vir die meisie van Avis hulle soek 'n kombi om mee te
gaan jag. Sy's oorspronklik van Rehoboth, en verduidelik mooi vir hulle in
haar beste Duits dat sy nie 'n kombi aan hulle sal verhuur as hulle daarmee
wil gaan jag nie. Hulle verduidelik dat hulle hom eintlik net wil hê om tot
op die jagplaas te kom."
"Uiteindelik vat hulle laatmiddag die pad Okahandja toe. Teen skemer ry
hulle in 'n koedoe vas wat oor die pad spring. Die kombi is nie te erg
beskadig nie, maar die koedoe lê dood in die pad. Die manne besluit toe 'n
ou kan nie so 'n geluk laat verbygaan nie, en nadat hulle die bagasie 'n
bietjie herrangskik het, laai hulle die koedoe agter in die kombi."
"Skaars 'n kilometer gery, toe is daar 'n rumoer agter in daai kombi.
Die manne kyk om, en sien dat die koedoe intussen lewe gekry het, en dit
lyk nie of hy hou van kombi ry nie! Hulle hou stil en spring uit, gewere in
die hand. Maar toe is daai koedoe omgekrap! Hy skop al wat 'n ruit is uit,
en op 'n stadium probeer hy regop kom, en druk daai kurktrekker horings van
hom deur die kombi se dak. Toe bly daar net een genade oor, hulle moet hom
skiet! Na verskeie bewerige sarsies en salvo's, toe lê die koedoe. Of te
wel, hy hang, want sy horings steek nog deur die dak!"
"Nadat die manne die petalje geïnspekteer het, besluit hulle die kombi
is te gehawend om met hom wildsplaas toe te ry. Terug Avis toe. Toe hulle
stilhou, stap daai Avis meisie uit, maar toe praat sy Rehobothaans
met hulle:
'Julle bliksems! Ek het gesê julle kan nie loop staan en jag
met die donnerse kombi nie!' "
[ENGLISH SUMMARY: Friend Billy tells how four German tourists
came for a hunting trip to Namibia the previous winter. At the airport they
requested to rent a microbus. The lady at the car rental explained to them
that they couldn't use a microbus for hunting, but they ensured her that they
only needed the vehicle to reach the farm. Late that afternoon they left for
Okahandja, but by dusk hit a kudu crossing the road. The damage to the
microbus was minor, but the kudu was dead. They decided to take the kudu
with, and loaded the dead animal into the back of the vehicle.
Soon after
hitting the road again, the kudu came to life! They stopped, grabbed their
rifles and jumped out. The kudu was causing so much damage to the vehicle,
that they decided to shoot the animal. After several shots the kudu was dead,
but extensive damage was caused to the vehicle. They decided to return to the
car rental agency.
The lady there gave one look, and castigated them,
because she had told them they couldn't go hunting with a microbus!]