kremetart1.jpg



KROKODILTEMMER!


No.40 (5/11/1999)

"Julle het 'n helse probleem", sê Maccie McCarthy, en proe aan sy gin en tonic waar ons om die Hardekoolvuur langs die Olifants sit. "They eat, they breed, and that's it - hulle oorleef al 60 miljoen jaar op dié manier, en niemand gaan hulle nou sirkustoertjies leer nie."

Maccie is Natuurbewaring se krokodil ekspert wat nou al 'n hele paar jaar in ons wêreld bly, en hy praat al 'n redelik gangbare Afrikaans. Ons grinnik natuurlik oor sy drinkgewoontes! Maar sy mededeling is nie goeie nuus nie. Hy't saamgekom om te probeer vasstel watse plan gemaak kan word met die krokodille wat so maai onder Sollie se Brahmane.

Vanoggend het ons met die treinbrug oor die rivier gaan stap, en van daar kon ons sien hoe baie, en veral hoe gróót hulle is. Sollie vertel stories oor hulle waarmee 'n mens kinders (en groot-mense) kan bangmaak. Ses maande gelede het hy gesit en kyk hoe 'n leeuwyfie kom water drink, toe vang 'n krokodil haar! Twee weke terug het hy gehoor hoe vang 'n leeu 'n kalf in die beeskraal. Toe hy die volgende dag die spoor volg, sien hy krokodilspore op die van die leeu. Later het hy die plek gekry waar die krokodil die kalf by die leeu afgevat en rivier toe gesleep het!

"Miskien moet julle dankbaar wees", het Maccie hierop gesê, "dit lyk my hulle hou darem die leeus in toom!"

"Hoe't jy kwansuis 'n krokodilekspert geword?" vra vriend Hay, wat maar baie skepties oor die Engelsman en sy vermoeëns is.

"As student het ek praktiese werk by die Natalse Parkeraad se Krokodil Navorsingsentrum by St Lucia gedoen, toe ouens op 'n dag 'n beseerde krok daar aanbring. Hy was reusagtig, met 'n stinkende, gapende wond aan sy linker sy waar 'n motorboot hom raakgery het", vertel Maccie. "Op 'n manier het ons die ding in 'n sementvloer hok gekry, en die Parkeraad se veearts laat kom."

"Die veearts steek toe met so 'n lang metaalstok in daai wond, maar toe raak hy bezerk! Toe besluit die veearts om hom te verdoof, maar dis nie so eenvoudig soos julle dink nie. Eerstens is die dosis verdowingsmiddel vir warmbloedige diere tot op die milligram uitgewerk, maar ongelukkig is dit totaal onvoorspelbaar wanneer dit kom by koudbloediges. Tweedens het 'n krokodil die vermoeë om leweloos voor te kom, net om die volgende oomblik met verbysterende vaart toe te slaan.

"Die veearts spuit hom toe met so 'n langafstand spuit deur die tralies, en na 'n halfuur lyk dit of hy slaap. Nou moet sy bek toe gebind word, maar hulle benodig 'n vrywilliger om 'n nat handdoekie oor sy oë te gooi, op sy nek te gaan sit en sy kake vas te gryp. Soos julle weet, het 'n krokodil 'n baie kragtige byt-aksie, maar die oopmaak-aksie is maar power. Die hoof van die sentrum was 'n ongenaakbare man met 'n bleskop. 'n Regte sadis. Aangesien ek die enigste student was, benoem hy my toe as vrywilliger.

"Die veearts gee die krokodil toe nog so 'n paar steke met die stok in die wond, maar toe is hy leweloos. Ek voel toe heel gerus, en gaan sit die handdoekie mooi oor sy oë, en klim op sy nek. Toe ek sy kake vasgryp, kry daai gedierte lewe! Kort-kort swiep sy stert hier by my ore verby, maar ek klou! Almal skreeu en gee raad, en terwyl ek my lyf rodeo kampioen hou, spuit die veearts nog 'n dosis.

"Die ergste was dat ou Bleskop op 'n afstand gestaan en lag het dat die trane rol - nog erger was die stank, nie net vanuit die krokodil se bek of die wond nie, maar ook van sy fesies. Het julle dit al geruik?"

"Jy bedoel stront?" vra vriend Hay half onsimpatiek.

"Ja, dis wat ek bedoel", gaan Maccie voort, "dit was baie erg! Ek het sit en planne beraam hoe ek ou Bleskop te lyf sal gaan wanneer die nagmerrie oor is. Maar toe gebeur die mooiste ding wat ek in my lewe gesien het. Op daai stadium het die krokodil al 'n hele paar strontbolle op die sementvloer gelos. Toe hy een keer weer so swiep met sy stert, toe skep hy een van hulle - binne-in ou Bleskop se gesig!

Ek het gedink dis poetic justice, en dis hoekom ek van krokodille hou!"


[ENGLISH SUMMARY: Maccie tells the guys how it came about that he became a crocodile expert. As a student he was doing practical work with the Natal Parks Board Croc Research Centre when an injured croc was brought in. It had a large stinking wound in one side, and was obviously very aggressive, so they called the Parks Board's vet in. He decided that the croc should be tranquilised before treatment could commence, and injected the croc with a syringe on a long stick.
The problem, according to Maccie, was that the effectiveness of tranquilisers in coldblooded animals is highly unpredictable. In addition, crocs can appear lifeless while still fully awake. However, after half an hour the croc appeared to be fast asleep.
At that point they needed a volunteer to cover the croc's eyes with a wet towel, sit on it's neck and grab it's jaws, thus enabling someone else to tie the jaws together. The manager of the centre, a bald, sadistic type of guy, nominated Maccie for the job.
When he grabbed the jaws, the croc came to life, and started swiping with it's tail at Maccie, narrowly missing every time. The vet quickly injected more tranquiliser. While Maccie struggled to stay on board, he noticed how the bald guy was thorougly enjoying his predicament. Also, the smell was very bad, not only from the croc's mouth and wound, but also from the croc faecies that was lying around.
Minutes later Maccie noticed with great enjoyment that the croc has scooped up some of the faecies with it's tail, straight into the face of the bald guy!]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!