Die GEJUIG op die PAWILJOEN!
No.45(25/2/2000)
"Nou vir wat lyk jy so bedruk, vandag?" vra ek, waar ons om die
Hardekoolvuur by die Olifants sit. 'n Groenvlekduifie in die knoppiesdoring
eggo vriend Hay se gemoedstemming.
"Man, my dogter gaan volgende jaar hoërskool toe, en soos jy weet, is
daar nie 'n hoërskool op Hoedspruit nie. Nou moet sy daar na julle toe en
in die koshuis gaan bly," sê vriend Hay.
"Maar koshuislewe is darem nie so erg dat jy jou nou al daaroor moet
verknies nie," probeer ek hom gerusstel.
"Nee, dis nie dit nie. Ek hoor die ander dag dat van die seuns in die
nag uitgesluip het, en by die meisieskoshuis gaan kuier het. Dit maak 'n ou
bekommerd."
"Dis 'n bleddie skande, hulle behoort geskors te word!" sê Jongeling
Dunn hoogheilig.
"Wag nou, wag nou. Die saak is deeglik ondersoek, en dit was sommer
kwajongstreke. Dit was niks meer as koekies eet en koeldrank drink nie,"
probeer vriend John hom gerusstel.
"Ek hoor wat jy sê, maar 'n ou bly maar bekommerd, koekies eet of te
not."
"Veral koekies eet, né vriend Hay!" gooi Jongeling nog olie op die
vuur.
"Jongeling, stop jou lawwigheid!" vermaan Dok Sarel hom. "Vriend John
is reg, kinders sal altyd kinders bly. Destyds op Vanrhynsdorp het ons ook
so 'n spektakel met koshuiskinders gehad." Hy vat 'n diep teug aan sy whisky
om aan te toon dat dit 'n lang storie gaan wees.
"Die koshuiskinders was mos verplig om elke kerkdiens by te woon, oggend,
aand, biduur, pinkster, biddag vir reën, en soms selfs begrafnisse ook. Vroeg
een jaar besluit hulle toe om 'n krieket wedstryd te reël. Van hulle posisie
op die gallery kon hulle dominee se elke beweging sien."
"Die ding werk toe heel eenvoudig. As dominee sy bril met sy voorvinger
terugdruk, is dit een lopie, as hy aan sy oor vat, twee. Sou hy die kateder
met albei hande vasvat, is dit drie, en as hy met 'n uitgestrekte arm voor
hom beduie, vier. Twee arms omhoog is 'n ses, en as hy met sy wysvinger voor
hom beduie, is die kolwer uit. Hulle kies toe twee spanne, die Gompoue en
Korhane. Twee standerd sessies moet telling hou agter in die psalm-en-gesange
boek. Elke Sondag hou een van hulle kerkgeld terug, wat gebruik sal word vir
prysgeld aan die wenspan."
"Die wedstryd strek toe oor verskeie kerkdienste, en soos die jaar aanstap,
begin die spanning opbou. Die laaste Sondag van die jaar begin dinge na 'n
punt beweeg. Die Gompoue kort 30 lopies, met nog 4 paaltjies staande. Met
dominee se gewoontetjies behoort hulle dit sonder enige probleme te maak. Met
die beginslag vat hy die kateder met twee hande, en hulle kort 27. Nadat hy
gebid het, steek hy albei arms in die lug, en spreek die seëngroet uit. Nog
21. Maar dominee is in 'n moeilike bui. Hy beduie met sy wysvinger na die
gemeente, nog 3 paaltjies staande. 'Julle laat Gods water oor Gods akker
loop' sê hy, en beduie met 'n uitgestrekte arm voor hom - nog 4 lopies. 'Maar
julle is sondaars!' en hy beduie weer met sy wysvinger. Nou bly daar net twee
paaltjies oor. Intussen preek dominee vurig, en vat so nou en dan aan sy oor,
en stoot sy bril terug. 'Maar ek sê, bekeer julle!' en hy beduie weer met die
wysvinger. Net een paaltjie oor en die Gompoue kort nog 9 lopies, met Vaatjie
Malan wat moet kolf. Dominee drink eers 'n bietjie water." Dok vat self eers
weer 'n sluk van die whisky.
"Vaatjie was nie veel van 'n kolwer nie en hy't self agterna vertel dat
hy tydens dominee se waterbreek 'n ernstige skietgebed opgesê het. Of dit
gehelp het, en of dominee hom maar net op daardie stadium oor die gepynigde
klomp skape voor hom ontferm het, weet niemand nie, maar toe hy klaar gedrink
het, vat hy die kateder voor hom vas - 6 lopies kort. Hy kyk lank na die beteurde lot voor
hom. Op die gallery is die spanning by breekpunt. Toe steek dominee albei arms
in die lug, en sê 'My broeder en suster...'. Hy het nie veel verder as dit
gekom nie, want met daardie 6 bars daar 'n oorverdowende lawaai op die galery los soos
wat die kinders juig, en 'Gompoue!' skree."
"Dominee het agterna gesê dat hy bly is die jeug leef hulle so in in sy
preke, maar het ernstige bedenkinge gehad oor die charismatiese neiging wat
begin kop uitsteek!"
[ENGLISH SUMMARY: Doc Sarel tells the guys about the time the
hostel children of Vanrhynsdorp decided to play cricket during church
services. They've picked two teams, and devised a very simple set of rules. When
the reverend pushed his glasses back with his finger, it would be one run,
whilst touching his ear would be two. Grasping the cathedra was three runs,
moving an outstretced arm four. Both arms in the air was a six, and
pointing with his index finger was out. Score was kept in the back of a
hymnbook.
The match was played over several church services, and with the last Sunday
of the school year the Kory Bustards needed 30 runs to win, with 4 wickets in
hand. The reverend came in and grasped the pulpit, which left them with 27
runs. Then he prayed with both arms in the air - 21 runs needed. But the
reverend was in a serious mood, and pointed with his finger to the
congregation - 3 wickets in hand. 'You allow things to take their own course'
he said with an outstretced arm waving, another 4 runs. In between he pushed his
glasses back and touched his ear on a few occasions. 'But sin has got hold of
you!' he continued, pointing with his finger, leaving only 2 wickets standing. 'You
will have to convert!', pointing again, leaving only the last wicket, with 9
runs needed. At that point he decided to take a sip of water. On the gallery
the tension was palpable.
Then the reverend grabbed the cathedra - 6 runs short. He looked
at his congregation intendly, then lifted both arms and said 'My brother and
sister...'. No-one could hear what he was saying next, because of an
overwhelming noise that erupted from the gallery with the scoring of those 6 runs!]