GOD SE HUIS
No. 29 (16-4-1999)
"Ai, maar die sterre is darem mooi helder vanaand," sê vriend John, waar
ons om die Hardekoolvuur langs die Olifant sit. Hy streel saggies oor die
kitaarsnare, en ons sing 'Boesmanland' ter ere van Worsie Visser, terwyl ons
rustig teug aan een van sy Pinotages.
"Jy't my lank laas een van jou drome vertel," sê hy, "of het hulle
opgedroog?"
"Nee, ek droom nog, veral nou met die rugbyseisoen, en die Bokke wat vir
'n slag goed doen, veral teen Nieu-Seeland."
"Dit ís om van te droom, is dit nie? Maar laat ek hoor!"
"Nou die nag nadat die Bokke hulle so in die doodsnikke geklop het, droom
ek mos ek is die Nieu-Seelandse afrigter, John Hart. Maar ek droom die
Nieu-Seelandse publiek stenig my omdat die All Blacks nie veel hond haar-af
kon maak in die 3 Nasie kompetisie nie. Jy weet mos hoe erg is daai klomp oor
rugby."
"Ja, ek verneem hulle is erger as Noord-Transvaal ondersteuners," beaam
vriend John, "veral as hulle verloor."
"Dis nes jy daar sê. Maar in elk geval, ek droom toe ek is dood, en op
pad hemel toe. Die keer hoef ek gelukkig nie daai paal by Loftus uit te klim
nie, ek vlieg sommer Air New-Zeeland. Derdeklas, maar darem verniet - hulle
is seker maar te bly om ontslae te wees van my. Ek word sommer daar voor die
hekke afgelaai."
"Met die aankoms sê Petrus vir my hulle het my al eerder verwag, maar ek
het nie die vaagste benul wat hy dáármee bedoel nie. Toe sê hy ons moet stap,
hy wil vir my gaan wys waar is my huis. Die hele dag stap ons twee oor die
mooiste groen heuwels en deur die pragtigste valleie. Ek dog amper ek is
terug in Nieu-Seeland."
"Laatmiddag kom ons by so 'n pondokkie, met 'n klein varingblaartjie op
die voordeur, so half eenkant in 'n gat. Ek kyk rond, en oorkant op 'n heuwel
staan 'n kolossale huis met die pragtigste uitsig op die hemel. Oral op daai
huis wapper daar Suid-Afrikaanse vlae - oues, nuwes, vierkleure, die werke.
Op die voorste gewel is 'n massiewe springbok embleem."
"Ek leen Petrus se verkyker om beter te kan sien. Aan die een kant van
die huis is 'n lekker sonstoep, met trofeë teen die muur - opgestopte
hoenderhaan, wallabie, kiwi, poema, selfs 'n verwelkte rooi roos in 'n
glasie. Toe sê ek vir Petrus, dis nou maar reg, want die Bokke het ons
regverdig gewen, maar is dit regverdig dat Nick Mallet só 'n huis moet kry,
en ek het net 'n pondokkie."
"Toe sê Petrus ek moenie laf wees nie, dis God se huis daai!"
[ENGLISH SUMMARY: In one of his famous dreams, the author
dreamt that he was the New-Zeeland rugby coach, John Hart. Actually he
dreamt he was dead, stoned by the NZ public for the All Blacks' poor
performances in the Tri Nations competition. On arrival in heaven, St Peter
went to show him his house, which turned out to be a very modest dwelling.
Across the valley on a hill was a mansion, decorated with South-African
flags, a statue of a springbuck, and other rugby memorabilia. Puzzled, he
enquired from St Peter why the South-African coach Nick Mallet had such a
grandiose house in comparison to his.
"Because that is not Mallet's
house, but God's," replied St Peter!]