kremetart1.jpg



STUKKENDE TV!


No.25 (19/2/1999)

"Toe wen ons wragtig!" sê vriend John terwyl hy vroegoggend die assies van die kole blaas, om die Hardekoolvuur weer aan die gang te kry hier langs die Olifants.

"Ja-nee, my ou maat, en dit nogal in hulle eie agterplaas!" deel ek sy ingenomendheid, terwyl ek vir ons 'n regmakertjie skink. Ons was 4 uur al op om alles reg te kry vir die toets teen die All Blacks. 'n Paar Hadedas het nog met die kragopwekker probeer kompeteer, maar toe Percy die eerste skop oorskop, het ons alles wat lewe hierlangs stil geskree.

"Ja, vandag het die wêreld weer kennis geneem van die Afrikaner," stort Jongeling sy misplaaste patriotisme uit.

"Jongeling, wil jy vir my sê Teichman, Garvey en die ouens is Afrikaners?" vererg Dok Sarel hom soos gewoonlik. "Chester miskien nog, maar nie die ander nie. In elk geval het jy hulle laas nog as Engelse bestempel, as ek reg onthou." Jongeling verkies om stil te bly.

"Hoe dit ookal sy, ek stem saam, dit was wragtig lekker. En ek wil sommer namens ons almal vir jou dankie sê vir die moeite wat jy gedoen het om die toets vir ons hier te kry", sê Dok terwyl hy in my rigting kyk. "In elk geval was ek nie lus om weer by die Fort Copiba te gaan kyk, soos laas met die toets teen die Franse nie."

"Wat was fout laas keer, kon julle nie ontvangs kry nie?" vra Hansman, wat daai keer, volgens hom, familie verpligtinge moes bywoon.

"Nee, maar dit was 'n bleddie gemors. Toe ons 'n halfuur voor die wedstryd regsit met die blikbekers en biltong om te begin geesvang, toe vrek die TV." verduidelik ek. "Toe gaan bel Jongeling die ouens van Early Bird op sy selfoon, en vra dat hulle gou moet kom regmaak. Toe sê hulle Jongeling moet in sy moer vlieg, hulle kom nie op 'n Saterdag uit nie, veral nie met 'n toets op hande nie, en definitief nie na so 'n woeste en leë plek soos hierdie nie. Toe besluit ek en vriend Hay ons sal self die TV regmaak, toe maak ons hom oop."

"Maar dis onwettig!" sê Hansman.

"Ek weet, maar die kalf was in die put, die redelike man, noodweer, en al daai dinge was ter sprake. Toe krap ons daar agter in die TV rond, maar kry nie die fout nie. Ons skroef hom toe maar weer toe, en ry Fort Copiba toe. Die eerste helfte moes ons op die radio luister, maar die tweede helfte kon ons toe darem sien."

"Maandag laat kom ek toe die ou van Early Bird. Hy maak daai TV oop, en vra vir my of iemand in die TV gekrap het. Ek sê, 'Nooit, dis teen die wet!' "

"Toe sê daai ou:

'Meneer, dis snaaks, want hier is 'n blikbeker met goed beleë wyn agter in die TV!'


[ENGLISH SUMMARY: The chaps were preparing to watch a rugby match on TV one Saturday, when the TV went dead. They called the repair services, but they refused to come out, so they tried to repair it themselves. They opened the back of the TV, but couldn't find the fault, so they closed it again.

The next Monday the author took the TV in for repairs. After opening it, the repairman asked the author whether someone has opened the TV. Since that is an illegal act, the author replied in the negative. On which the repairman replied that something funny was going on, since there was a mug with matured redwine in the back of the TV!]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!