kremetart1.jpg



Die VLIEGVERSLAG


No.17 (30/10/1998)

"Ek wonder waar draai vriend Hay so laat vanaand," sê ek, terwyl ons onrustig teug aan die blikbekers om die Hardekoolvuur langs die Olifants.

"Ek ook. Hy borg mos die drinkgoed vir die naweek," sê Jongeling Dunn ewe bekommerd, maar duidelik om 'n verskillende rede.

"Jongeling, jy is 'n bleddie Filistyn! Vriend Hay kan dood langs die pad lê aan die hande van kapers, of deur 'n leeu gebyt by die hek anderkant die treinspoor, en jy bekommer jou oor drank!" berispe Dok Sarel hom ernstig.

Net toe dit lyk of Jongeling se ergste vrese bewaarheid gaan word, hoor ons die dreuning, en sien die ligte deur die bosse kom. "Wat sit julle hier soos ouens wat begrafnis hou?" vra vriend Hay met die afklimslag.

"My persoonlike lyfarts!" sê hy toe hy Dok Sarel se blad skud. Aan sy lyftaal kan ek nie agterkom of Dok hom dié titel laat geval nie, maar ek kry 'n idee van hoe die vader van die Verlore Seun moes opgetree het.

"Is dit nou 'n bleddie tyd om hier aan te kom! Ons is dood bekommerd oor jou, en ek het begin dink ons gaan heel naweek droë bek hier sit," sê Jongeling.

"Maar het Poggies van die sentrale julle nie laat weet ek gaan laat wees nie? Net Maandag gaan ek hom aangee by die Posmeester-Generaal!"

"Dit het my nog altyd verstom dat 'n organisasie met 'n GENERAAL aan die hoof so oneffektief kan wees," sê ek.

"Miskien het dit te doen met die gehalte van die troepe waarmee hy werk," laat val Jongeling, wat self nooit in die weermag was nie.

Ek merk dat Nick Smith hom vererg vir Jongeling. "Partymaal is dit beter om eerder met die Posmeester te praat," is Nick se raad.

"Destyds was ek mos Posmeester op Ndumu. Dis 'n bitter klein plekkie daar in Noord-Natal, vir jou inligting, Jongeling. Eintlik was ek Posmeester, hoofklerk, telefonis, alles in een. Nou, dis warm, bedompige wêreld. Die poskantoor was 'n tweevertrek sinkgeboutjie direk langs die slagpale. Die hitte en vlieë was ondraaglik. Met die intrapslag rig ek toe 'n skrywe aan die Posmeester-Generaal en versoek dakwaaiers, en gaas voor die deure en vensters. Dit was lank voor lugversorgers uitgevind is."

"Na twee maande kry ek 'n antwoord - my versoek vir dakwaaiers word goedgekeur, maar die gaas word as buitensporig beskou. Die dakwaaiers kom sodra Ndumu elektrisiteit kry. Toe weet ek hulle het nie 'n saak met my nie, want sover ek weet is daar vandag nog nie elektrisiteit nie. In daai geval kon hulle mos maar die gaas goedgekeur het!"

"Toe begin ek 'n nuwe strategie. Ek maak vir my 'n vlieëplak. Elke oggend as ek oopsluit, tel ek die aantal vlieë binnekant. Deur die dag slaan ek soveel as moontlik dood. Vanaand voor ek sluit, tel ek die oorblywendes. Die getalle skryf ek daagliks neer. Aan die einde van die maand stuur ek 'n vliegverslag saam met my maandverslag aan die Posmeester-Generaal. Vir 18 maande hou dit so aan."

"Toe gaan hou ek vakansie in Johannesburg, en doen aansoek vir werk by die Lugdiens. Ek kry die werk, en kom terug om my kennismaand te werk. Kort voor lank daag my plaasvervanger op sodat ek hom touwys kan maak - Sakkie van Niekerk. Na 'n week dink ek ou Sakkie sal regkom, toe loop ek. Ek los vir hom 'n kontak nommer en adres, vir ingeval hy my dalk nodig kry."

"Vir 3 maande hoor ek niks nie, behalwe vir my pos wat hy getrou aanstuur, insluitend my laaste salaristjek. Toe op 'n dag bel hy. Hy het 'n skrywe van die Posmeester-Generaal gehad, en daar is groot moeilikheid. Ek dink aan die 2 weke wat ek vroeg geloop het, en vra daarna. Nee, dis baie erger. Dan het die olifante seker die karavaan waarin hy bly platgetrap. Ook nie."

"Die moelikheid is toe dat die Posmeester-Generaal woedend is, want ou Sakkie is al drie maande op Ndumu, en het nog nie een Vliegverslag ingestuur nie!"


[ENGLISH SUMMARY:The chat around the fire is about difficulties with the post office, and it's personnel. Nick Smith tells the chaps about the time he worked for the post office in Ndumu, a small, hot and humid, fly infested town in northern Natal. From the outset he requested roof fans, and gauze in front of the windows and doors. The request for gauze was deemed as outrageous, but that for roof fans approved, on the condition that the town should first get electricity.

Nick started drawing up a monthly 'fly report' - a daily audit of flies counted in the building, the number killed, etc. This report he submitted to the Postmaster-General for 18 months. At that point he found a new job.

Three months later he received a phone call from his replacement - he received a letter from the Postmaster-General, and was in big trouble. They haven't received his 'fly report' for 3 months!]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!