kremetart1.jpg



RUGBY in SUIDWES


No.35(9/7/1999)

"Die skeidsregter is 'n bleddie idioot!" stort vriend Hay sy misnoeë uit, en spoeg na die vlamme van die Hardekoolvuur langs die Olifants. Onder normale omstandighede sou ons dit met hom eens gewees het, maar die situasie is dat sy span, die Gauteng Leeus, so pas 'n helse pak slae teen Griekwas gekry het. Selfs dít sou vir hom aanvaarbaar gewees het, maar die wyse waarop Balie Swart van die veld gestuur is staan vriend Hay nie aan nie.

"Waar in jou lewe het jy gesien 'n speler wys vir die skeidsregter 'n rooi kaart!" sê Jongeling Dunn met 'n stem wat oorloop van leedvermaak. "Jou span het gekry waarvoor hulle gevra het, en buitendien sou hulle in elk geval verloor het!"

"Dit gaan nie oor die verloor nie, Jongeling," sê vriend Hay terwyl hy die vleis laat sis op die kole, "dit gaan oor skeidsregters wat nie hulle plek ken nie. Ek meen, Balie het eerste sy rooi kaart gewys, hoekom het die skeidsregter nie die eerbare ding gedoen en toe eerder self geloop nie?"

"Ek wonder nogal waar ou Balie die rooi kaart gekry het," sê vriend John terwyl hy die blikbekers optop.

"As jy my vra het hy met voorbedagte rade met die ding in sy kous op die veld gedraf," antwoord vriend Hay, nou duidelik in 'n meer gemoedelike bui, "seker gedink hy gaan sy beskeie bydrae lewer om die euwel van swak skeidsregters uit te roei!"

"Wel, as dit die geval is, dan stel ek voor ons stig 'n ondersteunings fonds vir Balie," sê Jongeling, en daarmee eggo hy op 'n manier ons almal se gevoel oor swak skeidsregters.

"Toe ons studente was," sê vriend Billy, wat van Namibië af kuier, "het ons in die winter vakansie altyd vir Windhoek United uitgedraf. Sommer om fiks te bly vir die universiteits rugby wat nog voorgelê het. Dit was in die begin jare van wat toe `veelvolkige sport' genoem is, en die hele besigheid was vir ons almal maar nog 'n bietjie vreemd. Die een Saterdag speel ek en ou Div, wat by ons kom jag het, toe vir United se derdes teen Rehoboth."

"Nou, as julle ouens gedink het die veelvolkige besigheid was vir ons vreemd, dan was die ondersteuners tien keer erger. 'n Hele skare het van Rehoboth af saam gekom om dié besigheid te aanskou, en hulle het al op die kantlyn langs saam met hulle span beweeg. Dit het eintlik maar beteken hulle staan meestal naby hulle span se doellyn en kyk hoe teken ons punte aan, maar dit daar gelaat."

"As die manne van Rehoboth min van rugby speel geweet het, het hulle ondersteuners nog minder van die spel geweet. Nie dat dit hulle juis afgesit het nie! Veral een tante. Sy het van die afskop af luidkeels haar ontevredenheid met die skeidsregter uitbasuin, en hom deurgaans van raad bedien oor hoe hy moet blaas, en wat hy nou eintlik met sy fluitjie moet doen. Tot op 'n punt, toe kan die arme man dit nie meer hou nie. Toe daar weer 'n onderbreking in die spel is, stap hy na haar toe, en hou die fluitjie vir haar:

`Dé, blaas jy verder,' sê hy.

`Jy't hierie stront begin, jy sal klaar maak,' sê sy!"

[ENGLISH SUMMARY: Friend Billy from Namibia tells the guys how he used to play rugby for a Windhoek team during his university holidays. It was in the early days of what was then called 'multinational sport', and it so happened that his team had to play Rehoboth one Saturday. Quite a number of their supporters turned up, and were quite vociferous. One lady was rather explicit in her verbal abuse of the referee, to the extend that the poor chap couldn't stand it any longer. He walked up to her and offered her the whistle with the request to continue.

"You've started this sh*t, you will finish it," came the reply!]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!