Die HOENDER of die EIER?
No.32 (28/5/1999)
"Dis 'n klugspul!" sê vriend Hay verontwaardig, "Transvaal sou gewen het
as hulle nie met 14 man moes speel nie."
"Kom nou, dis mos hulle eie bleddie skuld!" kap Jongeling Dunn terug,
"jy kan mos nie in die era waarin ons leef 'n man blatant voor die
skeidregter platslaan, en verwag om nie afgestuur te word nie."
"En wat van die uiterste provokasie wat daai skeidsregter bokkerôl aan
gedoen het? As hy van die begin af sy werk ordentlik gedoen het, sou ons
gewen het!" spoeg vriend Hay verder vuur.
"Man, julle is nou besig met 'n hoender/eier redenasie," maak Dok Sarel
kapsie. "Dis oor en verby, kom ons geniet die naweek." Die gemoedere sak
genadiglik saam met die son langs die Hardekoolvuur by die Olifants.
"So, wat wás nou eintlik eerste, Dok, die hoender of die eier?" vra
Jongeling na 'n rukkie.
"Die eier," sê Dok, sonder om te aarsel.
"Jy het geen bewyse daarvoor nie, Dok! Enige iemand met 'n greintjie
intelligensie sal vir jou kan sê dat jy nie 'n eier kan kry sonder 'n
hoender nie."
"Alle dinge is nie absoluut bewysbaar nie, Jongeling, maar met logiese
beredenering kan 'n mens baie naby aan die waarheid kom. Dis byvoorbeeld
moeilik bewysbaar dat jy 'n brein het, maar uit die feit dat jy nou net
gepraat het, en daar sit met 'n blikbeker in jou hand, kan ek sê dat jy
minstens 'n senustelsel moet hê."
"'n Bandmasjien kan ook praat!" tempteer vriend Hay nog meer.
"Maar ek sal aan jou probeer verduidelik oor die eier," hervat Dok
onmiddellik die gesprek, om verdere moeilikheid te voorkom. "Jy sien,
Jongeling, lewe beantwoord aan al die vereistes van Newton se
Bewegingswette. Die 4de een sê alles wat in orde verkeer, neig na wanorde.
Dit is iets wat jy goed behoort te begryp, want jy en vriend Hay het dit
so flussies bewys. Orde kan alleen behou word deur 'n enorme hoeveelheid
energie in die sisteem in te pomp, en dan op 'n redelike konstante basis."
"In die geval van die hoender en die eier, behoort dit vir enige iemand
duidelik te wees dat die hoender 'n veel meer geordende vorm van lewe is as
die eier. Met ander woorde, om by die hoender uit te kom, moes 'n hengse
klomp energie in die eier ingepomp word, en omdat dit presies is wat gebeur,
dink ek 'n mens kan met redelike sekerheid sê dat die eier eerste was."
"O," sê Jongeling met 'n dowwe uitdrukking op sy gesig.
"Maar as jy dit nie verstaan nie, moet jy môre-aand deur jou familie
album gaan blaai. Kyk na 'n foto van jou as 'n baba, en dan kyk jy in die
spieël. Dan vra jy jouself watter een eerste was," maak Dok dit so 'n bietjie
makliker vir Jongeling.
"Daarmee, Dok, het jy so pas jou eie goeie redenasie afgeskiet," sê
vriend Hay, "want enige iemand wat Jongeling ken, sal besef dat hy as baba
meer energie moes gehad het as nou, anders was hy 'n stilgeboorte!"
[ENGLISH SUMMARY: The discussion around the fire deals with
the eternal question, which was first, the chicken or the egg. Doc Sarel
explains to Youngster Dunn that the egg was first, because Newton's 4th law
of Movement applies to all living things. Everything that is in a state of
Order tends to Chaos, unless energy is pumped into the system. Since a
chicken is obviously a more orderly form of life, it stands to reason that
an enormous amount of energy has to be pumped into the egg to get the chicken.
Therefore the egg must have been first.
Since it seems that Youngster does not quite understand this, Doc says that
he should have a look at his photo album. He should look at a picture of
himself as a baby, and then look in a mirror, and then decide which one
was first.
At that point friend Hay remarks that since Youngster is not a very
energetic guy, he must have had more energy as a baby, otherwise he would
have been stillborn!]