ROOK jy PYP?
No.33(11/6/1999)
"Ek beny julle ouens," sê vriend Hay waar ons om die Hardekoolvuur langs
die Olifants sit. "Julle doen almal sulke interessante werke, en ek moet
heeldag in 'n drankwinkel staan en drank afsmeer aan mense."
"Klink vir my na 'n heel edel taak wat jy verrig," sê Jongeling Dunn,
"amper 'n soort van liefdesdiens!"
"Ja, Jongeling," lag vriend Hay,
"maar vat nou maar vir Dok Sarel. Ek meen, kan jy dink wat hy alles moet
sien. En as jy die dag vir 'n uur en 'n half vir hom moet sit en wag daar in
sy spreekkamer, dan kan 'n man nie help om op te let watse poppies gaan daar
by sy deur in en uit nie, of hoe? Dit klink vir my na 'n resep vir vergrype!"
"Vriend Hay," sê Dok ongemaklik, "dis nie hoe dinge werk nie. Ek
meen, ek is nou nie blind nie, maar as Sharon Stone nou die dag kom besoek
aflê, lê ek nie daai nag wakker daaroor nie. Dis so goed ek sê vir jou as ek
in jou posisie was, het ek elke dag 'n bottel whisky in werkstyd uitgedrink.
En moenie vergeet nie, julle vrouens slaan ook so nou en dan daar by my uit."
"Dit is seker so, Dok, maar 'n ou wonder maar," sê vriend Hay verleë.
"Maar ek sal jou dít sê, so tussen siekte en kranklikheid deur is
daar baie komiese situasies," gaan Dok voort. "So 'n ruk terug kom 'n vrou
by my en nadat ons klaar gesels het, sê sy vir my sy wil baie graag hê ek
moet haar man 'n slag goed ondersoek. Hy drink en rook te veel, ooreet
homself, en kry geen oefening nie. Ek sê, nee dis reg, sy moet maar vir hom
'n afspraak maak."
"Nou ek het die ou nog nooit in my lewe gesien nie,
maar ek weet darem hy werk by 'n garage op die dorp. Toevallig moet ek een
dag iets daar gaan kry, en ek kyk toe die ouens so deur. Daar eenkant het 'n
oorgewig ou met 'n woeste baard gestaan en pyp rook, en ek neem toe aan dis
hy, maar ek is ook nie heeltemal seker nie."
"Ek vergeet toe heeltemal
van die storie, en hy kom ook nooit by my uit nie. So 6 maande later kom
mevrou my sien vir haar jaarlikse smeer. Terwyl ek besig is om die smeer te
neem, val dit my weer by, en ek vra haar so terloops of haar man pyp rook.
Toe vlieg sy regop, en vra benoud:
'Hoe weet jy dit?!"
[ENGLISH SUMMARY: Doc Sarel tells the guys
about a visit he had from a certain lady that requested him to do a thorough
examination on her husband some time, since he was overweight, and drinking
and smoking to much. Doc didn't really know the man, except that he was
working at a garage in town. While visiting the garage one day, he looked
around to see if he could recognise the chap. Some distance away he saw a
bearded overweight guy smoking a pipe, and decided that it must be him, but
he wasn't sure.
He completely forgot about the whole thing, untill the
lady came back 6 months later to have a smear taken. While taking the smear,
he remembered again, and casually asked whether her husband was a pipe
smoker. Upon which the lady jumped up and asked how he knew that! ]