kremetart1.jpg



SOLOMON DINK!


No.30 (30-4-1999)

"Kom jy saam?" vra Solomon, waar ons vroegoggend 'n koppie koffie langs die Hardekoolvuur by die Olifants drink.

"Waarheen?" vra ek, my oë nog dik van die slaap.

"Klipkoppie toe. Jy't lankal gesê jy sal my sê watse boom daar staan."

"Kom ons loop," sê ek terwyl ek die boomboek in die rugsak gooi. Sollie loop voor, en soos ons aanstap toets hy my kennis deur bome aan my uit te wys. Rosyntjiebos, Knoppiesdoring, Lekkerruikpeul, Sekelbos, Vaalboom.

"Wat is dit dié, Sollie?" vra ek toe ons by 'n klein boompie met handvormige blare verbystap. Hy kyk lank en deeglik, maar dis duidelik dat hy onseker is.

"Kremetart, 'n kleintjie." Sollie is baie verbaas, want niemand het hom nog hierlangs gesien nie. 'n Entjie verder staan nog een. Sollie vertel my dat sy mense glo jy kry nie klein kremetarte nie, sekerlik omdat hulle baie skaars is, maar ook omdat hulle nie juis soos 'n kremetart lyk as hulle klein is nie.

"Hierdie een ken jy nie," sê Sollie met 'n vonkel in sy oog, terwyl hy aanleun teen 'n boom met 'n grys stam waarvan die bas in klein reghoekige blokkies opbreek.

"Tambotie? Sambokpeul? Kiaat?" hou ek my dom.

"Ek sien jy't dom geword. Hardekool!" en ons lag lekker vir die grappie.

"Hierdie een," sê Sollie toe ons by die klipkoppie kom, "hy lyk bietjie soos maroela, maar nie dieselfde nie."

"Ja, hy lyk so, Sollie, maar dis 'n Bastermaroela. Die stukke van sy bas wat afskilfer is langer en nie so mooi rond soos 'n maroela s'n nie." Sollie lyk beïndruk toe ek die verskille vir hom uitwys in die boek.

"Kom ek gaan wys jou waar ek altyd gaan sit om te dink," sê Sollie, terwyl ons teen die koppie uitklim. Op die koppie gaan sit hy op 'n granietrots. Aan ons linkerkant lê die Olifants, met 'n poel waar die seekoeie lê en snork. In 'n droë trosvy sit 'n visarend, en voor ons lê die veld oop, behalwe vir 'n paar haak-en-steke hier en daar.

"Wat dink jy as jy hier kom sit, Sollie?" vra ek.

"Baie goed - die veld, die diere, en so. Die anderdag sit ek hier en kyk hoe speel die meerkatte daar onder. Ek dink, hulle is soos die kinders, hulle laaik van speel. Ek sien die arend sit in die jakkalsbessie daar en hy kyk rond. Ek dink, miskien hy soek iets. Daai arend vlieg hoog in die lug op. Ek dink, miskien hy's bietjie lus vir vlieg. Later kan ek hom nie meer sien nie. Toe skielik duik hy af en vang 'n meerkat met sy pote. Ek dink, hy's lus vir eet. Hy vlieg weg met die meerkat en soos hy vlieg, daai meerkat skree soos die babatjie. Ek dink,..."

"Wat dink jy, Sollie?" vra ek toe dit lyk of hy nie verder wil vertel nie.

"Ek dink, daai meerkat, miskien hy laaik nie van vlieg nie!"


[ENGLISH SUMMARY: Solomon takes the author to a viewpoint on a hill where he normally goes when he feels like pondering. The author enquires about the things that Solly thinks.
Solly tells him how he was watching mongooses playing on the plain below. He thought they were like children. Then he noticed an eagle sitting in a tree, viewing the surroundings. He thought the eagle was looking for something. The eagle flew high into the sky. He thought it felt like flying a bit. The eagle dived down and caught a mongoose in his talons. He thought the eagle felt like eating. As it flew on, the mongoose kicked and screamed. He thought the mongoose didn't like flying!]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!