DIE LEKKERSTE WERK op AARDE
No.31 (14/5/1999).
"Wat lyk jy soos 'n ou wat uit die oorlog uit kom?" vra vriend John,
waar ons laataand om die Hardekoolvuur sit langs die Olifants.
"Sodwana, my maat, daai plek is nie speletjies nie," sê vriend Hay. Sy
hande lyk asof hulle in 'n vleismeul was, en hy sukkel om daai groot lyf te
beweeg.
"Vir my was dit nog altyd 'n lekker plek, met mooi natuurskoon. Ek het
nie geweet dit gaan deesdae so rof daar nie," sê ek, "tensy jy natuurlik oor
Paasnaweek daar was."
"Nee, dis nie wat julle dink nie," sê vriend Hay, "ek en 'n paar pelle
het vir 'n week lank gaan marlyn vang. Die eerste 5 dae was ek die hele tyd
seesiek, selfs terwyl ek op land was! Die sesde dag moes die ander my sleep
om my op daai boot te kry, en toe ek behoorlik siek is, toe vat 'n marlyn my
aas. Toe los hulle my. Vir sewe uur spook ek om daai vis uit te kry, en toe
hy in die boot is, toe's ek gesond. Vyfhonderd kilogram, my maat, vyfhonderd!
Weet julle wat doen dit aan 'n man se hande en lyf?" Ons sit sprakeloos in
bewondering na vriend Hay en kyk.
"Ek was 50 keer op Mauritius," sê Nick Smith, "en ek het nie een marlyn
gevang nie."
"Vyftig!" proes Hansman. "Hoe de donner kom 'n ou vyftig keer op
Mauritius?" Dis duidelik dat ons ouens nie sulke luuksheid gewoond is nie, en
die bewondering verskuif na Nick.
Nick verduidelik dat toe hy by die Poskantoor weg is, hy by die Lugdiens
gaan werk het as 'n vliegtuig werktuigkundige. Daai dae het die lugdienste
hulle eie spanne saamgevlieg om die versieningswerk aan die vliegtuie te
doen, en dis hoe hy so baie op Mauritius uitgekom het.
"Nick, ek het nog altyd gedink jou werk in die Wildtuin is die lekkerste
werk op aarde, maar daai moes seker die beste gewees het," sê ek.
"Nee, die lekkerste was toe ek vir die Lugdiens in Athene gewerk het. Ek
het 'n lekker woonstel gehad wat oor die see uitgekyk het, en 'n karretjie
waarmee ek kon rondry. Die Lugdiens het een vlug per week na Athene gehad,
op 'n Woensdagoggend sesuur geland het. Dan moes ek die vliegtuig versien,
en teen twaalfuur het hulle weer vertrek. Die res van die week was ek vry,
en kon ek Griekeland en die dele van Europa wat binne bereik was na hartelus
verken. Hemel op aarde, my maat!"
"Magtig, moenie vir my sê jy't daai werk ook gelos oor hulle nie vir jou
wou dakwaaiers gee nie!" sê Jongeling Dunn.
"Nee, na 6 maande het ek gatvol geraak vir daai vroeg opstanery op 'n
Woensdag!"
[ENGLISH SUMMARY: Nick Smith surprises the chaps by mentioning
that in 50 visits to Mauritius, he never hooked a marlin. He then explains
that he was working for SA Airways as an aircraft mechanic at the time, and
in those days, they flew their own maintenance staff with, and that's how it
came about that he had so many visits. It is mentioned to him that that must
have been the best job, ever, but Nick says that the job he had in Athens
was better. He was also working for SAA, and stayed in an apartment in
Athens. There was only one incoming flight on a Wednesday, and he only worked
on Wednesday mornings, having the rest of the week free. After 6 months he
gave his job up, because he became fed up with getting up early on Wednesdays!]