NAAS BOTHA en die KROKODIL!
No.39 (1/10/1999)
"Wat lyk jy so bedruk, Sollie?" vra ek waar ons langs die HARDEKOOLVUUR
by die OLIFANTS sit.
"Hoe bedoel jy?" vra Solomon.
"Dit lyk of die katte jou kos afgevat het," sê ek.
"Ek verstaan nie," sê hy effens verward.
"Dit lyk of jy moeilikheid het," sê ek.
"Moeilikgeit, baie," sê Sollie, "die krokodille hulle maak moeilikgeit."
Eintlik gebruik hy 'n ander woord vir moeilikheid, wat daarop dui dat sy
Afrikaanse woordeskat heelwat beter is as sy idiomatiese begrip. "Hulle het
die kalf gevang by die treinbrug," verwoord Sollie sy swaarmoedigheid.
"Ek sal met Mackie reël om te kom kyk wat ons kan doen," probeer ek hom
troos.
"Krokodille kan lastig wees," sê Dok Sarel, "soos ons een Desember in
die Caprivi uitgevind het. Maar dis 'n lang storie, met 'n aanloop."
"Vertel, Dok!" sê Jongeling Dunn, terwyl hy die blikbekers optop.
"Destyds was daar gesonde wedywering tussen die weermag basisse in die
Caprivi. Veral op sportgebied. So gebeur dit toe dat die manne van Bagani
kom sokker speel op Omega. Soos julle weet, is ek nie 'n groot sokker man
nie, maar ek het darem gaan ondersteun. Die manne van Bagani was erg
ongelukkig oor die vordering wat ons destyds op die gebied van veelvolkige sport gemaak het, toe vyf Boesmans vir Omega uitdraf."
"San, Dok," probeer Hansman weer 'n keer, maar die keer ignoreer Dok hom
net.
"Veral toe Sewatsha die wendoel kort voor die einde aanteken," gaan hy
voort. "Hulle het nie eens die onthaal na die tyd bygewoon nie, so oningenome was hulle. Die volgende week nooi hulle ons toe vir 'n krieket wedstryd. Duidelik om wraak te neem, want dit was nie 'n geheim dat Omega se manne nie juis bedrewe was met krieket nie. Om dié rede is ek en dominee Lewies van Wyk toe ook in die span - as veldwerkers, en kolwers nommers tien en elf."
"Om die storie verder te verstaan, moet julle weet hoe lyk die sportveld
by Bagani. Dis 'n kaal sanderige stuk grond op die oewer van die Okavango
rivier, met een groot worsboom aan die een kant, wat lekker skadu gee vir die
ouens wat nie speel nie. Hulle kolf toe eerste, en teken 192 lopies aan. Ons
het nie 'n kans gestaan om dit te maak nie, maar wonder bo wonder byt twee onderwysers van die Boesmanskool toe vas, en kolf ons tot op die randjie van 'n oorwinning."
"Uiteindelik moes ek ingaan op nommer tien, terwyl ons nog 5 lopies kort.
Op 'n manier kry ek 'n enkellopie, maar toe is my kolfmaat uit, en dominee
Lewies moet inkom. Maar die ondenkbare gebeur - een van daai worse val uit
die boom uit op sy kop, en daar lê hy katswink. Om die saak nog verder te vererger, gee hulle skeidsregter hom toe uit oor hy te lank gedraai het om te kom kolf, en dit terwyl die mediese ordonnans aan diens sy bes probeer het om dominee Lewies by te bring!"
"Die storie het amper in 'n vuisgeveg ontaard, maar ons kon die saak
beredder deur ooreen te kom op 'n voetbal wedstryd twee weke later. Dat
voetbal eintlik 'n wintersport is het niemand geskeel nie, en ons het net
daar 'n muntstuk opgeskiet om te bepaal wie die tuisveld voordeel sou hê.
Ongelukkig is dit toe weer op Bagani."
"Nou kyk, die manne van Omega kon voetbal speel. Dominee Lewies was 'n
briljante losskakel, al was hy geneig om 'n bietjie te veel te skop. Ons was
oortuig ons kon dit 2-1 maak in Omega se guns."
"Maar dominee Lewies sou volgens die Internasionale Rugby Raad se reëls
nie mag gespeel het nie, Dok, oor hy harsingskudding opgedoen het!"
opper Jongeling Dunn 'n tegniese punt.
"Kyk, Jongeling, daai reël het eers baie jare later ingekom, en
buitendien is dit vir my duidelik dat jy nooit in die weermag was nie, want die IRR het nou nie juis jurisdiksie in 'n oorlogsone nie!" sê Dok
geïrriteerd.
"Behalwe as sodanige rugbyveld buite 'n amptelike oorlogsone val!" bevestig vriend Hay sy Transvaal affiliasie.
"In elk geval, dit was 'n hewige stryd, en ons was 'n bietjie
gekortwiek deur die sanderigheid van die veld. Vyf minute voor die einde loop
ons 10-9 agter, maar ons voorspelers het stadig maar seker die oorhand begin kry, en toe wen ons 'n uitstekende losbal op hulle tien treë lyn, met twee manne oor in die agterlyn. Ek skree vir dominee Lewies om te laat loop, maar hy moes 'n boodskap van hoër gesag gekry het, want toe besluit hy om te skop vir die hoekvlag! Hy't later beweer hy het gegly op die los sand, maar almal was van mening dis oor daai wors wat op sy kop geval het. As dit 'n goeie skop was, kon dit dalk nog opgemaak het vir die swak besluitneming, maar toe beland die verdomde bal in die Okavango rivier!"
"Een van die PB's wat homself as baljoggie aangestel het,
duik toe in om die bal te kry," beskryf Dok die rillerwedstryd verder.
"Wat vir 'n ding is 'n PB, Dok?" onderbreek Jongeling hom.
"Plaaslike Bevolking, Jongeling!" onderlê Dok hom in weermag terminologie. "In elk geval, 'n Capriviaan duik toe in agter die bal aan, maar toe gebeur daar 'n groot tragedie - 'n krokodil vang hom met bal en al! Die arme man se dood was erg, maar die eintlike tragedie was dat ons nie nog 'n bal gehad het om die wedstryd klaar te speel nie nie. Die skeidsregter het geen ander keuse gehad as om die eindfluitjie te blaas nie!"
"Toe verloor ons - danksy 'n krokodil, en Dominee Lewies wat gedink het
hy is Naas Botha!"
[ENGLISH SUMMARY:Dok Sarel tells the guys how it came about that
the rugby team of his Omega military base played a match at Bagani in the
Caprivi strip. There used to be healthy rivalry amongst the different bases,
and after some controversy in a soccer match between the two units, followed
by something similar in a game of cricket, a rugby match was decided upon.
They had a pretty good team, with reverend Lewies van Wyk a more than able
flyhalf. But the game proofed to be tougher than expected. Five minutes before
the final wistle, they were trailing by 10-9, but won a very good ball from a
ruck, with an overlap on the wing. Dok Sarel shouted for reverend Lewies to run
the ball, but he decided to kick for the corner flag. Unfortunately the ball
ended up in the Okavango river.
One of the locals jumped in to fetch the
ball, but in a great tragedy was caught by crocodile. Ditto the ball. Since
it was their only ball, the referee had no choice but to blow the final wistle.
So they lost, thanks to a crocodile, and a kicking flyhalf!]