kremetart1.jpg



IS WAGTER DOOD?


No.28 (2/4/1999)

"So jy sê daar is lewe daar buite?" vra ek waar ons laataand om die Hardekoolvuur langs die Olifants sit en sterrekyk.

"Ongetwyfeld!" sê vriend John, die sterreman.

"Dis nou al weer een van daai stellings wat julle nie kan bewys nie," sê Jongeling Dunn, terwyl hy die blikbekers optop, "ek raak nou moeg vir dié tipe goed."

"Ek dink jy is al voorheen daarop gewys dat alles nie bewysbaar is nie, Jongeling, maar as jy vat dat ons sonnestelsel maar een van miljarde in ons sterrestelsel is, en dat daar miljarde sterrestelsels is, dan is die statistiese moontlikheid dat daar nog planete is met die aarde se eienskappe baie goed. En dan is die kans vir lewe daarbuite ook baie goed," sê vriend John.

"Hoe intelligent sal sulke lewe kan wees?" vra Ouboet Dunn.

"Dis baie moeilik om te sê, want dit hang van 'n duisternis faktore af. 'n Ou kan maar net raai," sê vriend John.

"Die vraag is natuurlik wat is intelligente lewe," sê-vra Dok Sarel, "praat 'n mens van intelligent soos honde en dolfyne, of soos 'n seekat, wat verbasende intelligente gedrag openbaar, of praat jy in die lyn van iets soos Jongeling?"

"Dis min of meer dieselfde as die eerste paar wat jy genoem het, Dok!" kry vriend Hay sy gebruiklike steek in.

"My oorlede oom Johannes het 'n hond gehad wat baie intelligent was," stuur Hansman die gesprek in 'n ander rigting. "Wagter was 'n kruising tussen 'n Labrador en 'n Staffordshire terrier."

"Oom Johannes het op Soekmekaar gebly, en hy het 'n slag gehad om geld uit niks te maak. Sy seun, neef Hannes, was 'n man wat geweet het hoe om geld te spandeer, en hy het 'n affiniteit vir die lewe gehad. Na skool is hy Stellenbosch toe om te gaan leer, maar sy affiniteit het hom gekós. Toe hy die derde keer eerstejaar is, raak sy geld op 'n kol op. Hy skryf toe vir sy pa 'n brief, en vertel hom van 'n ou wat hy in die Strand ontmoet het wat honde leer praat. Synde Wagter nou so intelligent is, dink hy dit sal 'n goeie idee wees as sy pa Wagter afstuur sodat hy geleer kan word om te praat. Dit kos R800. Sy pa sien toe onmiddellik die moontlikheid vir geldmaak met 'n pratende hond, en sit die hond op die trein. Die R800 telegrafeer hy."

"Na 6 maande doen oom Johannes navraag na Wagter se vordering. Neef Hannes laat weet dit gaan uitstekend, die hond praat Engels vlot. Sy pa besef 'n hond wat Engels praat, sal nie deug in Soekmekaar se wêreld nie, en doen navraag of hulle nie die hond Afrikaans kan leer nie. Nog R1500 laat weet neef Hannes!"

"Aan die einde van die jaar kom neef Hannes en tweetalige Wagter met die trein huis toe. Op Soekmekaar is 'n groot ding gereël. Daar is 'n verwelkomingskommitee op die stasie, die pers is daar, die burgemeester gaan 'n toespraak maak, en Wagter moet die hoofrede lewer. Mense het van oral gekom en toegangsgeld betaal om die hond te sien en veral te hóór."

"Langs die pad besef neef Hannes hy het probleme, en iewers in die Karoo gooi hy in die middel van die nag vir Wagter by die treinvenster uit. Toe die trein by Soekmekaar stasie instoom, sien Neef Hannes nie kans om af te klim nie. Hy vra die kondukteur om sy pa te laat roep. Toe sy pa by hom in die kompartement kom sit, is neef Hannes in trane.

'Waar is Wagter?' wil sy pa weet. 'Pa sien,' snik neef Hannes deur die trane, 'ek en Wagter het oor baie goed gesit en gesels langs die pad. Toe ons hier by Munnik deurkom toe begin Wagter snaakse stories praat. Hy sê hy gaan vir die mense op die stasie vertel van pa se liefde vir vrouens, en hoe pa in die verlede rondgeslaap het in die distrik. Toe vererg ek my vir sy nonsenspratery en gooi hom by die venster uit.' "

"Oom Johannes het 'n hele ruk gesit en dink, toe vra hy:

'Is jy seker hy's dood, ou seun?'!


[ENGLISH SUMMARY: Hansman tells the guys about his cousin Hannes who went to university, but basically just wasted his father's money. At some stage he ran out of money, and wrote to his dad that he met someone who taught dogs to talk, and requested his dad to send their dog Wagter, together with R800 tuition fees. After 6 months his father inquired about Wagter's progress, and Hannes informed him that the dog was fluent in English. Realizing that the dog would be of no use in an Afrikaans community, he requested that the dog should be taught to speak Afrikaans, and had to send another R1500 for the purpose.
At the end of the year Hannes and Wagter came home by train. A huge reception party was arranged in their home town, where Wagter was supposed to make a speach. On the way Hannes realized that he was in trouble, so he threw the dog off the train. At the station he requested the conductor to call his dad. With tears in his eyes he explained to his dad that he had a long discussion with the dog during the journey, and the dog told him the shocking news of his dad's infidelity and affairs with other women. He thought it best to throw the dog off the train.
After some thought his dad asked whether he was sure the dog was dead!]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!