kremetart1.jpg



KERSSPEL op OMEGA


No.21(25/12/1998)

"Vir wat is jy al weer so laat," vra ek toe vriend Hay middernag eers by ons aansluit langs die Hardekoolvuur by die Olifants. "Dis amper tyd vir die nagrit en jy het nog niks in jou lyf nie."

"Ek is jammer, ouens, maar ek moes eers die ou kindertjies se skoolkonsert bywoon," sê vriend Hay apologeties, "en hulle het so mooi gelyk."

"Dis tyd dat jy jou prioriteite regkry," kasty Jongeling Dunn hom.

"Jongeling, jy sal dit nie verstaan nie, maar die moderne vader het verantwoordelikhede, maar ek besef jy weet ook nie wat dít beteken nie," kap vriend Hay terug.

"Kinderkonserte is altyd interessant," stuur Dok Sarel die gesprek in 'n ander rigting. "Een Sondagaand na kerk in die kroeg het ons ons omtrent dood gelag."

"Dok, jy het te veel whisky gehad!" sê Jongeling verbaas, "Na kerk in die kroeg?!" Met moeite en verdraagsaamheid verduidelik Dok aan Jongeling, wat nooit self in die weermag was nie, hoe dinge op die grens gewerk het. Die kroeg was die middelpunt van sosiale verkeer, ook Sondagaande.

"Ek was bevoorreg om oor Desember op Omega, die Boesmanbasis in die Caprivi, te wees." Die manier waarop Dok dit sê laat 'n mens dink dat hy persoonlik die 'totale aanslag' teen die Republiek afgeweer het.

"San, Dok," probeer Hansman hom wys op sy politieke inkorrektheid.

"Ek weet, maar Jongeling sal nie verstaan nie. Hy dink 'San' is 'n vroumens se naam."

"In elk geval, die kinders van die Boesmanskool het vir weke saam met die kleuters van die staandemaglede geoefen aan 'n Kersspel. Die Sondag voor Kersfees was die houtkerkie gepak, nie soseer uit vrye wil nie, maar omdat kerkdiens in die weermag verpligtend was. Nou nog as ek aan 'n Kersspel dink, kom daai een by my op, veral oor Bokvoet, hoofseun van die Boesmanskool, wat Herodes was, maar meer spesifiek oor die debakel wou sou volg."

"Die groot moeilikheid was klein Jannie van Aswegen, die sersant se kind. Hy kon nie 'n woord onthou wat hulle hom geleer het nie. Om dinge so min as moontlik te kompliseer, het hulle hom Josef laat speel. As hulle by die herberg aankom, moet hy sê, 'Ons soek blyplek'. Dis al. Hulle het ook mooi aan hom verduidelik dat 'n herberg amper 'n plek soos 'n hotel is waar 'n mens kan oornag - iets wat Jannie blykbaar goed verstaan het."

"Toe hulle die lakens voor die preekstoel ooptrek, kon jy sien klein Jannie is verbouereerd. Oor al die mense, sien. Die feit dat die Kommandant en RSM in die voorste ry gesit het, het sake ook nie vergemaklik nie. As sy pa so bang is vir hulle, moes hy vreesbevange gewees het. Maar die juffrou praat toe saggies met hulle, en terwyl die engelekoor 'Kom herwaarts getroues' sing, stap Josef in met Maria, wat op twee Boesmankinders in 'n donkiepak ry. Voor die herberg se deur stop hulle. Josef klop. Die herbergier maak oop."

" 'Jis, hoe lyk dit met 'n dop', sê Josef!"

[ENGLISH SUMMARY: Doc Sarel tells the guys about a nativity play that was performed by children of military pesonnell in the Caprivi. The big problem was one Jannie van Aswegen, son of a sergeant, who couldn't remember his words. To make things easier for him, they let him play Joseph, and his only words were 'We need accommodation', on reaching the inn. They also explained to him that an inn was almost like a modern day hotel.
From the outset it was clear that Jannie was one big bundle of nerves, especially on seeing all the people in front of him. He walked with Maria to the door of the inn, knocked, and when the innkeeper opened, said 'How about a drink!']





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!