kremetart1.jpg



TIRIES se JOOLDANS


No 38(17/9/1999)

"So, hoe het julle Skoudans toe afgeloop," vra vriend Hay, waar ons om die Hardekoolvuur langs die Olifants sit, "of was dit weer 'n bakleiery soos gewoonlik?"

"Stadig, ou maat, jy praat nie nou van Hoedspruit se Wildsfees nie," kap Jongeling Dunn terug, "en buitendien, vanjaar het ons manne van die Kultuurvereniging dit self gereël!"

"Julle! Ek glo dit nie!" sê vriend Hay.

"En hulle het dit bleddie goed gedoen," sê vriend John, wat 'n lid van die Skoukommitee is, "ons het klaar besluit hulle moet dit volgende jaar weer aanbied."

"Magtag, ek is trots op julle! Wie het die kroeg vir julle behartig?"

"Ons self," sê Hansman trots, "en ons het selfs 'n orkes van Johannesburg af laat kom. Tzaneen het weer vir 'n slag behoorlik gedans!"

"Jooldans op universiteit was altyd een van die sosiale hoogtepunte van die jaar," sê Dok Sarel, nadat daar behoorlik lykskouing gehou is van die Skoudans. "Ons klomp het altyd by Wingate Country Club gaan dans, uitgevat met ons pakke en strikdasse." Jongeling kyk met hernieude respek na Dok.

"Ou Tiries het eenkeer by so 'n Jooldans opgedaag met 'n splinternuwe pak en 'n splinternuwe meisie. 'n Ou kon regtig sien hy is trots op daai pak, veral omdat 'n mens nog kon ruik dat hy nuut was. Op sy meisie, Santie, was hy nie minder trots nie, maar sy was vreeslik preuts, soos wat ons mettertyd sou uitvind. Hulle het net een keer gedans, toe stel sy nie meer belang nie. Toe sit hulle tweetjies nou maar so by die tafel en proe-proe aan die wyn. Nadat Santie 'n glasie ingehad het, gebeur daar iets wat ou Tiries laat dink het sy geluk het uiteindelik gedraai - Santie vat sy regterhand in 'n greep vas, en sit hom onder die tafel op haar been, en daar hou sy vir hom."

"Ou Tiries was nie ongeneë daarmee nie, en het hom die besigheid maar laat geval, al moes hy sy wyn met die linkerhand sit en drink. Elke nou en dan vra hy uit ordentlikheid of sy nie lus is vir nog 'n dans nie, maar Santie bloos net, en sê nee. Die res van die tyd sit hy toe nou maar so met sy hand in 'n greep op haar been, en beraam planne vir die res van die aand. Goeie planne nogal, volgens hom, maar die detail daarvan wou hy ons nooit vertel nie."

"Toe hy net mooi sy planne agtermekaar het, en net voor die kos bedien sou word, sien hy Santie fluister iets vir Naudè Theron se meisie, en die praat weer met Naudè. Naudè sê ou Tiries moet gou saam met hom stap, maar hy kon nie verstaan hoekom Naudè al die pad badkamer loop en giggel nie. Op 'n stadium het hy selfs gewonder of iemand nie dalk sy gedagtes gelees het nie. Maar toe hulle in die kleedkamer kom, sê Naudè hy moet kyk na sy baadjie se regtermou. En net daar, sê Tiries, het al sy planne in duie gestort, want op sy splinternuwe baadjie se mou het die winkel se prys etiket nog lewensgroot gesit!"


[ENGLISH SUMMARY: Doc Sarel tells the guys about a Rag dance at university where one of his friends, Tiries, turned up dressed in a brand new suit. Tiries's girlfriend, Santie was somewhat prudish, and after one dance preferred to sit at their table sipping wine. Then something happened that made Tiries believed his luck with her had changed - Santie got hold of his right hand and put it on her left leg under the table, keeping it there in a tight grip. Tiries didn't mind at all, but every so often he politely asked her for another dance, but she flatly refused, blushing in the process.
After a while one of his friends asked Tiries to accompany him to the cloak room. There he pointed out to Tiries that the price tag was still attached to the right sleeve of his jacket!]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!