KWAAI VROUENS!
No.24 (5/2/1999)
"Waar is al die ouens?" wil vriend Hay weet toe hy laat aand by ons
aansluit langs die Hardekoolvuur by die Olifants.
"Nee, dis maar net ons paar," sug vriend John swaarmoedig, terwyl die
naguiltjie se geroep droewiger klink as wat nodig is. "Hansman, Ouboet en
Mortier se vrouens het hulle gehok vir die naweek."
"'n Beneukte vroumens is 'n verskrikking. As dit myne was, het ek haar
summier gelos!" gee vriend Hay sy siening van sake.
"Dis hoekom ek nie getroud is nie, en ook nie sommer sal nie," sê
Jongeling Dunn leedvermakerig.
"Miskien is dit omdat jy nie juis 'n kans staan om 'n vrou te kry nie!"
kap Dok Sarel hom.
"Dis oor julle laas keer so moles gemaak het dat die ander nie hier is
nie," lig ek vriend Hay in. "Jou vrou het my ook gebel, en beswaar gemaak
oor jy laat en gesuip by die huis aangekom het. Maar ek verstaan dit nie
mooi nie, want julle is voor my, vriend John en Dok hier weg."
Vriend Hay lag verleë. "Toe ek die ander ouens by die Mica-afdraai
groet, toe sê hulle hulle gaan op Gravelotte by die Casa Creda 'n
halfwegdrankie drink. Toe besluit ek om saam te ry. Toe haak ons vas daar.
Later is ons honger, maar hulle bedien nie etes in die kroeg nie. Toe stel
Jongeling voor ons moet by die Polisie-kantien op Tzaneen gaan eet. Die
gevolg was dat ek Sondagnag half-een eers op Hoedspruit aangekom het."
"G'n wonder julle vrouens is woedend nie!" berispe Dok hom. "Wat julle
ouens moet besef, is dat ons vrouens in elk geval vermoed ons kom naweke
hierheen net om te drink. Jy moet seker maak dat jy niks doen wat haar
vermoede bevestig nie. So, as jy Sondagmiddag by die huis kom, is jy skoon
geskeer, en jy ruik nie na drank of hardekoolvuur nie. Met die afklimslag
omhels jy haar, en vertel haar hoe verskriklik jy na haar verlang het. Dan
is jou paspoort gestempel vir die volgende besoek!"
"Ek verstaan nie hoe sy kan sê dat ek gesuip was nie. Sy het al geslaap
toe ek by die huis kom," sê vriend Hay nadat hy 'n rukkie nagedink het. "In
elk geval, Dok, ek hoor wat jy sê, maar ek volg 'n ander strategie. Dit het
nog altyd gewerk."
"As ek laat by die huis kom, en boonop na drank ruik, dan
skop ek die voordeur met 'n moerse lawaai oop, en ek skree in die gang af
'EK SMAG NA ROWWE SEKS'! Gewoonlik slaap sy as ek in die kamer kom!"
[ENGLISH SUMMARY: Quite a few of the regulars didn't turn up
for the weekend, because their wifes refused them permission. The reason for
this being that they came home very late, and drunk, the previous time. Doc
Sarel explains to them that it is good practise to arrive home early, clean
and sober. If they then tell their wifes how often they had been thinking of
them, their next visit should be ensured.
Friend Hay explains that he uses a completely different strategy. When he
arrives late, smelling of alcohol, he makes a huge noise when opening the front
door. Then he shouts 'I WANT SEX, NOW'! Normally his wife is asleep when he
enters the room.]