OOM NOAGKO raak HIDROFOBIES!
No.44 (11/2/2000)
"Ek sê vir julle hier kom moeilikheid!" sê Jongeling Dunn waar ons
langs die Hardekoolvuur by die Olifants sit. 'n Siedende Olifants, bygesê,
want die Laeveld beleef die afgelope week ongekende en ongehoorde aanhoudende reën, en al die riviere is in vloed. Onder dié moeilike omstandighede is ons
baie trots op onsself dat ons ons weeklikse afspraak langs die vuur kon nakom.
"Watse moeilikheid?" wil vriend Hay weet, terwyl hy die blikbekers optop.
"Moeilikheid soos dat ons die naweek hier gaan vasreën", sê Jongeling.
"Dit kan nogal pret wees", sê sy Ouboet, "maar ongelukkig is hier nie groot riviere wat ons moet deur terug huis toe nie."
"Jy't nie 'n groot rivier nodig nie", sê Jongeling. "Kyk watse ou obskure spruitjie het laas week veroorsaak dat die pad tussen Louis Trichardt en Messina gesluit moes word - niemand het nog ooit voorheen water in hóm gesien nie. As dieselfde met die Kwêvoëlspruit hier agter gebeur, dan sit ons."
"Jy weet, Jongeling, vandat jy die eienaar van 'n konstruksiebesigheid geword het, is jy gans te vernaam na my sin", sê vriend Hay. "Jy het mos 'n selfoon by jou - as dit dan nou moet, dan kán jy mos instruksies gee!"
"Dís nie die moeilikheid waaraan ek dink nie", sê Jongeling. "Maar het jy al gedink wat ons gaan drink as ons vir 'n week hier moet sit?!"
"Wragtag, Jongeling", sê vriend Hay, "soms is jy slimmer as wat jy lyk!"
"So, wat gaan ons maak in so 'n geval?" vra Dok Sarel bekommerd.
"Vriend John is mos die bevelvoerder van die kommando", sê ek. "Ek is seker in 'n noodgeval sal hy 'n helikopter kan reël om noodvoorrade vir ons te kom aflaai." Vriend John knik instemmend, almal ontspan ooglopend, en skenk sommer onmiddellik meer aandag aan die respektiewelik stygende en dalende vlakke van die Olifants en die blikbekers.
"Kyk hoe klou kees se kind!" sê vriend John, en beduie na die rivier.
"Ja, dis net jammer die trosvy waarin hy sit is saam met hom op pad Mosambiek toe!" sê ek, terwyl die massiewe boom met bobbejaan en al rivier af dryf.
"Ja, dis amper so tragies soos die storie van oom Noagko Vannerberg van Trichardtsdal", sê Hansman.
"Wat, is hy dood?" vra vriend Hay.
"Ons is self nie seker nie", sê Hansman. "Oom Noagko het mos koekoes geraak - van al die reën die afgelope tyd, vermoed ons. Toe Hermaans Pieters na drie dae se reën by hom op sy wildsplaas aankom, het oom Noagko mos 'n vlot gebou van die houtkratte waarin hulle die wild vervoer veilings toe. Op daai stadium is hy toe besig om al die wild op sy 5 000 hektaar plaas in die kratte te laai. Hy reken Hermaans die babers in die Selatirivier het versuip voordat hy die kiefnette kon span! Ewenwil, hy's klaar met die Laeveld met sy alewige reën, hy trek oor twee dae.
"Toe die laaste kameelperd en renoster twee dae later gelaai is, het oom Noagko se werkers hom met 'n stootjie in die vol Selati ingehelp. Soos julle weet, is die Selati normaalweg 'n verskoning vir 'n rivier, maar op die stadium toe oom Noagko hom betree het, was hy die oorsaak dat die pad tussen Gravelotte en Phalaborwa gesluit was.
"Wat almal laat besef het dat oom Noagko nie mooi by is nie, was toe hy met die vaart rivier af almal gewaarsku het dat daar nog 35 dae en nagte se reën voorlê. Oom Noagko het die laaste keer met mense by Letaba ruskamp in die wildtuin gepraat, net voor hy oor die grens is Mosambiek toe. Vir hulle het hy gesê hy gaan iewers in die Indiese oseaan van voor af begin, deur met kraaie, duiwe, olywe, en uiteindelik, wingerd te boer - op 'n plek met die naam Ararat!"
"Dok, wat sê jy van dié liegstorie?" vra Jongeling.
"Ek sê dis die ergste geval van hidrofobie sedert oorlede Martiens Bekker deur die dol meerkat gebyt is!"
[ENGLISH SUMMARY:The Lowveld region is being ravaged by floods after days of constant heavy rains, and Hansman tells the guys about the tragic case of Oom Noagko Vannerberg of Trichardtsdal that went off his rocker - presumably from witnessing all the water.
On the third day of raining his neighbour caught him in the process of building a raft from wooden crates that are normally used for the transport of game. Oom Noagko informed him that he was moving off to start anew somewhere else, and he was taking all the game on his 5 000 hectare farm with him. Unfortunately the barbel in the Selati river drowned before he could set the nets!
After two days he managed to load the last giraffe and rhinoceros on the raft, and his employees gently pushed them into the flooded Selati. What confirmed that oom Noagko wasn't all there, was the fact that he warned everyone down the river that another 35 days and nights of constant rain were lying ahead. The last time he spoke to anyone, was just before he entered into Moçambique, when he told people at Letaba restcamp in the Kruger Park that he will make a new beginning somewhere in the Indian ocean. There he will farm with crows, doves, olives, and eventually, wine, at a place called Ararat. Certainly the worst case of hydrophobia in this neck of the woods for a long time!]