IS WAGTER DOOD?
No.28 (2/4/1999)
"So jy sê daar is lewe daar buite?" vra ek waar ons laataand om die
Hardekoolvuur langs die Olifants sit en sterrekyk.
"Ongetwyfeld!" sê vriend John, die sterreman.
"Dis nou al weer een van daai stellings wat julle nie kan bewys nie,"
sê Jongeling Dunn, terwyl hy die blikbekers optop, "ek raak nou moeg vir
dié tipe goed."
"Ek dink jy is al voorheen daarop gewys dat alles nie bewysbaar is nie,
Jongeling, maar as jy vat dat ons sonnestelsel maar een van miljarde in ons
sterrestelsel is, en dat daar miljarde sterrestelsels is, dan is die
statistiese moontlikheid dat daar nog planete is met die aarde se eienskappe
baie goed. En dan is die kans vir lewe daarbuite ook baie goed," sê vriend
John.
"Hoe intelligent sal sulke lewe kan wees?" vra Ouboet Dunn.
"Dis baie moeilik om te sê, want dit hang van 'n duisternis faktore af.
'n Ou kan maar net raai," sê vriend John.
"Die vraag is natuurlik wat is intelligente lewe," sê-vra Dok Sarel, "praat
'n mens van intelligent soos honde en dolfyne, of soos 'n seekat, wat
verbasende intelligente gedrag openbaar, of praat jy in die lyn van iets
soos Jongeling?"
"Dis min of meer dieselfde as die eerste paar wat jy genoem het, Dok!"
kry vriend Hay sy gebruiklike steek in.
"My oorlede oom Johannes het 'n hond gehad wat baie intelligent was,"
stuur Hansman die gesprek in 'n ander rigting. "Wagter was 'n kruising
tussen 'n Labrador en 'n Staffordshire terrier."
"Oom Johannes het op Soekmekaar gebly, en hy het 'n slag gehad om geld
uit niks te maak. Sy seun, neef Hannes, was 'n man wat geweet het hoe om geld te
spandeer, en hy het 'n affiniteit vir die lewe gehad. Na skool is hy
Stellenbosch toe om te gaan leer, maar sy affiniteit het hom gekós. Toe hy
die derde keer eerstejaar is, raak sy geld op 'n kol op. Hy skryf toe vir sy
pa 'n brief, en vertel hom van 'n ou wat hy in die Strand ontmoet het wat
honde leer praat. Synde Wagter nou so intelligent is, dink hy dit sal 'n goeie
idee wees as sy pa Wagter afstuur sodat hy geleer kan word om te praat. Dit
kos R800. Sy pa sien toe onmiddellik die moontlikheid vir geldmaak met 'n
pratende hond, en sit die hond op die trein. Die R800 telegrafeer hy."
"Na 6 maande doen oom Johannes navraag na Wagter se vordering. Neef
Hannes laat weet dit gaan uitstekend, die hond praat Engels vlot. Sy pa
besef 'n hond wat Engels praat, sal nie deug in Soekmekaar se wêreld nie, en
doen navraag of hulle nie die hond Afrikaans kan leer nie. Nog R1500 laat
weet neef Hannes!"
"Aan die einde van die jaar kom neef Hannes en tweetalige Wagter met die
trein huis toe. Op Soekmekaar is 'n groot ding gereël. Daar is 'n
verwelkomingskommitee op die stasie, die pers is daar, die burgemeester
gaan 'n toespraak maak, en Wagter moet die hoofrede lewer. Mense het van oral
gekom en toegangsgeld betaal om die hond te sien en veral te hóór."
"Langs die pad besef neef Hannes hy het probleme, en iewers in die
Karoo gooi hy in die middel van die nag vir Wagter by die treinvenster uit.
Toe die trein by Soekmekaar stasie instoom, sien Neef Hannes nie kans om af
te klim nie. Hy vra die kondukteur om sy pa te laat roep. Toe sy pa by hom
in die kompartement kom sit, is neef Hannes in trane.
'Waar is Wagter?' wil
sy pa weet. 'Pa sien,' snik neef Hannes deur die trane, 'ek en Wagter het
oor baie goed gesit en gesels langs die pad. Toe ons hier by Munnik deurkom
toe begin Wagter snaakse stories praat. Hy sê hy gaan vir die mense op die
stasie vertel van pa se liefde vir vrouens, en hoe pa in die verlede
rondgeslaap het in die distrik. Toe vererg ek my vir sy nonsenspratery en gooi
hom by die venster uit.' "
"Oom Johannes het 'n hele ruk gesit en dink, toe vra hy:
'Is jy seker
hy's dood, ou seun?'!
[ENGLISH SUMMARY: Hansman tells the guys about his cousin
Hannes who went to university, but basically just wasted his father's
money. At some stage he ran out of money, and wrote to his dad that he met
someone who taught dogs to talk, and requested his dad to send their dog
Wagter, together with R800 tuition fees. After 6 months his father inquired
about Wagter's progress, and Hannes informed him that the dog was fluent in
English. Realizing that the dog would be of no use in an Afrikaans community,
he requested that the dog should be taught to speak Afrikaans, and had to
send another R1500 for the purpose.
At the end of the year Hannes and Wagter came home by train. A huge
reception party was arranged in their home town, where Wagter was supposed
to make a speach. On the way Hannes realized that he was in trouble, so he
threw the dog off the train. At the station he requested the conductor to
call his dad. With tears in his eyes he explained to his dad that he had a
long discussion with the dog during the journey, and the dog told him the
shocking news of his dad's infidelity and affairs with other women. He
thought it best to throw the dog off the train.
After some thought his
dad asked whether he was sure the dog was dead!]