DIRKIE en GOLIAT!
No 49 (30/6/200)
"Magtag, maar dis indrukwekkend!" sê vriend John waar ons langs 'n twee
meter hoë miershoop by die Olifants staan.
"Baie!" sê ek. "Dis amper ongelooflik dat sulke klein diertjies so 'n
massiewe struktuur kan bou."
"Watse bos groei hier eenkant uit hom uit?" vra vriend John.
"Dis 'n rosyntjiebos," sê ek, "maar ek stoei al jare met die vraag oor
wat eerste was, die miershoop of die bos. As jy mooi kyk, sal jy sien dat
daar heel dikwels 'n bos of boom uit so 'n miershoop groei. Niemand kon tot
dusver vir my die vraag bevredigend beantwoord nie, maar die moontlikheid
bestaan dat die oorspronklike nes onder die bos begin is, en geleidelik om
hom gebou is."
"En dié gat, Sollie?" vra Dok Sarel, en beduie na 'n yslike wond aan die
kant van miershoop.
"Olifant,"sê Sollie. "Hy't die rosyntjiebos kom vreet en toe die nes
stukkend getrap." Toe eers let ons die gebreekte takke en spore op die grond
op. Ons verwonder ons nog vir 'n rukkie aan die termiete se ywer waar hulle
spook om die gat in die nes te herstel voor ons aanstap.
"Waar was julle so lank?" vra Jongeling Dunn toe ons later by die
Hardekoolvuur aansluit.
"Die siel van die mier bestudeer, Jongeling," sê Dok terwyl hy teug aan
sy whisky.
"Wat vir 'n bleddie ding is dit?" vra Jongeling met 'n frons op sy
voorkop.
"Dis 'n moeilike begrip om vir jóu te verduidelik, Jongeling, maar dit
kom kortliks daarop neer dat die termietkolonie optree soos 'n enkele
organisme, soos Eugene Marais ons jare gelede vertel het. Maar ek sal dit vir
jou aan die hand van 'n storie meer duidelik probeer maak."
"Hierdie betrokke rysmierkolonie het 'n knaende probleem gehad met 'n
olifant wat elke dag op pad water toe hulle nes beskadig het. Toe op 'n dag
roep Koning rysmier die hele nes bymekaar, en verklaar dat hulle 'n plan moet
maak om Olifant op sy plek te sit.
'Ons moet hom konfronteer en uitdaag tot 'n tweegeveg,' sê een van Koning
rysmier se hoofraadgewers onder groot gelag van die hele nes.
'Dis nie so 'n slegte voorstel nie,' sê Koning rysmier, 'as Dawid dit met
Goliat kon doen, kan ons ook. Wie is ons dapperste vegter?'
'Dirkie!' skree die nes soos een man.
Koning rysmier roep toe vir Dirkie vorentoe, en gee opdrag dat hy die
volgende môre Olifant moet voorlê en met hom klaarspeel. Vir Dirkie was dit
'n lang nag, maar hy het groot inspirasie daaruit geput toe die hele nes se
rysmiere op 'n afstand kom kyk het hoe hy sy lokval opstel.
Toe die aarde onder hulle begin bewe, het daar 'n gemeenskaplike rilling
langs die rysmiere se ruggrate afgegaan. Toe verskyn Olifant in die bospaadjie, en alle oë is op Dirkie gerig waar hy agter 'n haak-en-steek skuil.
Toe Olifant binne trefafstand kom, bult Dirkie sy spiere en spring tot op
Olifant se voorpoot. Behendig klim hy teen Olifant se voorbeen op, tot by sy
nek. Toe Dirkie sy kake in Olifant se nek inslaan, skree die skare opgewonde:
'Dis reg, Dirkie, wurg hom! Wurg hom!'
[ENGLISH SUMMARY:Doc Sarel tells a tale of a termite colony
that had a problem with an elephant who damaged their anthill daily on his
way to the waterhole. King termite summoned all his subjects and declared
that a plan should be devised to deal with Elephant once and for all. One of
his advisors suggested that Elephant should be challenged to a duel. King
termite was impressed with the proposal, and called their bravest warrior,
Dirkie, forward and instructed him to sort Elephant out the next morning.
Understandably, it was a long night for poor old Dirkie, but he took
heart when the whole colony pitched up the next day to give moral support.When
the earth started shaking, a shiver ran down the backbones of each and every
termite. The next moment Elephant appeared from behind the bushes, and all
eyes were on Dirkie where he was ambushing Elephant behind a tree. When
Elephant was close enough, Dirkie jumped onto his front foot, and started
climbing his leg. When he reached Elephant's neck, Dirkie struck his
mandibles into Elephant. Upon which the whole colony shouted:
"That's right, strangle him, Dirkie, strangle him!"]