Hoed in die Hand!
No.46 (31/3/2000)
"Ek sien julle vrees nie krokodille nie!" sê ek waar ons langs die
Hardekoolvuur by die Olifants sit.
"Ons vrees, maar ons het so warm gekry, dat ons besluit het ons gaan
vandag in elk geval dood, en as ons dan moet gaan, kan dit net so goed deur
'n krokodil wees," sê Hansman dapper, terwyl sy en Jongeling Dunn se hare
drup van die water.
"Het julle sommer so sonder klere geswem?" wil vriend John weet.
"Natuurlik!" sê Jongeling, "ons is mos jonk en robuust, en hier is mos
nou nie eintlik spesies wat sal wil loer nie."
"Ek weet nou nie juis van die robuust gedeelte nie, maar die risiko dat
'n krokodil, of selfs 'n barber, jou kan byt waar jy nie graag gebyt wil
wees nie, word aansienlik verhoog met so 'n kaalswemmery," sê ek.
"Wat sekerlik nou nie juis op Jongeling van toepassing is nie!" voeg
vriend Hay by.
"Ek het eenkeer kaal in die see geswem," skok Dok Sarel ons.
"Seker by Clifton in Desembermaand, Dok!" terg Jongeling.
"Nee, by Rocktail Bay, aan die Zoeloelandse kus, Jongeling. Ek was een
Februarie daar om te gaan kyk hoe die seeskilpaaie kom eiers lê. Toe stap ek
een oggend baie vroeg stoksiel alleen op die strand. Na 'n lang stap het ek
'n goeie sweet opgewerk, en aangesien daar niemand anders in sig was nie, het
ek besluit om gou 'n bietjie te gaan afkoel," sê Dok, terwyl hy aan sy whisky
teug.
"Ek was 'n hele ent die branders in, toe 'n groepie Zoeloe kinders uit
die duine uit kom, en my klere gryp wat op 'n hopie op die strand gelê het.
Ek skree, maar hulle hardloop terug duine toe. Laat val darem my hoedjie.
Toe swem ek maar uit, en bedek die nodigste met die hoedjie, terwyl ek erg
verleë terug stap na die vakansie oord toe."
"Toe ek so met die paadjie tussen die duine deur stap, kom daar skielik
'n vroumens om die draai van voor af. Sy's by my nog voor ek agter 'n bos
kan induik, en tot my groot verleentheid is dit toe Mevrou Dominee! Sy stop
en groet vriendelik, terwyl sy uit haar maag uit lag," sê Dok verleë.
"Wat maak jy toe, Dok?" kan Hansman sy nuuskierigheid nie beteuel nie.
"Wel, ek groet toe maar beleefd terug, maar berispe haar terselfdertyd.
Ek sê vir haar dis erg onbetaamlik vir 'n dame, boonop 'n predikantsvrou, om
te lag vir iemand in my penarie."
"Wat sê sy toe, Dok?" wil Hansman weet.
"Sy sê dis uiters ongeskik van 'n heer, veral 'n dokter, om 'n dame te
groet sonder om sy hoed te lig!"
[ENGLISH SUMMARY:Dok Sarel tells the guys of the time he went
skinny dipping on a lonely beach on the Zululand coast. A number of Zulu
children came past, and took his clothes, dropping his hat as they ran away.
Highly embarressed, he covered the bare essentials with his hat, and walked
back to the lodge. On the dune path he bumped into the wife of his
reverend! She greeted him in a friendly manner, but couldn't stop laughing.
Dok greeted in similar manner, but started castigating her for laughing at
someone in his predicament, telling her that it is unbecoming for a lady. She
responded by saying that it is highly unbecoming for a gentleman to greet a
lady without lifting his hat!]