WIE'S die BAAS?
No.27 (19/3/1999)
"Van nou af skiet ek elke bleddie bobbejaan vrek wat ek teëkom," sê
vriend Hay, erg beswaard waar ons vergader is om die Hardekoolvuur langs
die Olifants.
Ons deel almal sy misnoeë met die bobbejane wat toegang tot die huis
verkry het deur 'n oop venster, terwyl ons in die veld was. Die ergste is
nou nie juis dat hulle alles opgevreet het wat eetbaar was nie, maar die
gemors wat hulle gemaak het.
"Daar's die binne toilet én die longdrop, maar wragtig, hulle moet
hulle ablusies binne-in die huis kom doen!" som Hansman min of meer ons
almal se gevoel op. Na 'n geswoeg is alles darem weer skoon, ons inkluis,
en kan ons rustig aan die blikbekers teug.
"Die wetteloosheid van die Nuwe Suid-Afrika strek nou al tot in die
diereryk," trek Jongeling Dunn los, en selfs Dok Sarel sien nie die
nodigheid om hom die keer te berispe nie.
"Ja, dit het my nog altyd verstom hoe naby bobbejane aan mense is, en
andersom," sê Nick Smith. Doodgoeie mens wat Nick is, is hy nou nie juis
bekend vir sy politieke korrektheid nie. Hy beweer hoeka dat hy 'n
stigterslid van die AWB was, maar deesdae is hulle 'n bietjie te links na sy
sin. En dit van iemand wat Dr. Marius Barnard, voormalige hartchirurg en PFP
Volksraadslid, onder sy vriende tel. Nick reken hy was op 'n stadium baie
naby daaraan om Dr. Marius vir die AWB te werf!
"Op Skukuza is Phineas Mahlangu in beheer van die
stortingsterrein," gaan Nick voort. "In beheer is eintlik 'n bietjie
misleidend, want Phineas is nie juis die flukste amptenaar in diens van die
Parkeraad nie. En dan is Timer, die leier van die bobbejaantrop wat daar naby
in 'n jakkalsbessie bly, ook nog ter sprake."
"Elke oggend as Phineas daar aankom, dan klim Timer eerste uit die boom,
en die res van die trop volg hom. Soos wat Phineas sy kruiwa rondstoot, stap
Timer saam, hand op die kant van die kruiwa, en as die vragte vuilgoed in kom,
sorteer hulle twee dit. Die eetbare goed word min of meer gelykop verdeel.
Die minder eetbare gaan na die res van die trop. Maar dié reëling geld nie
vir drank nie - Timer sorg dat hy elke bietjie oorskiet eerste drink, en
selfs julle sal respek hê vir sy kapasiteit!"
"Teen eenuur gaan sit Phineas in die koelte van 'n wag-'n-bietjie, eet,
en knip 'n uiltjie. Timer en die trop rus onder die jakkalsbessie. Twee-uur
stap Timer tot by die kruiwa, klop op 'n ou horlosie aan sy linker arm, en skree
'boggom' in Phineas se rigting! Dan hervat Phineas maar gedweë sy werk."
Ons wil ons omtrent breek vir dié storie wat Nick aan ons probeer
verkoop.
"Die ander aand het ek 'n program oor die Wildtuin op TV gesien," sê Dok
toe ons uiteindelik kalmeer. "Hulle het daai trop bobbejane gewys waarvan
Nick praat. Alles wat Nick sê, is waar. Ek het net nie die horlosie gesien
nie!"
[ENGLISH SUMMARY: Nick Smith tells the guys about the situation
at the rubbish dump near Skukuza in the Kruger Park. The dump is ruled by
a troop of baboons that live in a nearby tree. Every morning when Phineas
Mahlangu the caretaker arrives, he is joined by the leader of the troop, which
walks with him as he pushes his wheelbarrow. Between them they sort all the
rubbish that comes in. The edible bits they share equally, while the less
edible is left for the remainder of the troop. The leader has sole rights on
any left over beaverages.
At lunch time, Phineas retires under a tree, and take a nap. So does the
baboon. At two o' clock the baboon walks to the wheelbarrow, taps his left
wrist, and wakes Phineas with a loud bark!]