HOEDSPRUIT se WILDSFEES
No.36(20/8/1999)
"Manne, ek sien uit na 'n lekker bietjie ontspan en kuier die naweek,"
sê ek waar ons langs die Hardekoolvuur by die Olifants sit. "Dit het maar
'n bietjie druk gegaan die laaste ruk."
"Self," sê Dok Sarel, "die
griep was besonder erg die winter, en ek het dit ook maar hotagter gekry.
Gelukkig gaan dit nou 'n bietjie rustiger." Ons het min of meer konsensus
dat ons almal 'n goeie wegbreek nodig het.
"Ek wonder of vriend
Hay gaan opdaag," sê Jongeling Dunn.
"Hoekom, is hy siek?" vra Dok
besorgd.
"Nee, Dok, Hoedspruit het verlede naweek Wildsfees gehou,
en ek weet nie of hy krag sal oorhê nie," sê Jongeling.
"Ek het
vanmiddag met hom gepraat, hy sê hy móét net 'n slag wegkom van die huis
af. Hy kom beslis," werp sy Ouboet meer lig op die saak.
Kort voor
lank daag vriend Hay op, maar dinge lyk nie goed nie. Sy een oog is
heeltemal toegeswel, en die ander een net op 'n skrefie oop.
"Goeie genugtig," sê Dok, "is jy aangerand langs die pad, of wat?"
"Hoedspruit se Wildsfees, Dok, " sê vriend Hay terwyl hy die koelerbokse
afdra.
"Ek het nog altyd gedink daai Hoedspruit is 'n skollieplek,
en die Wildsfees net 'n verskoning vir die gespuis om bymekaar uit te kom.
Ek hoop jy't hulle laat toesluit!" pak Jongeling uit.
"Stadig, wat
jy sê ou maat, Hoedspruit is 'n bakgat plek, en die Wildsfees was 'n groot
sukses. Ek het goed besigheid gedoen by die drankwinkel ook. Dè, hier is
vir julle elkeen 'n bottel wyn," sê vriend Hay, en deel 'n paar dankbare
bottels Cabernet uit.
"Nou wat hét nou eintlik gebeur dat jy só lyk?"
vra Jongeling.
"Jy sien, nadat ek Saterdagmiddag my drankwinkel
gesluit het, is ek toe mos self lus om
bietjie fees te hou. Toe gaan sit ek saam met 'n klomp pelle en kuier in
die biertuin. My vrou is later met die kinders huis toe. Op 'n kol begin
hulle allerhande goed opveil. Ek is toe nou al so 'n entjie voor, en ek
koop 'n stel motorfiets bande vir 'n helse winskoop op die veiling."
"Laat daai nag toe ek by die huis kom, toe sien ek die sitkamer lig
brand nog. Ek besluit om my ou laatkom taktiek te gebruik, en ek skop die
voordeur oop. Maar my vrou slaap toe nie soos gewoonlik nie. Nee, sy staan
en wag vir my in die portaal, koekroller in die hand. Sy kyk my so en sê:
'En daai twee mouterbaaik taaiers om jou nek, wil jy jouself neklis,
of wat?'
Ek verduidelik toe vir haar dat ek hulle
vir 'n helse winskoop opgetel het.
'Maar jy het nie eers 'n bleddie
mouterbaaik nie!' gil sy op my, en toe slaan sy my met die koekroller."
"Hokaai so 'n bietjie, ek ken jou vrou, sy sou jou nie oor iets so
onbenulligs geslaan het nie," sê Ouboet Dunn.
"OK, ek het vir haar
gesê:
'Wat de hel maak dit saak, jy't verlede week 'n bra gekoop!"
[ENGLISH SUMMARY: Friend Hay explains
to the guys how it came about that he received two black eyes. He visited
the beer garden at the Hoedspruit Game Festival the previous weekend.
After a few drinks he bought two motorcycle tyres at an auction, and went
home very late. Using his usual tactic of kicking open the front door
when arriving late and not quite sober, he was surprised to see that his
wife was awaiting him. She immediately inquired about the two tyres around
his neck. He explained to her that he got them for a real bargain. After
pointing out to him that he didn't even own a motorcycle, she hit him with
a rolling-pin.
Ouboet Dunn then says that he finds this explanation
surprising, since the way he knows friend Hay's wife, it is not how she would usually
react. On which friend Hay admits that before she hit him, he said "So
what's the big deal, you bought a bra last week!"]