DOK SPEEL PERDE !
No.20(11/12/1998)
"Sjoe! Waar kry jy al daai Rubicon?" vra vriend John toe ek die Coleman
oopmaak langs die Hardekoolvuur by die Olifants.
"Gewen," sę ek, "by Louis van die Coach House se drankwinkel. Laas met die
toets teen Australië was ek reg met die telling in die rugbyraai wat hy
gehou het."
"Hel, maar hy is vrygewig. Rubicon, nogal." sę vriend John verbaas.
"Eintlik, toe ek my prys gaan afhaal, toe is dit 'n kis Tassenberg. Toe
sę ek vir Louis ek is nie 'n verdomde student nie, ek soek Rubicon. Toe sę hy
dan moet ek dit maar los. Toe sę ek, nee dis maar reg, maar hy moet onthou ek
koop nooit weer by hom nie, en ek gaan julle ouens ook vertel hoe ingat hy is.
Toe loop ek. Toe ek die volgende oggend by die werk kom, toe staan die kis
Rubicon daar!"
"Jou bliksem! Hy het natuurlik besef die verliese wat
hy gaan ly kan bankrotskap beteken!" slaan vriend John die spyker op die kop,
en ons verkreukel ons.
"Ja, dis altyd lekker om te wen in sport," gaan Dok Sarel voort. "As
studente het 4 van ons op 'n stadium perde gespeel - elkeen het 'n rand
gegee, en daarmee kon ons 8 kombinasies speel. Die eerste Saterdag wen ons
R72. Dis R17-50 elk, nadat die belasting afgetrek is. Toe is ons baie in ons
skik."
"R17-50, maar dis mos niks!" lag Jongeling Dunn.
"Jongeling, jy sal dit nou nie verstaan nie, maar daai tyd kon jy 3 keer
gaan uiteet met R17-50, en elke keer 'n bottel wyn en pakkie sigarette ook
nog koop," sę Dok geïrriteerd. "In elk geval, toe raak ons ernstig oor die
perde, en ons bestudeer hulle deegliker as ons boeke. Ons ken hulle bloedlyne,
loopbaanrekords, die werke. Die volgende Saterdag toe speel ons weer."
"Die middag sit ons geanker voor die TV. WP en Noord-Transvaal speel in
'n naelbyter, maar ons stel meer belang in die perde. Daai tyd het hulle mos die
voetbal onderbreek om perde wedrenne te wys," verstom Dok vir Jongeling nog
meer.
"Met die laaste wedren moet Flying Arrow wen, dan slaan ons die jackpot
4 keer! Nou kyk, hy was 'n seker wenner - sy pa was Sea Cottage, en Muis
Roberts was die jokkie. Toe hulle om die draai kom, toe streel ou Muis hom
net so liggies met sy peitsie, toe hol uit onder die res uit, en hy wen met
6 lengtes. Toe soen ons mekaar omtrent! Ons sien nie eers hoe Naas Botha
Noord-Transvaal laat wen met 'n skepskop in die doodsnikke nie."
"Die nuus van ons oorwinning versprei toe soos 'n veldbrand. Toe ons daai
aand by die koshuis uitstap om by die Burgerspark Hotel te gaan eet, toe wag
daar 'n skare meisies vir ons voor die deur. Ons voel omtrent soos die
Beatles, maar jy sal hulle nie ken nie, Jongeling. Daar en dan hou ons 'n
skoonheidskompetisie, en die koningin en 3 prinsesse gaan saam met ons
Burgerspark toe. Ons het 4 eerstejaars as chauffeurs."
"Daai tyd het Radio Hoëveld na die halfnege nuus die besonderhede van
die jackpot bekend gemaak. Tussen ons gefuifery deur kom sę die een chauffeur
wat aangesę is om te luister dis nog nie bekend nie. Halftien kry ons dieselfde
boodskap. Half-elf en halftwaalf weer. Toe moet ons ry, want die meisies moet
twaalfuur in die koshuis wees, hoewel ek gemeen het hulle sou nie ongeneë
gewees het om uit te slaap nie."
"Ook maar goed. Toe ons half-een by die koshuis stilhou, is dit bekend.
Daar was 35 721 korrekte kaartjies - ons wen elkeen R1-80!"
[ENGLISH SUMMARY: Doc Sarel tells the chaps how they won money
on horses as students. With their first ever bet they won a sizeable amount,
which inspired them to become more serious betters. The next Saturday they
hit the jackpot 4 times. They celebrated their win with a big party at the
posh Burgers Park Hotel. Late that night they received the details of their
win - 35 721 correct tickets, paying out R1-80 each!]