TJAART se TROUE
No.3 (4/7/1998)
"Ek wonder wat lawaai die bobbejane dié tyd van die nag so?"
vra vriend John, waar ons langs die hardekoolvuur by die Olifants sit.
"Luiperd," sê Dok Sarel, "luister mooi, jy kan sy skor
gegrom tussen die angsskreeue van die bobbejane hoor." Selfvoldaan
vat Dok 'n diep teug aan die whisky in sy BLIKBEKER. Ons
luister, en wragtag, Dok is reg! Vir 'n hele ruk sit en verluister ons
ons aan die skermutseling oorkant die rivier. Dok Sarel het ons laas so
verbaas, dat ons besluit het om hom elke keer saam te bring. Dis boonop
handig in geval van nood, en buitendien is sy konsultasies op so 'n naweek
gratis.
"Wanneer vertel Dok weer 'n slag vir ons 'n storie?" waag
Jongeling Dunn dit. Dok haal 'n pakkie Chesterfield uit sy sak, en vat 'n
paar diep teue van beide die sigaret en die whisky. "Miskien moet ek
julle vertel van Tjaart se troue."
"Mortier, skink gou nog 'n rondte," skree Hansman opgewonde,
met die hakkelstorie nog vars in almal se geheue.
"As studente het 'n klomp van ons saam in 'n huis gewoon, nog voor
'n kommune uitgevind is. Op 'n Saterdagmôre kom Inus by ons aan, en vra of
ons saamgaan na Tjaart se troue toe. Tjaart het saam met ons rugby gespeel,
en gaan trou met 'n meisie van Naboomspruit. Haar pa is die rykste en mees
vooraanstaande boer in die omgewing. Ons is nie genooi nie, maar synde Inus
ons nou nooi, gaan ons saam. Ses van ons in KleinPiet se Fiat.
"In Silverton by die Palms Hotel hou KleinPiet stil dat ons ons
dors kan les. Op Warmbad is ons weer dors. En op Nylstroom. Toe ons op
Naboom by die hotel stilhou, is dit so 'n driekwartier voor die troue. Ons
trek ons pakke aan. Inus het sy skoene by die huis vergeet, maar gelukkig
het KleinPiet 'n paar ekstra vellies in die kattebak. Die probleem is net,
KleinPiet het ook die kleinste voete, en Inus die grootste. Nou ruil ons
so uit dat elkeen 'n paar het wat pas, maar héluit druk, behalwe vir
KleinPiet, natuurlik.
"Toe ons in die kroeg sit om die druk van die skoene te verlig,
vra Pine waar ons dan nou eintlik die aand gaan slaap. Inus verseker ons
die bruid se pa het op die plaas voorsiening gemaak vir die ouens 'wat van
vêr af kom', soos hulle altyd op troues en begrafnisse sê.
"Toe ons ons oë uitvee, is die kerkdiens al 'n halfuur aan die
gang! Nou gaan wag ons maar by die stadsaal vir die onthaal. By die onthaal
is ons nou goed op ons stukke. Ons sing uit volle bors. Ons hekel die
bruidegom. Die gaste is gaande oor die studente se manewales. Jy kan maar
sê óns tafel is die hóóftafel. Die jongmeisies háng aan ons op die dansvloer.
Naboomspruit is aan ons voete!
"Later ry ons uit plaas toe. Ons het heelwat wyn en bier van die
onthaal af saamgebring, en kuier te lekker. Op die plaas is die reëling dat
ons jongmanne in 'n skuur slaap. Die meisies slaap in 'n rondawel so skuins
oorkant. Kort voor lank gaan kuier ons by hulle. Die bruid se broer se
verloofde is ook tussen hulle. Op die dansvloer het sy en Peet 'n sinnigheid
in mekaar gekry. Dié twee is in 'n ernstige omhelsing toe Boetie deur die
venster loer. Hy gaan roep vir Pa.
"Toe ons weer sien, staan Pa in die deur. 'Julle het genoeg
moeilikheid vir een dag gemaak. Trap van my plaas af!' bulder Pa, terwyl
die spiertjie op sy regter wang so spring-spring. Inus kom tot die redding
met 'Oom, ek besef ons het oom-hulle se gasvryheid ernstig misbruik, maar ek
dink dit sal uiters onverantwoordelik wees om ons in ons toestand op die pad
te laat gaan. Ons sal nou gaan slaap, en ek sal hierdie ouens persoonlik in
bedwang hou. Môre vroeg ry ons.' Pa besef toe Inus is eintlik reg, en nadat
hy die voorwaardes vir ons verdere verblyf uitgespel het, is ons terug skuur
toe. Peet sit die heel nag by die deur en sing 'Boetie sy's 'n Perskeblom'.
"Sesuur die volgende môre word die ganse plaas wakker van 'n helse
gedruis buite - ons 6 in die swembad, net in ons onderbroeke! Toe Pa daar
uitstorm, dog ek ons is dood. Sy instruksies is kort en kragtig - trap, nóu!
Toe ons klaar gepak het, is daar 'n aansienlike skare op die grasperk
versamel om ons af te sien, of dan eerder 'weg te sien'. Inus steek 'n
hartroerende toespraak af van hoe gul ons ontvang is, hoe ons alles terdeë
geniet het, en hoe innig jammer ons is dat ons ons so wangedra het!
"Toe groet ons 'n ieder en 'n elk met die hand, en klim in die
Fiat. Behalwe Peet. Deur die hele seremonie het hy so eenkant gestaan en
in die verte ingetuur. Toe ons al almal sit, stap hy na Verloofde toe, sê
'Till we meet again', soen haar (en haar alleen), klim in die kar, en toe
ry ons.
"Peet is later met haar getroud, maar ons was nie genooi nie...
"
(ENIGE OOREENKOMS MET WERKLIKE PERSONE IS BLOOT TOEVALLIG!)
[ENGLISH SUMMARY: After the small talk, Doc Sarel tells a
story on how he and friends, as students, attended their friend Tjaart's
wedding. They went on a drinking spree on their way to the wedding, and
found themselves late for the ceremony in the church, so they joined the
party at the reception in the city hall. They stole the show with their
antics at the reception, and later moved on to the farm of the bride's
father, where they were spending the night. Soon they found themselves
joined up with the young girls for some more antics. The bride's brother
did not like what he saw when he looked through the window - Peet in an
embrace with hís fiancée. He called his father to the scene, who was
obviously furious, and instructed them to leave the farm. After reminding
him of their state of insobriety, he allowed them to stay, on strict
preconditions.
The next morning everyone was awoken by a commotion in the swimming
pool - our semi-naked friends. At that point they had to leave. In a
somewhat formal ceremony they politely said farewell to everyone, and got
into their car. Except Peet. He walked up to the fiancée, kissed her
(and only her), and got into the car.
Peet later married the fiancée, but didn't invite any of them to his
wedding... ]