HOENDERBOUDE!
No.42 (8/1/2000)
"Braai jy nooit iets anders as skaaptjops nie?" vra vriend Hay terwyl
hy 'n klomp hoenderdye op die rooster pak by die Hardekoolvuur langs die
Olifants.
"Nee, my ou maat, miskien nog 'n stukkie styk, maar daar is drie goed
waarmee ek nie bodder nie - vark, hoender en wildemakou," lig ek hom in
terwyl 'n kwêvoël sit en alarmroep in 'n knoppiesdoring.
"Nou wat is fout met jou?" vra Jongeling Dunn, op 'n manier wat my laat
voel of ek voor die WVK verskyn.
"Jongeling, dis vir my duidelik dat jy nog nooit by was as 'n vark
geslag word nie. Het jy al gehoor hoe skree hy? Wat my betref is 'n
vark hoogs intelligent om so 'n bohaai vir sy lewe op te skop. Ek en jy
sou sekerlik dieselfde gedoen het," verduidelik ek.
"Jy miskien, maar nie Jongeling nie," kry Dok Sarel sy gebruiklike
hou in.
"Hoenders is nou nie heeltemal so intelligent soos varke nie, maar het
jy al gesien hoe hardloop hy sonder 'n kop rond met bloed wat in alle
rigtings spuit as jy hom slag? Nee dankie, gee my liewer 'n skaap, wat
sonder boe of ba hom onderwerp aan die slagtersmes," voltooi ek die
prentjie.
"Wat van kalkoen?" verneem Ouboet Dunn.
"Die Amerikaners is mal om daai taai, droë goed vir te slag,"
sê ek, "dan kan jy net sowel jou hand waag aan wildemakou, en julle weet
seker hoe taai hý is. Nee, dan eet ek liewer so nou en dan hoender."
"My ouma op Hartenbos is baie lief vir hoender," sê vriend John. "Verlede
jaar hoor sy so 'n week na Nuwejaar die supermark verkoop die oorblywende
Kersfees voorraad uit teen halfprys, en synde iemand wat nou nie juis 'n
winskoop kan weerstaan nie, breek sy omtrent haar bene om by die winkel
uit te kom."
"Maar dis toe nou nie 'n baie mooi gesig wat sy aantref by die halfprys
yskaste nie," gaan vriend John voort. "Daai hoenders lê in so 'n bloederige
watertjie, en die stukke plastiek waarin hulle toegedraai was, is ook meestal
al af en dryf saam daar rond. Die gesig staan ouma nie juis aan nie, en sy
besluit om dit liewers te los. Maar dan oorval die versoeking van 'n winskoop
haar weer, dan stap sy weer nader."
" 'n Hele paar keer het sy so geheen-en-weer, en toe besluit sy om
individuele kwaliteitstoetsing op die hoenders te doen. Een vir een vat sy
hulle toe aan die agterbeentjies, trek hulle so 'n bietjie oop, en snuif
hulle soos 'n ou wat besig is om 'n wyn se boeket met die neus te toets. Die
klank wat uit die hoenders uitslaan laat haar maag sulke draaie maak, maar
ouma gee nie moed op nie. Een vir een gaan sy hulle so deur, maar haar
teleurstelling word net groter, want die resultaat is elke keer dieselfde.
Later gee sy finaal moed op, en stap erg teleurgesteld weg."
"Op 'n afstand het een van ons Kaapse broers die spulletjie die hele tyd
gestaan en dophou, en toe Ouma verby kom, vra hy:
'Bie fêr mêrrem! Sou djy daai test gepaas het?'!"
[ENGLISH SUMMARY: Friend John tells the guys about his grandmother
that went to buy chicken on a halfprice sale at her supermarket. On arrival
she found the chickens not quite in prime condition, lying in a thin layer
of bloodstained water, with the wrappings off as well. She wasn't impressed,
but couldn't resist the bargain price, and decided to apply her own method
of testing - taking each individual chicken by the legs, pulling them
slightly apart, and sniffing them. Although this revealed some more horrors,
she kept going. From a distance a man was watching her with interest,
and after a while walked up to her, saying, 'Be fair, maddam! Would you
have passed that test?'!]