VISVANG in SUIDWES
No. 19 (27/11/1998)
"Vang jy iets?" vra ek waar Sollie op die sandbank in die Olifants sit
en visvang.
"Niks!" sê Sollie, "hulle bang die krokkodille."
"Nie eens 'n meermin nie, Sollie?" Hy skud net sy kop en skater dat die
trane rol.
"Wat is die storie van die meermin?" vra vriend Billy van Namibië toe
ons met die blikbekers stelling in neem langs die Hardekoolvuur.
"Die ander dag toe ek en Sollie in die veld stap, praat ons oor die see,
en so. Later gaan maak die gesprek 'n draai by meerminne. Die volgende dag
kom wys hy my 'n baber wat hy gevang het. Hy sê dis 'n swart meermin!"
"As jy weer Suidwes toe kom, dan reël ek dat ons by Terracebaai gaan
vang," sê vriend Billy. Dit amuseer my dat almal maar steeds van 'Suidwes'
praat. Selfs die regerende party kon dit nog nie uit hul naam kry nie.
"Wat vang 'n ou daar?" vra ek meer uit nuuskierigheid as iets anders,
want ek is nie juis 'n visterman nie, hoewel ek soms hengel as ek by die see
kom."
"Meer kabeljou en galjoen op een dag as wat jy al in jou lewe gesien het!"
kook hy oor van entoesiasme.
"Klink vir my te vêr om agter vis aan te ry," sê ek.
"Jis, pel, dis juis omdat banggatte soos jy bang is vir ry dat die visvang
so goed is daar. Dis selfs nóg beter as jy verder noord gaan. Maar eintlik
mag jy volgens die reëls van die Skedelkus Park nie daar visvang nie."
"Dis nou nie dat ouens dit nie doen nie, want die manne van Fauna en Flora
is maar self bang vir ry. Die ander dag het drie manne van Swakop juis so 'n
ding oorgekom daar. Hulle is op soontoe met 'n half deurgeroeste Volkswagen
Kewer, en besluit toe om in die verbode waters te gaan vang. Ry toe tot by die
Unjab rivier en versteek die Volla daar agter so 'n halwe duintjie, net vir
ingeval Fauna en Flora dalk oordrewe raak."
"En hulle was nie teleurgestel nie - kort voor lank toe lê daar 'n berg
vis agter hulle op die sand. Lekker is ook net só lekker, en na 'n ruk sit
die een ou sy stok neer om 'n sigaret op te steek. Toe kom hy agter hy het die
pakkie Lexingtons in die Volla gelos."
"Toe hy so 5 treë van die Volla af is, hoor hy 'n ou hier agter hom hoes.
Hy kyk taamlik benoud om, en wonder nog wat hy vir Fauna en Flora se manne sal
sê, toe staan die grootste maanhaarleeu wat hy nog gesien het 10 treë van hom
af. En ta maak reg om te storm. Ouboet sit rieme neer vir die Volla, met die
leeu agterna. Hy duik die agterruit heeltemal uit, tot binne-in die Volla!"
"Die leeu het 'n paar keer grommend om die kar gestap, en hier en daar by
'n roesgat gestop om te ruik, toe kry hy die visreuk van die see se kant af.
Toe verander hy van plan, en stap water se kant toe. Ouboet in die Volla het
sy bes gedoen om toeter te blaas en te skree, maar met die briesie wat van die
see se kant af waai, kon die ander twee niks hoor nie."
"Die leeu het hom goed tuis gemaak langs die hoop vis en begin weglê. Die
ander twee staan salig onbewus en visvang. Tot een ou weer 'n kabeljou
uitsleep en naderstap om hom op die hoop te gooi. Toe sien hulle vir ta hier
neffens hulle. Die manne los alles en hol die see in!"
"Ek weet nie of jy al in Suidwes se waters probeer swem het nie, maar dis
vrek koud. Veral in Julie. Nie lank nie, toe besef die twee hulle gaan
verkluim. Toe swem hulle nou maar 'n end strand af tot hulle dink dis veilig
genoeg. Met 'n lang draai gestap tot by die Volla."
'Ja, jou bliksem, seker al die sigarette gesit en oprook', sê die een toe
hulle by die kar kom.
'H-hel, d-dís w-wat e-ek h-hier k-kom m-maak h-het!'
[ENGLISH SUMMARY:Friend Billy tells the story of three fishermen
that went angling in the forbidden waters north of Terrace Bay in Namibia's
Skeleton Coast Park. Worrying about officials from Nature Conservation
detecting them, they hid their delapidated rusted Volkswagen Beetle behind a
lowish dune.
The fishing was excellent, and not long before a heap of fish was lying
behind them. Somewhat bored, one chap decided to light a cigarette, but found
that he left them in the car.
Close to the car he came across a chargeing lion, but somehow managed to
reach the safety of the car. At that point the lion got the smell of fish
coming from the beach, and decided to investigate. The poor chap tried to
warn his friends, but with the breeze coming from the sea, no amount of
shouting and hooting could be heard.
With the other two anglers completely unaware a few paces away, the lion
started feeding on the fish. The chaps only became aware of the lion when one
of them attempted to add another fish to the heap.
They dropped everything, and ran into the waves. It didn't take too long
for them to realise that they were bound to freeze in the icy winter waters,
and they swam away from the lion, parallel to the beach.
When they considered it safe, they beached and headed for the car. On
arrival they immediately accused the other guy of smoking all the cigarettes
while their lives were in danger. From inside came the shaky reply:
'G-gee, th-thát's wh-what I-i c-came t-to d-do!']