VAKANSIEWERK
No.34 (25/6/1999)
"Nee, ek weet nie waar gaan die land heen nie," sê vriend Hay, waar ons
om die Hardekoolvuur sit. "Dis nou al weer die een staking op die ander.
Verlede week was die garages se petrol amper op oor die petroleum werkers
se staking."
"Ja, ek wonder nogal wat dink hulle hoe moet ons hier langs die Olifants
uitkom as ons nie petrol het nie!" werp Jongeling Dunn sy besondere insig op
die onderwerp.
"En dan is daar nog die studente wat nie wil klasgelde betaal nie. Dis
verregaande, man!" sê Hansman.
"Ek sien juis Mandela het hulle 'n rukkie terug so lekker uitgetrap," sê
Ouboet Dunn.
"Ek het dit gemis, wat sê hy?" vra ek
"Hy sê swart studente is nie bereid om sakgeld te verdien met vakansiewerk
vir karige salarisse soos wit studente nie. Hy sê hulle het 'n houding van
toe-eiening wat hulle nog duur gaan kos." sê Ouboet.
"Dis hoog tyd, sou ek sê," laat vriend John hoor.
"In alle regverdigheid, ek dink dis darem baie moeiliker om deesdae
vakansiewerk te kry, as byvoorbeeld in Dok Sarel se tyd," sê Jongeling, wat
meer onlangs 'n student was as enige van ons ander.
"In my tyd was dit ook maar moeilik, Jongeling," sê Dok, "maar dit het
gehelp as 'n mens 'n bietjie inisiatief gehad het."
"So sou jy destyds besluit het om te gaan aansoek doen vir vakansiewerk
as 'n kelner op die trein. Daar sou dan 'n tou van so 100 aansoekers wees, en
jy is nommer 99 in die tou vir 'n onderhoud. As jy instap sit Mnr. Broodryk,
die Senior Hoofindiensneming Beampte van die Spyseniersafdeling van die
Suid-Afrikaanse Spoorweë voor jou. Op daardie stadium die 2de belangrikste
persoon in die land naas die Staatspresident, en net effens swakker
gekwalifiseerd met sy standerd 8."
"Dan groet jy maar vriendelik met die hand, en die bottel KWV brandewyn
in jou linkerhand sit jy op die lessenaar voor jou neer. Mnr. Broodryk sal
vlugtig na die bottel KWV kyk, en dan begin met die vrae. 'Waarvoor staan
SAS&H?' Dan sê jy 'Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens, maar as 'n mens wil,
kan jy ook sê Sondag Agtermiddag Slapie en Happie', en hy sal ewe beïndruk
wees. Dan vra hy 'Wat is Calamari?'. Dan krap jy jou kop, en sê jy dink dit
is 'n soort vis. Dan sê hy 'Ja, met baie pote'. Dan vra hy 'Wat is 'n goblet?'
Dan sê jy jy is nie seker nie, maar jy dink dit is iets soos 'n dwergie, dan
sê hy 'Jy is baie naby, maar dis eintlik 'n drinkglas!' "
"Na nog so 'n klompie vrae in dié trant, sal hy weer 'n keer loer na die
bottel KWV, en 'n vorm uit sy laai haal, wat hy dan onderteken en formeel
stempel, en aankondig dat hy hoogs beïndruk is met jou kennis van
spyseniering en dat die Spyseniersafdeling kan doen met meer kandidate van
jou kaliber, en dat jy die eerste kandidaat is wat aangestel word, en dan
oorhandig hy die aanstellingsbrief aan jou."
"Nadat jy die brief in jou sak gesit het, bedank jy hom hartlik, vat jou
bottel brandewyn en loop!"
[ENGLISH SUMMARY: Doc Sarel explains the trick of how a student
should land a holiday job. When going for an interview to become a waiter on
the trains, he should take a bottle of KWV brandy with, and put it on the desk
of the interviewing officer. After asking a few questions, the officer would
take a form from a drawer, sign it, and announce that the application was
successful. After receiving the appointment letter, the student should
heartyly thank him, take the bottle of brandy, and leave!]