kremetart1.jpg



ENERGIELOOS!


No.26 (5/3/1998)

"Kom ons gaan klim die Klipkoppie," sê ek waar ons aan die blikbekers sit en suig langs die Hardekoolvuur by die Olifants, "Solomon wou laas nog vir my 'n boom daar gaan wys het."

"Ja, ek is self nou moeg van al die stilsit," sê vriend John, en Hansman lyk ook lus vir stap.

"Ek gaan nêrens," sê Jongeling Dunn, terwyl hy heen en weer wieg op die stomp waarop hy sit, "ek het nie energie vir 'n rondvallery nie." Sy Ouboet en vriend Hay skud ook net hul koppe, en sit behaaglik agteroor.

"Staking van stemme, Dok. Wat sê jy?" vra ek.

"Soos Einstein ons vertel het, is energie 'n relatiewe begrip. Dis wat ek sê." verander Dok Sarel die invalshoek, terwyl hy aan sy whisky suig. "Met die uitsondering van Jongeling, is julle seker almal vertroud met sy energie-formule," gaan hy voort, terwyl hy E=mc² met 'n stokkie op die grond voor hom skryf.

"Dié formule sê die totale hoeveelheid energie opgesluit in 'n liggaam is die produk van sy massa en die kwadraat van die snelheid waarteen hy beweeg," verduidelik Dok verder, terwyl hy rondspeel met die stokkie en die formule. "As jy die formule toepas op 'n energielose liggaam soos Jongeling s'n, dan is dit duidelik dat sy staat van energieloosheid toe te skryf is aan die afwesigheid van snelheid, want ons kan duidelik sien hy het massa."

"Genoeg!" sê vriend Hay en koes instinktief.

"Snelheid is natuurlik 'n funksie van beweging," gaan Dok voort, en soos sy woorde insink, begin Jongeling al hoe vinniger heen en weer wieg op die boomstomp!

"Die beweging moet natuurlik liniêr wees, so jy kan maar ophou met jou wiegery, Jongeling!" sê Dok.

"Wat Dok vir jou probeer sê, Jongeling, is dat jy volgens Einstein baie meer energie sou gehad het as jy dit sou oorweeg het om meer te beweeg," sê vriend John.

Op daai oomblik staan Jongeling op en stap weg.

"Gaan jy Klipkoppie toe?" vra vriend Hay verbaas.

"Nee," sê Jongeling terwyl hy al hoe vinniger stap, "Dok forseer my kleinhuisie toe!"

"Jy't te veel energie!" skree vriend Hay agterna.


[ENGLISH SUMMARY: The discussion around the fire deals with Youngster Dunn's lack of energy. By using Einstein's energy formula, E=mc², Doc Sarel explains to him that his lack of energy is caused by the fact that he has no velocity, which is due to the fact that he is not moving at all. At that point Youngster gets up and quickly walks in the direction of the loo.
"You've got too much energy!" comments friend Hay.]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!