WAASIE KWV?
No.4 (11/7/1998)
"Waar kry jy die Roodeberg?" vra vriend John, terwyl hy 'n ekstra diep
teug uit die blikbeker vat. Om die hardekoolvuur is dit 'n geskarrel met
die kosmakery, voor ons op ons gebruiklike middernagtelike rit langs die
Olifants gaan. Jongeling Dunn sê hy gaan nie saam nie, want laas het hy uit
ordentlikheid Dok Sarel sy Discovery laat bestuur, en van al die whisky het
Dok een van sy splinternuwe Michelins oor 'n boomstomp afgeskryf. Dok Sarel
reken net 'n mindere intellek sal met Michelins hier in die bos kom rondry.
"By die KWV," probeer ek vriend John se vraag omseil.
"Nee man, by wié?" hou hy aan.
"Ek het 'n familielid in die Paarl met 'n kwota. Ek bel hom altyd van
Beaufort-Wes af as ons op pad is Kaap toe."
"Ek het eenkeer verdwaal in die Paarl," val vriend Hay uit, terwyl hy
die Bief Strogonov roer.
"Jy verdwaal in Hoedspruit, man!" kap Jongeling hom, maar vriend Hay
maak of hy nie hoor nie. Hy is 'n rukkie terug hier weg Hoedspruit toe
om 'n drankwinkel oop te maak. Eintlik raak ons klomp maar almal half
senuweeagtig as ons op groot plekke kom.
"Ek het gaan wyn koop vir my winkel," gaan vriend Hay ongestoord voort,
"maar toe ek in die Paarl kom, het ek nie 'n idee waar die KWV is nie. Langs
die straat staan een van ons Kaapse broers teen 'n lamppaal. Op sy gesig kan
ek sien hy het al baie Oom Tas in sy lewe gedrink."
"Vriend Hay mag nou wel 'n drankwinkel op Hoedspruit hê, maar ek sweer
hy het nog nooit 'n enkele bottel Oom Tas daar verkoop nie. Hoe sal hy nou
weet hoe 'n lyk 'n ou wat Oom Tas drink!" sê ek, terwyl ek aan vriend John
stamp. Weer maak vriend Hay asof hy nie hoor nie.
"Ek vra hom toe of hy my kan beduie hoe om by die KWV uit te kom. 'Dja,
Minee. Djy ry stryt tot byrie twiere roubot, da drai djy rês...Nei, wa soe
biedjie...Djy ry tot byrie dêde roubot...' Nou begin Kaapse Broer met 'n
vuurhoutjie in sy oor krap. 'Oukei, Minee, noutik hom! Djy ry tot byrie viere
roubot.....Yntlik, Minee, va hie wa ek in djy sta, kan i mannie byrie kawievie
yt kommie!'"
[ENGLISH SUMMARY:] After the usual small talk, friend Hay, who
owns a bottle store in Hoedspruit tells the guys how he once got lost in
Paarl. He didn't know his way to the KWV, and asked someone on the street.
This chap, who looked like a heavy drinker, tried his best to explain, but
eventually gave up by saying that from that point in town it was impossible
to reach the KWV!]