kremetart1.jpg



Jongeling speel Gholf!


No.18 (13/11/1998)

"Die probleem met sport is dat dit 'n mens uitput!" verklaar Jongeling Dunn plegtig waar ons langs die Hardekoolvuur by die Olifants sit.

"Bedoel jy nou om te kyk, of deel te neem?" vra Hansman, terwyl hy die blikbekers optop.

"Wel, beide, maar ek bedoel eintlik deelname." Komende van Jongeling, vind ons die opmerking nie vreemd nie.

"Miskien moet ons eers 'sport' definieer voor jy verder gaan," onderbreek Dok Sarel hom. "Ek dink ons is dit almal eens dat Voetbal sport is."

"En Krieket," voeg ek by, maar dit lok verskeie protesstemme uit. Na 'n lang geredekawel, bereik ons konsensus - Rugby (of voetbal, volgens Dok) is die enigste ware sport. Krieket is amper-sport. Gholf en Tennis is semi-sport. Dan is daar 'n kategorie, non-sport. Dit sluit goed in soos Veerpyltjies, Perderesies en Sokker. Toe ons laasgenoemde byvoeg, sit Solomon sy Orlando Pirates keps op, en loop uit. Ons moes self verder pap maak.

"In elk geval," sê Jongeling toe Sollie weg is, "dis uitputtend, want jy moet kompeterend wees. Om dit reg te kry moet jy oefen en toegewyd wees. Ons ouens het dit nie."

Verbysterd deur Jongeling se woorde sit ons in stilte en nadink. Verbysterd omdat hy die wáárheid praat, en oor hý die waarheid praat!

"As ek kyk met hoeveel toewyding en oorgawe ons elke naweek hier kom sit en drink, dan doen ons nie te sleg nie," verbreek vriend John die stilte. "Eintlik is ons wêreldkampioene!" Nou voel ons almal baie beter.

"Op 'n kol het ek gholf gespeel," verbaas Jongeling ons nog meer.

"Dis 'n edel sport," sê Dok met meer respek as gewoonlik toe die gelag bedaar.

"Semi-sport, Dok," help Jongeling hom reg. "Die probleem is, dis vrek moeilik. Ek meen, 'n hou wat 200 meter ver trek tel net soveel as een van 2 meter. Dit kan mos nie so werk nie. Selfs in 'n amper-sport soos krieket werk dit beter. Die laaste keer wat ek gespeel het, was ons 'n vierbal."

"Ek dog 'n mens speel net met een bal," onderbreek vriend Hay.

"Hy bedoel 'n ou kry 4 balle op elke gat om weg te slaan!" sê Hansman.

"Jy's min of meer reg." gaan Jongeling voort. "Toe ek by die 8ste putjie my bal vir die derde keer in die dam slaan, gooi ek my sak met stokke in die dam, en ek loop. 'Ek is klaar met dié game' sê ek vir die ander drie."

"Toe hulle met 9de terugkom, toe's ek terug by die dam, halflyf in die water. Toe ek die sak daar uitvis, toe hoor ek die een ou sê hy het geweet ek sal nie daai duur stokke in die dam los nie."

"Toe haal ek my kar se sleutels uit die sak uit, en gooi hom terug in die dam!"


[ENGLISH SUMMARY: The discussion around the fire deals with what are real sports and what not. After a while Youngster Dunn tells the chaps how he used to play golf. He found the game extremely difficult. The last time he played, he hit 3 balls into a pond. At that point he threw his bag with clubs into the pond, and vowed that he will never play again. After a while his friends saw him coming back. He waded into the pond and took the bag from the water. After removing his car keys, he dropped the bag back into the pond! ]




TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!