kremetart1.jpg



NUWEJAAR op DORINGBAAI


No.22(8/1/1999)

"Ek wens Ouboet wil nou tot ruste kom!" sê vriend Hay waar ons langs die Hardekoolvuur by die Olifants sit. "Ek het nou al mý blikbeker vir hom aangebied, maar hy dring daarop aan om uit sy eie een te drink."

Toe ons vanmiddag van die wildbesigtigingsrit af kom, het Ouboet Dunn die Lister aan die gang gaan kry om water te pomp, en met sy terugkeer was sy beker weg, en sedertdien is hy soos 'n dwalende gees. Jongeling moes terugry na die plek waar ons die papwiel reggemaak het, om te kyk of hy hom nie dalk daar vergeet het nie. Onder protes, natuurlik, want hy reken sy ouboet is besig om waardevolle drinktyd te vermors met die soekery. Boonop is ons nou al almal daarvan beskuldig dat ons Ouboet probeer saboteer.

"Wie s'n is dit dié?" vra Solomon waar hy uit die skemerte aangestap kom met Ouboet se beker in sy hand.

"Myne! Waar kry jy hom, Sollie?" vra Ouboet, duidelik verlig.

"Op die dieseltenk by die Lister!" sê Sollie, terwyl ons skater van die lag, en Ouboet skaapagtig vir hom ietsie gaan skink.

"Smaak my jy het van die diesel loop suip!" sê vriend Hay agterna.

"Ja, dis maar swaar as 'n mens jou drinkgoed verloor," sê Dok Sarel. "Toe ek nog op Vanrhynsdorp gewerk het, is ek een aand hospitaal toe geroep om na Dawid Windvogel te gaan omsien. Hy was 'n man wat hom goed kon help aan die Oom Tas. Dit het ek geweet van vorige ondervindings met hom, maar ook aan sy gelaatstrekke, en natuurlik ook van die walms wat van sy rigting gekom het waar hy op die bed gelê het met 'n gapende wond aan sy kop."

'Weer baklei, Dawid?' vra ek toe terwyl ek sy kop toewerk.

'Wie, ek? Newwer Dok!'

"Toe vertel Dawid my hoe die eienaar van die plaas waar hy werk elke jaar na Nuwejaar al die plaaswerkers vir 'n dag see toe neem by Doringbaai. Dis elke jaar 'n groot okkasie, en daar word met mening ingepak en party gehou, en so aan. Dié jaar het die eienaar selfs besluit om die klomp af te neem met sy 8mm kamera."

"Die probleem, volgens Dawid, het gekom met die oplaai van die bagasie. Hy het fluks gehelp om almal op die lorrie te kry, want hy was haastig om weer 'n slag die bloudam te sien, en goed te kuier. Toe hulle uiteindelik ry Doringbaai toe, kom hy agter iemand het sy bottel Oom Tas gesteel. Soos Ouboet, het hy ook almal om hom beskuldig, maar op daai oomblik was die skelm dood. Volgens hom is hy dié jaar die Nuwejaar maar bra droëbek binne, en kon hy die dag glad nie geniet nie. Blykbaar het hy seesiek geraak van net die hele tyd oor die branders tuur, maar dit het hom wel opgeval dat Fielies Pekeur dié dag dronker was as gewoonlik. Maar bewyse het hy nie gehad nie."

"Toe, op die betrokke dag wat ek hom moes gaan toewerk, kom sê die plaas eienaar hy gaan die aand die film vir hulle wys wat hy gemaak het van hulle dag by die see. Hulle het vroegmiddag al begin geesvang vir die okkasie, en toe die film in die skuur begin rol, was Dawid 'n goeie end voor. Hoewel hy nie verbaas was nie, het dit tog vir hom as 'n skok gekom om op die film te moes sien hoe Fielies Pekeur sy bottel Oom Tas steel met die opklimslag. Hy het net daar onder groot gelag opgestaan en na Fielies toe gestap, en 'n wilde hou in sy rigting geslaan."

'Toe slaan hy terug, en dis hoekom jy só lyk?' vra ek.

'Niee, Dok, ekkit mish geshlat, toe vallek tienie proedjektir!'


[ENGLISH SUMMARY: Doc Sarel tells the guys about the time he had to suture a gaping scalp wound on Dawid Windvogel. Dawid was a farm labourer with an affinity for the bottle. On enquiring how he became wounded, Dawid told him that their employer normally take them to the seaside for a day early in the New Year. The last time they went, he had a miserable time, because someone stole his bottle of wine. Their employer shot an 8mm film of their outing, and on the day of the suturing decided to show it to them.
Dawid was well intoxicated by the time the film started rolling, but was still quite shocked to witness on the film how Fielies Pekeur stole his wine. This prompted him to walk up to Fielies and throw an almighty punch at him. Doc immediately enquired whether Fielies hit back, thus causing the wound.

"No, I lost my balance, and hit my head against the projector," came the reply! ]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!