Wat is in 'n NAAM?!
No.43 (22/1/2000)
"Wat dwaal jy so rond?" vra ek vir vriend Hay, waar ons ander om die
Hardekoolvuur by die Olifants sit. "Jy lyk kompleet soos een van Sollie se
Brahmane met hartswater!"
"My kar se bleddie sleutels is weg!" sê vriend Hay vies.
"Man, kom sit rustig en drink 'n wyntjie saam met ons, dit sal jou
nou-nou byval waar jy hulle neergesit het," sê vriend John.
"Nee, ek sal eerder 'n bier drink. Mortier, bring vir my 'n bier saam!"
skree hy. Mortier kom aangestap met 'n groot glimlag op sy gesig, die bier
in die een hand, en vriend Hay se sleutels in die ander.
"Waar kry jy hulle?" vra vriend Hay verlig.
"In jou koelerboks!" sê Mortier, en ons skater van die lag.
"Ja-nee, dis swaar as 'n mens seniel raak!" sê Jongeling Dunn.
"Seniliteit is 'n ongemaklike ding," sê Dok Sarel toe ons almal tot
bedaring gekom het. "Die ander dag moes ek gaan besoek aflê by Oom Kerneels
van Eeden by die ouetehuis. Hy vertel my toe dat hy 'n rukkie van tevore by
sy kinders in Pretoria gaan kuier het, en dat hulle by so 'n wonderlike
restaurant gaan eet het. As ek ooit in Pretoria kom, moet ek ook daar gaan
eet."
"Ek vra hom toe na die naam van die restaurant. Nee, hy kan nie so
onmiddellik onthou nie, maar dit sal hom nou-nou byval. Intussen vertel hy
verder van die wonderlike kos wat hy geëet het, en ek moet sekerlik dit ook
gaan probeer. Ek verneem weer na die naam.
`Wat is die naam van daai mooi blomme nou weer, Dok?' vra hy.
`Angeliere?' bied ek aan, maar dis nie dit nie. Intussen vertel hy my
van die nagereg wat hulle geëet het.
`Dahlia?' probeer ek na 'n ruk weer. Ook nie. Nou vertel hy van die
heerlike koffie.
`Wat van 'n roos?' vra ek. Ja, roos is waarna hy soek, maar nou vertel
hy eers van die lekker sjokolade peppermente wat hulle gekry het.
`Wat is daai blom se naam op Engels?' vra hy later.
`Rose', sê ek, terwyl dit lyk of daar skielik 'n lig vir hom
opgegaan het. Toe skree hy vir sy vrou:
`Rose, kom vertel gou vir Dok die naam van daai restaurant waar ons
gaan eet het.'!"
[ENGLISH SUMMARY: The discussion around the fire deals with
the problems of senility. Doc Sarel tells the guys about a recent visit to
an elderly patient, who very keenly told him about a very good restaurant
which he visited a while ago. The food was excellent, and Doc should
definately pay a visit as well. Doc enquired about the name of the
restaurant, but he couldn't remember, and continued telling about the nice
food they had. After further enquiry about the name, the patient asked him
to name a very sweet smelling flower. When he mentioned 'rose', the man
shouted for his wife: 'Rose, come tell Doc the name of that restaurant.'!]