kremetart1.jpg



OLIFANTE!


No.15 (2/10/1998)

"Hulle is hier!" sê ek vir vriend John toe ons met die kronkelpaadjie af ry. Eers was dit net 'n gebreekte mopanietak hier en daar, en kort voor lank het die bolle in die pad gelê. Olifante! "Ons gaan sports hê die naweek!"

Toe ons stilhou, staan Solomon met 'n groot glimlag op sy gesig. "Hulle is hier!" bevestig hy ons waarneming. Volgens hom het hulle so drie weke vantevore van Klaserie se kant af deur die rivier gekom, tien van hulle - nege wat hardloop as hulle 'n voertuig gewaar, en een wat storm onder dieselfde omstandighede.

"Ja, dit kan pret wees," beaam vriend John, "veral vir die ouens wat donker eers kom!"

Februariemaand na goeie reën is dit 'n ruie groen paradys hier langs die Olifants. En warm! Phalaborwa se motorregistrasie was nie verniet voorheen TPH nie - TeerPadHeltoe. Ons is die enigste ouens wat mal genoeg is om dit die tyd van die jaar hier te waag. Laataand om die Hardekoolvuur bespreek ons die moontlikhede, en besluit om onder die omstandighede liefs nie op die gebruiklike middernagtelik rit te gaan nie.

Saterdagoggend sê Sollie ons moet gaan hout haal. Hy vat ons na die deel anderkant die treinspoor. Dit lyk of selfs nie eens die wilddiewe in die afgelope vyf jaar hier was nie, want die pad, as 'n mens dit so kan noem, is toe onder voorruithoogte gras. Soos ons ry, gee Sollie lopende instruksies sodat ons darem min of meer op die gebaande weë kan bly. Oral is daar tekens - 'n gebreekte tak hier, 'n omgestote mopanie daar. By die sandspruit lê die vars spore - 'n enkele olifant s'n! Versigtig fynkam ons die digte bosruigtes terwyl ons stadig aanry. Verbasend hoe 'n grote olifant kan verdwyn in die plantegroei. Terug by die kamp is ons terselfdertyd verlig, maar ook teleurgesteld dat ons hom nie raakgeloop het nie.

Na middagete daag nog 'n paar siele op, maar hulle glo ons nie, ons moet weer gaan kyk. Dok Sarel wil Jongeling se Discovery bestuur, maar hy weier. Ek sê Dok moet maar die dubbelkajuit vat, want ons is in elk geval te veel vir een voertuig. Ek en vriend John ry saam met Dok om die pad te beduie, die ander kom agterna saam met Jongeling. Die pad is gelukkig vanoggend goed oopgetrap, want Sollie is nie by om instruksies te gee nie. Toe ons afsak na die spruitjie toe, top ek die blikbekers op.

"Hier's hy!" gil vriend John. Dok slaan remme aan dat die rooiwyn die wêreld vol spat. Vyf treë anderkant die spruitjie staan ouboet en flap sy ore en skop stof op. Dok gooi die bakkie in tru-rat en gee vet, bo-oor 'n jong mopanie wat op die Discovery se enjinkap beland. Jongeling vervies hom sonder dat hy mooi besef wat aangaan, maar retireer self met groot spoed.

Toe Dok reken ons is vêr genoeg weg, stop hy, en ons verduidelik vir die ander wat aangaan. Ons wag dat ou diklyf 'n ent die bosse instap, en toe jaag ons in gelid verby. Hy storm Jongelinge-hulle, maar hulle maak dit darem na veiligheid.

"Ek is nou weer van voor af die moer in!" sê Nick Smith toe ons later die aand om die Hardekoolvuur sit.

"Vir wat?" sê Hansman, "dis mos vir dié soort ding wat ons hiernatoe kom."

Nick vat 'n diep teug uit die blikbeker, en vertel van die keer toe hy op pad was Shingwedzi toe. Voor hom het van die nuwe geslag wildtuin besoekers met hul minibustaxi in die pad gestaan. Toe hy so skuins agter hulle stilhou, sien hy die drie olifantbulle wat skuins voor hulle langs die pad staan en vreet. Skielik storm een van daai bulle die taxi. Die drywer stoot met 'n spoed agteruit. Die taxi vat Nick se kar se linker voorste modderskerm, albei deure, die agterste modderskerm en die agterste buffer saam!

Nick sê lank na die taxi weg is, en sy woede bedaar het, toe ry hy stadig by die olifante verby. Hy sweer hulle het gestaan en lag. Vanmiddag se een ook!


[ENGLISH SUMMARY: Our friends experience a narrow escape when they are charged by an enraged elephant bull on one of there game drives.
At the fire that evening, Nick Smith tells them about a similar experience he had in the Kruger Park, when he stopped behind visitors that were watching three elephant feeding next to the road. One elephant charged the visitors, and the driver reversed without looking back, causing considerable damage to Nick's car. When he drove past the elephant, he could have sworn they were laughing at him. What was most upsetting of their earlier experience, was that this particular elephant seemed to be doing the same! ]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!