kremetart1.jpg



MEV DOMINEE se HANDLEIDING


No.37(3/9/1999)

"So, hoe was jou vakansie toe?" vra vriend John, waar ons langs die Hardekoolvuur by die Olifants sit.

"Fantasties!" sê ek. "Namibië is 'n wonderlike plek. Die oop ruimtes, die Namib se duine, Sossusvlei, Henties, Khorixas, ag sommer alles."

"Ja, ek is so spyt ek kon toe nie saamgaan nie, want my vrou moet toe mos nou loop staan en swanger raak," sê Hansman selfverontskuldigend, terwyl hy vir die vlamme staar.

"Het jy baie beplanning vooraf gedoen?" vra Dok Sarel, terwyl hy teug aan sy whisky.

"Nee wat, Dok, maar darem 'n bietjie meer as Hansman! Ek het wel 'n bietjie opgelees oor al die mooi plekke, maar oor die algemeen werk dinge in Namibië maar soos hier by ons. Sobyso praat almal Afrikaans, so as jy nie weet nie, vra jy maar net. Maar ons het darem vooraf 'n paar besprekings gemaak vir die meer gewilde plekke."

"Ek sê altyd die beplanning vooraf is baie belangrik, en verskaf amper net soveel genot, as die werklike reis," deel Dok een van sy vele wyshede met ons. "Die ander dag staan ek juis in die CNA met A Visitor's Guide to Moçambique in my hand, toe ek Mevrou Dominee uit die hoek van my oog sien aankom. Ek weet nie hoe dit werk nie, maar die rak met die reisgidse is mos direk langs die een met die boeke oor gesinsake. Of dit nou 'n Freudiaanse glip van die hand was weet ek ook nie, maar Mevrou tel The Illustrated Guide to Better Sex op. Toe sy my sien, sit sy hom verleë neer, en vat doodonskuldig A Name for Your Baby.

'Dis darem vreeslik hoe ons nou toegegooi word met pornografie vandat sensuur afgeskaf is, nè Dok,' sê sy toe sy haar besadigdheid terug gekry het. Ek beaam toe maar, maar in my enigheid wonder ek of sy weet hoeveel van haar gemeentelede se huwelike ek al gered het met daai einste Illustrated Guide. Na 'n ruk sê sy:

'Ek sien jy gaan al weer vakansie hou, Dok. Lekker om so baie geld te hê, nè,' terwyl sy beduie na die gids in my hand.

'O, dié,' sê ek, 'nee wat, Mevrou, ek kyk sommer vir die interessantheid. U weet mos, om die gids te bestudeer is amper net so lekker as om regtig met vakansie te gaan. Kyk nou dié foto,' sê ek, en wys haar die een van die ou wat op Ponta d'Ouro se strand staan met 'n kreef in die hand. 'As jy nou so na die foto kyk, dan wonder jy of jy hom self sal gaan uitduik, sal koop, of sommer in 'n restaurant sal gaan bestel. Sal jy hom geniet met suurlemoen- of peri-peri-sous, vir ontbyt, middag-, of aandete.'

'Ek verstaan wat jy bedoel, Dok,' sê sy, 'dit maak jou sommer lus, nè!'

'Presies, Mevrou, die sekshandleiding werk min of meer op dieselfde manier!' sê ek toe sy wegstap om te gaan betaal."

"Toe sy klaar betaal het, stap sy terug, kyk my in die oë met 'n blos op haar wang, en sê:

'Dok, een ding moet jy verstaan - om die reisgids te lees, is nie dieselfde as om regtig met vakansie te gaan nie'!"


[ENGLISH SUMMARY: Doc Sarel tells the guys how he was paging through a travel guide in the bookshop, when the wife of his reverend entered, and picked up The Illustrated Guide to Better Sex. On seeing him she quickly put the guide back, and got hold of A Name for Your Baby , whilst complaining about the amount of pornography that does the rounds these days. She also enquired whether he was going on holiday again. Doc explained that he was only looking for interest's sake, and that paging through gives one the feeling of being on holiday. She agreed that it surely does wet the appetite, on which Doc replied that the sex manuel works more or less in the same way. Embarressed, she walked to the till to pay.
After paying, she returned, telling him that reading the guide does not really mean one is on holiday!]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!