REGVERDIGER BELASTING!
No.23 (22/1/199)
"Wat lyk my persoonlike lyfarts dan so bedruk vanaand?" vra vriend
Hay toe hy oudergewoonte laataand by ons aansluit by die Hardekoolvuur
langs die Olifants.
"Belasting, my vriend, belasting. Die Ontvanger is besig om my uit
te roei," sê Dok Sarel, terwyl hy net so proe-proe aan sy whisky. 'n
Gemeenskaplike sug gaan om die vuur, en dis duidelik dat almal min of
meer onder dieselfde las gebuk gaan.
"Julle ouens met eie besighede het darem nog maniere om die las 'n
bietjie te verlig, maar staatsamptenare soos ek en vriend John is skape
ter slagting," bekla ek ons lot nog verder. "Iewers moet iemand nou met
'n oplossing kom."
"Ek dink die oplossing lê daarin dat belasting gehef moet word op
seksuele omgang," verstom Jongeling Dunn ons. Vir 'n hele ruk sit ons
sprakeloos en teug aan die blikbekers.
"Dit klink na 'n interessante konsep, Jongeling!" sê Dok, nadat hy oor
die aanvanklike skok gekom het. "Vertel ons meer."
"Dok sien, as jy wegdoen met persoonlike en maatskappy belasting, en jy
belas die individu slegs met aksyns op sigarette en drank, en op die aantal
kere wat hy seksueel verkeer, word die belastinglas baie meer eweredig
versprei. OK, miskien nie op drank nie, maar ek het uitgewerk die Staat sal
miljarde meer kan verdien op dié manier, en dit behoort ook 'n goeie effek
te hê op die bevolkingsaanwas."
"Dis alles goed en wel, Jongeling, maar ouens soos ek en vriend Hay
betaal alreeds te veel belasting, nou wil jy hê ons moet nóg meer betaal!"
spog Hansman.
"Ek kan my vrou al hoor sê, 'Jy't nie geld om vir my nuwe skoene te
koop nie, maar jy kan dit mors op belasting!'," sê vriend Hay.
"Op 'n ernstige noot, Jongeling, hoe beplan jy om hierdie stelsel van
jou te administreer?" wil Dok geamuseerd weet.
"Ek het daaraan ook gedink, Dok. Ons weet almal dat Natuurbewaring
deesdae broodbome en renosterhorings met mikroskyfies merk, sodat hulle
uitgeken kan word as hulle gesteel word. In die tegnologiese eeu waarin ons
leef, behoort dit nie te moeilik te wees om 'n strategies geplaasde skyfie
in elke individu oor 18 in te plant, wat die nodige telling kan doen nie.
Een maal per jaar rapporteer jy by die Ontvanger, en hy 'lees' jou skyfie
met een van daai goed wat hulle in die supermarkte gebruik om die produkte
se strepieskodes mee te lees. Maal met X-bedrag, jy skryf jou tjek, en hulle
zero jou skyfie."
"En wat gemaak met ouens wat nie opdaag om sy skyfie te laat lees nie?"
vra Dok met nog groter belangstelling.
"Maklik, Dok. Jy bou 'n selfvernietigings meganisme in daai skyfie in. As hy
nie opdaag voor die sperdatum nie, word sy toekoms weggeblaas!"
"Jongeling, dis die mees briljante voorstel wat ek nog ooit uit jou mond
gehoor het. Op dié manier sal jy belastingontduiking as't ware met wortel en
tak uitroei!" sê Dok, terwyl Jongeling selfvoldaan terugsit en teug aan sy
blikbeker. Vir 'n rukkie is dit stil terwyl ons herkou aan die
Jongeling-plan.
Toe sê vriend Hay, "Jongeling se plan is meer 'n skelm set, as wat dit
briljant is, Dok, want op dié manier gaan hy die enigste ou wees wat nie
belasting betaal nie!"
[ENGLISH SUMMARY: There is a lot of complaints around the fire
regarding the tax burden. Youngster Dunn tells the guys about his plan for a
more reasonable method of levying taxes - personal and company tax should be
abandoned, tax on tobacco, and maybe alcohol kept, and an additional tax on
sexual intercourse levied. To administer his plan, a microchip that does the
counting is strategically implanted in all individuals above 18 years of age.
Once a year each individual visits the Receiver of Revenue where the
microchip is read electronically and the necessary calculations are made.
Once he has payed his taxes, the chip is zeroed. The chip is equiped with a
self destructing device - when an individual does not meet the deadline, his
future is blown away, so to speak.
Doc Sarel is highly impressed with Youngster's scheme, but friend Hay
points out that it is a bit devious - Youngster will be the only one never
having to pay taxes!]