EKSAMENVREES?!
No. 48 (26/5/2000)
"Nou vir wat lyk jy so bekommerd vanaand?" vra vriend John waar ons langs
die Hardekoolvuur by die Olifants sit.
"Ag, ek dink sommer aan my meisiekinders wat besig is met eksamen," sê
vriend Hay, " 'n ouer is mos maar bekommerd in sulke tye."
"Veral as die pa belangrike verpligtinge het om na te kom, en nie kan
toesig hou oor hulle studies nie!" sê Jongeling Dunn, terwyl hy vriend Hay se
blikbeker optop.
"Jongeling, jy moet liewer stilbly. Jy het net 'n idee wat die moderne
vader deurmaak nie. Veral as hy net dogters het. Dis 'n groot
verantwoordelikheid, maar ek begryp heeltemal dat jy nie weet wat dít beteken
nie," kap vriend Hay terug.
"Eksamentyd bly maar 'n senutergende ondervinding," sê Dok Sarel terwyl
hy senuweeagtig 'n sigaret opsteek, "ek word nou nog snags wakker van 'n
eksamen nagmerrie."
"Maar Dok, 'n slim man soos jy het darem seker nie probleme met eksamens
gehad nie," swaai Jongeling hom lof toe.
"Dankie vir die kompliment, Jongeling, maar op mediese skool het dit nie
oor slim of dom gegaan nie. Harde werk, insig, en dink op jou voete, was die
wagwoorde," lig Dok ons in, terwyl hy teug aan sy whisky.
"Wat julle moet verstaan, is dat ons eksamens nie maar net 'n klomp
geskrewe vraestelle was nie. Nee, manne, praktiese en mondelingse eksamens was
die in dinge. Veral laasgenoemde - om die een of ander rede het hulle gedink
'n dokter moet kan kommunikeer. En dis waar die moeilikheid gelê het, veral
as 'n ou nie wou of kon kommunikeer nie."
"Maar dit was 'n gevatte antwoord wat ou Wouter de Villiers destyds 'n
onderskeiding laat behaal het. Hy was 'n briljante voetbalspeler, wat nogal
'n slag met meisies ook gehad het. Maar hy was nie die wêreld se beste
student nie. Soos die geluk dit wou hê, beland hy met sy laaste mondeling by
Prof. Rhyn van Vuuren. Nou kyk, Prof. Rhyn was mal oor voetbal, en dit was 'n
ope geheim dat 'n voetbalspeler nie sommer by hom sou pluk nie." Dok vat nog
'n paar trekke aan sy sigaret.
"In elk geval, ou Wouter moet toe 'n pasiënt ondersoek met longontsteking.
Toe vat Prof. Rhyn hom onder kruisverhoor. Met baie moeite, wenke, aanporring
en so aan, kon hy ou Wouter so vêr kry dat hy by die diagnose van
longontsteking uit kom. Hierop het Prof. Rhyn 'n uitroep van 'Pragtig!' gegee.
Toe begin hulle praat oor die behandeling. Wouter het nie veel moeite gehad om
antibiotika voor te stel nie. Hy het selfs geweet dat penisillien die middel
van keuse was, en Prof. Rhynn was hoogs in sy skik. Die feit dat die pasiënt
'n duidelik gemerkte drup met antibiotika daarin opgehad het, was volgens
Wouter, en blykbaar Prof. Rhyn ook, glad nie ter sprake nie."
"Op dié punt begin druk Prof. Rhyn toe vir Wouter vir 'n onderskeiding.
Nadat Wouter so briljant penisillien voorgestel het, vra Prof Rhyn:
'Dosis?'
Waarop Wouter met die onderskeiding verdienende antwoord vorendag kom:
'Koning, Prof.'!"
[ENGLISH SUMMARY:Sorry, this story does not have an English
translation!]