kremetart1.jpg



AANSTAP, SLAKKE!


No.41(19/11/1999)

"Ek sien julle is al weer besig om daai bleddie goed gaar te maak," sê Nick Smith, terwyl ek knoffelvlokkies oor die braaiende swart sampioene strooi langs die Hardekoolvuur by die Olifants.

"Ou Nick, jy weet nie wat lekker is nie!" sê ek.

"Kyk, ek is bang vir doodgaan, en julle weet my vrou het my een keer die skrik op die lyf gejaag met daai goed. Maar hoe weet julle die ou wat daai goed loop pluk het, het nie giftiges in die veld gepluk nie?"

"Aag, ou Nick, hulle kweek mos die goed, en teen dié tyd weet ons mos nou al hoe lyk die regtes," lig vriend John hom in.

"Ja, en as ons siek word, het ons mos darem vir Dok Sarel byderhand," sê Jongeling Dunn, terwyl Mortier die blikbekers optop. "Maar sê my, is daar nog goed wat ons eet, waarvan jy nie hou nie?"

"Ja, olywe en slakke. Olywe kan ek nog so half en half verstaan, hoewel hulle vir my maar suur en frankerig proe. Maar slakke! Ek kan my nie voorstel dat julle vrouens julle kan soen as julle daai slymerige goed geëet het nie!"

"Jy weet regtig nie wat lekker is nie, Nick", sê vriend Hay.

"Van soen gepraat," sê Mortier, en vat 'n diep teug uit die afgesaagde mortierdop wat hy as drinkbeker gebruik, "toe ek presies 'n maand getroud was, sê ek die oggend vir my vrou sy moenie daai aand kos maak nie, want ek gaan haar 'n bietjie bederf. Die aand toe ek by die huis kom, sit sy uitgevat in 'n swart nommertjie wat my gedagtes op loop jaag.

'Waar gaan ons eet?' vra sy."

"Ek verduidelik dat ek eintlik beplan het om self vir ons iets te maak, en verneem waarin sy sou belangstel.

'Slakke', sê sy."

"Toe het ek 'n helse probleem, want ons het nie slakke nie, en ek het net 'n week van tevore pille uitgegooi om die in die tuin dood te kry. Toe sê ek ek sal gou by Da Cavallo by die kafee gaan kry."

"Ek stap toe sommer gou kafee toe, en my geluk is in, want Cavvo het hordes van die goed, wat hy besig is om koolblare te voer. Ek koop twee dosyn en hy sit hulle mooi vir my in 'n kleinerige boksie."

"Op pad terug stap ek by die polisie kantien verby, en ek hoor dit gaan jolig daar. Dit herinner my toe mos aan my losloop dae, en ek besef dat ek my pelle nogal mis. Aangesien dit toe nog vroeg is, besluit ek om gou 'n vinnige een saam met die manne te gaan drink."

"Nou ja, julle weet hoe dit gaan, ek haak toe lelik vas daar, en ons raak goed aan die kuier. Julle weet hoe maak drank - halftwaalf kruis die swart nommertjie mos weer my gedagtes, en ek besef ek het moeilikheid. Ek gryp die boksie en sit af huis toe, maar dit gaan moeilik, want met die dat ek vir 'n maand uit oefening was, is ek 'n bietjie onvas op my voete."

"Toe ek die trappies na die voordeur toe opstrompel, haak my voet aan die laaste een, en ek laat val die boks slakke, wat nou die wêreld vol gesaai lê. Op daai oomblik maak my vrou die deur oop, en kom staan so half wydsbeen voor my.

Toe sê ek: 'Aanstap slakkies, aanstap, ons is amper by die huis'!"


[ENGLISH SUMMARY: Mortier tells the guys how he, after one month of married life decided to treat his wife by preparing supper for them. On his arrival at home that evening, she requested snails. Since they didn't have any snails, he ran down to the cafe to buy some. As luck would have it, he managed to get 24 live snails, which he took home in a small box. On his way back he passed the police pub, and realised how much he was missing his friends. He decided to go and have a quick drink with them. Predictably he became stuck, and only much later realised that his wife was still waiting for her meal. In his state of insobriety he hurried home.
As he walked up the steps to the front door, he tripped, dropping the box, and scattering the snails in all directions. At that moment his wife opened the front door, and Mortier said: 'Walkies, snails, we're almost home.'!]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!